Minder klere, meer uitrustings: Só bou jy ’n kapsuleklerekas wat vir jou werk

Jou kas is propvol klere, maar tog voel dit asof jy niks het om aan te trek nie. Indien jy hierdie gevoel ken, dan is hierdie artikel spesiaal vir jou.

Die oplossing is nie noodwendig nóg inkopies nie, maar eerder ’n slim manier om jou klerekas saam te stel. Juis hierom dat die kapsuleklerekas modebeweging wêreldwyd al hoe meer gewild raak. Van stylkenners tot bekendes in die mode-industrie kies eerder ’n klerekas met minder kwaliteit stapelitems bo kwantiteit en bou daarvolgens ’n doelbewuste klerekas waar elke item bymekaar pas.

Die resultaat? Minder angstig voor jou kas staan met aantrektyd, minder impulsiewe klerekopies en soveel meer uitrustingopsies.

In hierdie artikel deel ons meer oor wat presies ’n kapsuleklerekas is, en daarby haalbare stappe om jou eie kapsuleklerekas te bymekaar te sit. Deur Justine Kroes

Wat is ’n kapsuleklerekas?

’n Kapsuleklerekas bestaan uit ’n versameling tydlose, veelsydige en gewoonlik goeie kwaliteit basiese kledingstukke wat maklik met mekaar gekombineer kan word vir eindelose uitrustingopsies.  

En nee, dit beteken nie jy mag net neutrale kleure dra of slegs net 15 kledingstukke besit nie. Inteendeel, dit gaan daaroor om doelbewus te koop en seker te maak elke nuwe item verdien sy plek in jou kas.

Die idee is eenvoudig: Jy kies ’n kleiner groep veelsydige klere items wat jou lyfvorm en leefstyl goed pas en die basis van jou klerekas vorm.

Bou so jou kapsuleklerekas, stap-vir-stap:

Stap 1: Begin deur jou huidige klerekas uit te sorteer

Voordat jy enigiets nuuts koop, kyk eers krities na wat jy reeds het.

Verdeel jou klere in vier hope:

Hou; Daardie items wat jy gereeld dra.

Bêre; Seisoenale klere, byvoorbeeld warm wintersjasse (as dit tans somer is).

Herstel; items wat dalk net ’n klein aanpassing nodig het.

Skenk of verkoop; alles wat nie meer pas of by jou leefstyl aansluit nie. Psst jy kan jou ou klere op Yaga verkoop om jou nuwe aankope te regverdig.

Hier’s wat ons geleer het: As jy ’n kledingstuk langer as twee jaar nie gedra het nie, is die kans goed dat jy dit waarskynlik nie gaan mis nie.

Stap 2: Staak vir eers enige klere aankope

Nadat jy jou kas uitgesorteer het, moet nie dadelik die winkels invaar en alles gaan koop wat jy dink jy mag nodig he nie.

Dra eers wat jy reeds het.

Jy sal vinnig agterkom watter items jy oor en oor na gryp asook waar daar werklike gapings in jou klerekas is.

Stap 3: Bou jou kapsule klerekas rondom jou lewe

’n Kapsuleklerekas is nie ’n een grootte pas almal konsep nie.

Wat vir ’n ma met drie kinders werk, gaan dalk heeltemal anders lyk as ’n kapsuleklerekas vir iemand wat elke dag kantoor toe gaan. As jy meestal van die huis af werk, baie reis of gereeld sosiale geleenthede bywoon, moet jou klerekas dit weerspieël.

Die beste kapsuleklerekas is een wat jy werklik leef.

Voordat jy begin koop, kyk na hoe jy werklik jou dae deurbring en vra jouself:

  • Wat dra ek die meeste?
  • Hoeveel dae per week trek ek formeel aan?
  • Werk ek van die huis af?
  • Het ek gemaklike klere nodig wat steeds stylvol lyk?
  • Watter tipe skoene dra ek die meeste?
  • Watter kledingstukke laat my altyd goed voel?
  • Watter items bly onaangeraak in my kas?

Jou klerekas moet nie gebou word rondom die persoon wat jy wens jy is nie.

Bou vir die lewe wat jy leef, jou kapsuleklerekas behoort jou lewe makliker te maak, nie moeiliker nie.

Stap 4: Koop stadig en met intensie

Jy hoef nie jou perfekte kapsuleklerekas in een winkelsessie te bou nie, moet dit asseblief nie doen nie.

Begin met die items wat jy die meeste nodig het en bou dit stadig op. ’n Goeie klerekas ontwikkel oor tyd.

Koopwenke:

Koop kwaliteit, die beste wat jou begroting toelaat: Jou kapsuleklerekas bestaan uit items wat jy gereeld gaan dra, daarom is goeie materiaal, items wat goed pas en afwerking ’n belegging wat “cost per wear” regverdig.

Kies materiale wat mooi verouder, soos katoen, linne, wol en leer.

Gebruik die “drie-uitrustings” toets:  voordat jy ’n nuwe item koop, vra jouself, kan ek hierdie kledingstuk op minstens drie verskillende maniere dra met dit wat ek reeds besit? Indien nie, is dit dalk ’n impulsaankoop eerder as ’n waardevolle toevoeging tot jou kapsuleklerekas.

Moenie blindelings tendense volg nie: maar jy hoef hul ook nie heeltemal uit te sluit nie. As ’n trend jou aandag trek en by jou persoonlike styl pas, omhels dit gerus. Vra vir jouself: Kan jy jouself oor twee jaar steeds hierdie item sien dra?  Indien die antwoord ja is, is dit waarskynlik ’n trend wat die moeite werd is om in te belê.

Neem fotos van wat jy het: Voordat jy winkel toe gaan, neem foto’s van jou huidige klerekas op jou selfoon. Wanneer jy ’n nuwe kledingstuk sien waarvan jy hou, vra jouself: “Kan ek dit met minstens drie items in my kas dra?” As die antwoord nee is, laat dit eerder agter.

Die stylvolste klerekaste is nie noodwendig die grootste nie, dit is dié waarin elke kledingstuk hard werk.

Stap 5: Besluit op jou styl en kleurpalet

Een van die grootste geheime van ’n suksesvolle kapsuleklerekas is dat die meeste kleure en klere saam met mekaar werk.

Begin met neutrale basiskleure soos grys, swart, wit, blou, bruine en beige. Voeg dan twee of drie aksentkleure by waarvan jy hou en kleure waarin jy goed voel. Skakerings wat tans trend sluit bottergeel, wynrooi, olyfgroen, sagte pienk en poeierblou in.

Stap 6: Items vir jou winter-kapsuleklerekas

Om jou winter-kapsuleklerekas te laat klop, sluit basiese items in waarmee jy byna enige winteruitrusting kan saamstel. Hou ook die kleurpalet van wat jy reeds besit in gedagte.

Bo-stukke/ tops & bloese

✓ Langmou t-hemp (wit, beige of gestreep)

✓ Wit (of blou) knopieshemp/ kraaghemp

✓ Sweetpaktop/ half zip crew sweater

✓ Denim hemp

✓ Netjiese bloes

Broeke, rompe, rokke

✓ Regaf gesnyde blou denims (Straight jeans)

✓ Donker denim

✓ Swart netjiese broek (dalk ’n barrel of culotte styl)

✓ Wyepyp broek

✓ Satyn midi-romp (of enige midi romp van jou keuse).

✓ Gebreide winterrok (of winter rok van jou keuse)

Baadjies, jasse & truie

✓ Wol of melton styl jas

✓ Soldatejas/ Trench coat

✓ Trui (oopknooptrui of truistyl van jou keuse van kleur/ patroon en styl)

✓ Leer- of sweedsleerbaadjie

✓ Blazer baadjie

Skoene

✓ Neutrale tekkies (wit/ beige ’n skakering wat by byna enige uitrusting sal pas).

✓ Plat paar aanglipskoene, soos balletskoene, pumps of ’n paar loafers.

✓ Jou keuse van winterstewels, kniehoogte of enkelhoogte of albei.

✓ Elegante hakskoene, (effense puntskoen wat jou been verleng is dalk ’n goeie keuse)

Bykomstighede (hierdie gaan van jou persoonlike styl afhang)

✓ Gordel

✓ Juwele

✓ Sonbrille

✓ Hoed

✓ Syserpie

✓ Neutrale handsak

Begin klein. Jy hoef nie jou hele klerekas in een naweek te verander nie. Bou dit stadig op, kies kwaliteit bo kwantiteit en onthou: die stylvolste vrou is nie noodwendig dié met die meeste klere nie, maar dié wat presies weet hoe om dit te dra.

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
Op soek na ’n nuwe skootrekenaarsak? Hier’s 11 om van te kies
error: Content is protected !!