’n Ma is ’n onmisbare deel van ons almal se lewens en so veerkragtig. Hulle kan een pakkie maalvleis rek tot ‘n vyfster-ete, wonde gesond soen, hul kuikens beskerm teen baie seerkry (maar ongelukkig nie teen alles nie) en die einste kuikens laat glo hulle is arende wat die hele wêreld kan oorwin. Ma’s het oë agter hulle koppe (en daardie oë kan boonop deur mure sien!) en vir ma’s is niks wat met hulle gesin te doen het, ooit te veel moeite nie. Deur Ilze Salzwedel
Ma’s is veerkragtig
Maar ma’s is nie supervroue nie. Net gewone mense wat foute maak, moeg word, selfs soms siek word, te min tyd in ’n dag het en alles weet van te min geld en te veel maand. Maar tog bly die meeste ma’s net nooit lê nie. Hulle is, soos die Engelse sê, resilient. Al beteken dit ook hulle moet ekstra werk doen net om die wolf van die deur af te hou, of om (soos wat ons al meer deesdae om ons sien) selfs te bedel as die kinders dae laas geëet het.
Resilience, of veerkragtigheid, is veel meer as net ’n 2021-gonswoord. Dis ‘n absoluut noodsaaklike aspek van menslike oorlewing, veral in tye soos nou.
As ons spesie nie so veerkragtig was nie, was daar nie meer mense op aarde nie.
Dis tyd dat ons as vroue ons eie – en ook ons ma’s – se veerkragtigheid vier. En, ewe belangrik, dat ons daarop fokus om ons seuns en dogters veerkragtig groot te maak en ons eie en ons geliefdes se veerkragtigheid te slyp.
Is veerkragtigheid en deusettingsvermoë dieselfde?
Dalk wonder jy of veerkragtigheid en deursettingsvermoë nie maar dieselfde ding is nie. Die kort antwoord is nee. In my boek Floreer verduidelik ek die verskil: “Sielkundiges definieer veerkragtigheid as die proses om aan te pas by ’n situasie ten spyte van swaarkry, trauma, tragedie, bedreigings of stres … Deursettingsvermoë is om aan te hou, te volhard.
Veerkragtigheid is om die skerwe bymekaar te vee en op te tel, die bloed en die grond af te was, op te staan en aan te hou aanhou.”
Covid en veerkragtigheid
As daar een ding is wat ons almal in 2021 nodig het, is dit veerkragtigheid. Want almal van ons se wêrelde het verander sedert Covid-19 uitgebreek het. Dalk is jy gelukkig genoeg dat jy nie direk deur siekte of dood of enige verlies (bv. inkomsteverlies) geraak is nie. Maar elke liewe een van ons se daaglikse lewens is geraak, of ons dit nou wil weet of nie.
Dit bly vir my surrealisties om in ‘n winkel rond te kyk en al die gemaskerdes te sien. Ek onthou goed hoe het ek my laat een aand in 2019 vergaap aan ’n groep Oosterse toeriste op ’n vlug van Kaapstad na Johannesburg. Hoe laf, het ek gedink, om orals maskers te dra. Nou is die dra van ’n masker ’n wet.
Ons kinders se relatief sorgvrye bestaan het verander. Geen skolesport vir byna ’n jaar, skoolkampe en selfs elke dag skoolgaan was vir lank verbode. My eerstejaarkind kon nog net twee dae op kampus deurbring, want alles gebeur vir eers aanlyn. Kan jy jou voorstel?
Baie van ons het ons werk verloor. Of ons werk is afgeskaal, ons kontrakte ingekort – min mense wat ek ken het nog dieselfde besteebare inkomste as ‘n jaar gelede. Ons draai weer sente om soos lanklaas.
Kantore is vir baie ’n vae herinnering aan heerlike tye met kollegas wat soos familie geword het. Nou werk ons permanent van die huis af, en stylvolle kantoorklere hang vergete in die kas. Soms gaan daar dae verby sonder dat jy jou huis verlaat.
Maar dit weet jy alles.
Wat kan ’n mens hieraan dóén?
Die antwoord? Niks. En alles.
Jy kan vrou-alleen niks doen aan die abnormale situasie waarin die hele wereld hom tans bevind nie – dis ‘n onbetwisbare feit. Aanvaar dit. Skop en skree en aanlyn tekere gaan oor hoe ons dit haat, gaan ons absoluut niks in die sak bring nie. Zero. Zilch. Dit maak ons net nog kwater en moedeloser.
Maar as jy veerkragtige mense dophou, sal jy leer dat jy alles kan doen om jou situasie te verander deur eenvoudig jou reaksie daarop te verander.

Dus, verander jou perspektief, en jou gemoedstemming sal verbeter en jou daaglikse situasie sál draagliker word.
As ma het jy ook die mag om jou hele huisgesin te beïnvloed om meer veerkragtig te word. En daarmee bedoel ek nie almal moet net meer positief word nie. Ek bedoel dat jy jou gesin moet leer om beter aan te pas by ’n ewig veranderende wêreld. As vriendin kan jy jou vriendekring help om die onsekere tye te navigeer en te oorleef, en as kollega kan jy steeds baie beteken vir die mense om jou, al sien jy hulle ook net in Zoom-vergaderings.
In my boek kyk ek na veerkragtigheid as konsep, maar ek het ook wyd gaan lees om praktiese en inspirerende raad daaroor te deel, onder andere deur verhale van veerkragtige mense te vertel.
Veerkragtige mense is:
- kalm en gefokus in stresvolle situasies.
- realisties
- empaties
- mense wat elke seëning tel (en besef ons is steeds baie bevoorreg)
- mense wat in die oomblik leef
- doeners en nie klaers nie
- bereid om ander te help, maar ook om soms hulp te vra en gehelp te word
- mense wat nie toelaat dat hul emosies hul lewe oorheers nie
Veerkragtige mense vertrou hulself, wag nie vir ander mense se aanmoediging of goedkeuring nie, vra nie hoekom nie, en weet die lewe skuld hulle niks. Hulle aanvaar dat verandering deel is van die lewe, en is bereid om hulle perspektief aan te pas as dinge verander.
Jy is al reeds veerkragtig, anders sou jy al lankal iewers langs die pad tou opgegooi het. Maak nou ‘n punt daarvan om jou veerkragtigheid verder te ontwikkel en te verfyn. Dis die beste geskenk wat jy as ma jouself, jou gesin en almal om jou kan gee.
Wil jy floreer, of krepeer? Die keuse is joune.
Floreer

*Floreer deur Ilse Salzwedel (Lux Verbi) is splinternuut op die rakke. Dis ’n praktiese boek oor die aanleer en slyp van veerkragtigheid (met ’n handige werkboekgedeelte sodat jy jou eie notas kan maak) maar ook ’n boek vol inspirerende ware verhale vir die deurmekaar tye waarin ons leef. Beskikbaar by jou naaste boekwinkel (vra dat hulle dit bestel as hulle dit nie het nie) of as jy ver van ’n boekwinkel of in die buiteland woon, bestel aanlyn by www.graffitiboeke.co.za vir aflewering wêreldwyd. Dis ook as e-boek beskikbaar; dis die ideale geskenk en mans sal dit beslis ook van waarde vind.
Vir nog meer inspirasie, loer gerus na Ilse se webwerf www.veerkragtigheid.co.za
Lees ook: Ma’s se lewenslesse