Sukkel jy ook soggens om te weet of jy warm genoeg aangetrek is? Voel jou wintersklerekas ook vaal en vervelig? Ons het die oplossing – warm uitstaan winterjasse! Hierdie winter gaan dit oor jasse wat ’n duidelike stelling maak. Kyk uit vir helder kleure, patrone en teksture. Hier is 22 uitstaanjasse op ons mode kooplysie. Deur Justine Kroes
13/05/2022
Kleur vir uitstaanjasse
Die “Dopamine Dressing” tendens is nog lank nie verby nie (hou ons blog dop vir ’n artikel hieroor binnekort!). Daar is darem maar net iets wonderliks wat gebeur in ’n mens se gemoed wanneer jy ’n helder goedvoel skakering dra. Veral op daardie grou en grys ysige wintersdae is ‘n helder jas jou mode- wapen om teen die koue te help veg.
Helder skakerings van pienk, kelly green, blou en rooi is tans volop in die winkels. Maar as jy huiwerig is vir te helder en bont, is daar heelwat pragtige pastelskakerings ook nou beskikbaar.

Wenk: Dink mooi wat jy reeds in jou kas het en watter helder of pastel jaskleur die beste daarby sal pas. Dit help nie jy koop ten duurste ’n pragtige helder jas wat net later stof sal opgaar in jou klerekas nie.

Teddyjasse
Lieflik warm, oorgroot en so gemaklik soos ’n kombers, maar in ’n jasvorm; nou verstaan ons hoekom hierdie mode-item op almal se winterwenslysie is. Die Teddyjas is al vanaf verlede jaar ’n groot jas tendens en ons is dankbaar hy is hier om te bly.
WENK: Probeer so ver moontlik klere dra onder jou teddyjas wat jou figuur vlei, bonkig en lospassend bo-oor bonkig en lospassend sal jou groter laat lyk as wat jy werklik is. Hierdie oorgroot jasse lyk goed saam met ’n noupassende truirok, katpak of midiromp.
Patrone
Die pluspunt van ’n jas? Jy kan jou jas uittrek, en siedaar, ’n hele ander voorkoms onder aan! So hoekom dan nou nie eksperimenteer met ’n jas met patrone nie. Enigiets van kleurblok kunswerke tot luiperdmotief. Kies ’n patroon wat die beste by jou stylpersoonlikheid pas.
Wenk: Onthou om ’n patroonjas met selfvertroue te dra, ons wil hê jy moet die jas dra, die jas moet nie vir jou dra nie!
Faux fur (nagemaakte pels)
Moet nie skrik nie – dit hoef natuurlik nie die ware Jakob te wees nie. Faux fur is tans ’n groot mode trend. Kies een in ’n neutrale skakering, helder skakering of selfs een in patrone. Dink net hoe lekker warm en snoesig dit gaan wees!
Wenk: As jy huiwerig is, kies ’n jas met faux fur afwerking op die kraag en moue. Dit is meer subtiel maar maak steeds ’n stylvolle stelling.
Kraagloos
Hierdie styl is beslis vir ons ’n uitstaan jasstyl – dit lyk so klassiek en elegant met ‘n rolkraagtrui onder. Maar ook net so trendy met ’n T-hemp onderaan met denims daarby vir ’n gemaklike voorkoms.
Wenk: as jy van die Netflix reeks Anatomy of a Scandal gehou het, sal hierdie kraaglose jasvoorkoms jou inspireer.
Winter wit
Ons weet werklik nie hoe prakties hierdie trend is nie (vuil kinderhandjies en Kaapse stormweer!). Maar sjoe ’n wit of ligte room jas lyk nou maar net eenmaal stylvol en is tans groot nuus. Hierdie jaar is die trend om jou “winter white” jas by ’n monokroom uitrusting te dra. Skakerings van wit en room van kop tot tone, so sjiek!
Wenk: As jy twyfel of jy ooit ’n wit of room jas sal kan skoon hou – kyk uit vir waterdigte “trench”-styl jasse wat bedek is met waterbestande materiale wat eenvoudig kan skoonvee.
Duvet pofjasse
Ons weet nou al teen hierdie tyd – pofbaadjies en pofjasse is groot nuus hierdie seisoen. As jy graag ’n stelling wil maak maar ook super warm en gemaklik wil wees – kies die pofjasse wat amper lyk soos “duvets”. Waarlik ’n trend, en ons kan dit verstaan! Wie sal dan nou nie in yskoue weer ’n jas wil dra wat soos ’n wolkie rondom jou lyf voel nie.
Wenk: Lees gerus hier hoe om jou pofbaadjie reg te dra.