Ons ma’s dink dalk ons luister nooit na hulle nie, maar kyk net hier: Rolanda Marais en Stylvol-vriendinne deel hulle ma’s se lewenslesse wat hulle onthou en gebruik. Baie van die lesse en ware woorde voel so bekend. En dit laat ons ook dink watter lewenslesse ons graag sou wou hê dat ons kinders by ons moet leer. Deur Suzanne Kotzé
Die lewenslesse wat Rolanda Marais by haar ma geleer het
“Hierdie is die belangrikste ding wat my ma, Charlotte Marais, my geleer het: as iets gebeur of as iemand lelik optree teenoor jou, neem altyd die ander persoon se omstandighede in ag.
As iemand lelik was met my op skool, sou my ma altyd sê: ‘ maar onthou jy weet nie wat by daardie person se huis aan die gang is nie, of dalk voel die persoon nie lekker nie.’
Dit het my altyd so gefrustreer, veral toe ek ’n tiener was, ek wou net gehad het sy moet aan my kant wees. Vandag weet ek dit het my geleer om ’n baie bedagsame mens te wees. Dit het natuurlik sy nadele ook, maar ek dink ’n mens kom baie verder in die lewe as jy ander mense se omstandighede ook in ag neem. Dit help om met ’n sagter hart te reageer.
Wat my ma se ma, ouma Rolanda, weer vir haar geleer het is: “My kind, kom net deur hierdie tyd.” En ons maak gereeld grappe hieroor, as my ma dit sê, maar tog is hierdie so waar.
Suzanne en Justine se ma’s se lewenslesse
Suzanne
Toe ek Rolanda se stukkie lees oor ‘ander mense se omstandighede in ag neem’, het dit gevoel asof ek na my ma luister. Presies dit het Rita Viljoen my ook geleer.
Justine
Ek glo my ma, Mariette Pittaway, het my geleer om te lag. Haar humorsin stel nooit teleur nie. Te danke aan haar lag ek nou lekker vir myself! Dit help om die ligter kant in moeilike situasies raak te sien, die lewe is te kort om té ernstig te wees!
Stylvol vriendinne se ma’s se lewenslesse
Ma’s se lewenslesse oor vergelyking
“Moet jouself nie met ander vergelyk nie, want daar sal altyd iemand slimmer, iemand mooier, iemand ryker as jy wees. Vergelyking maak van jou ’n ongelukkige en ontevrede mens.” Diana Marx
Oor verhoudings
“My kind, sover dit binne jou perke is, moet nooit afhanklik wees van ’n man of enige iemand anders nie!” Behou jou onafhanklikheid. Anneke van Niekerk
“Moenie bakhand vir ’n man staan nie.” Wat beteken dat jy as vrou op jou eie voete moet staan en die wêreld met alles in jou vermoë moet aanpak om onafhanklik te wees, juis in die lig daarvan dat ons baie swaar groot geraak het. Ronetia Daniels
Om nie afhanklik te wees van enige iemand nie. Wees ’n onafhanklike vrou. Lauren Fourie
“Jy as vrou is genoeg. Jy is so sterk soos jy wil wees. Jy vat elke situasie, hoe moeilik ook al, en doen enduit wat jy moet doen. Jy is vrou en jy is sterk.” Marisa Jonker
Oor vriende
“Meng jou met die semels, en die varke eet jou op.” Kies jou vriendekring goed, kies die wat jou gaan optel, motiveer en bystaan. Loop weg van “toxic” vriende. Rene Navisotschnig
My ma, Katryn Vosloo, het ons altyd geleer: “Soek altyd vir jou maats wat beter as jy is sodat hulle jou kan oplig.” Liezel Vosloo
Kies jou vriende sorgvuldig, want aan jou vriende sal jy geken word. Lenie Du Plooy
Oor familie
My ma het my voor my troue gevat en gese: Jy moet onthou, nou het jy nie net een familie nie maar twee. Wees vir hulle lief soos jy vir ons is. My ma is 95 en my ander ma 90. Het haar 47 jaar al net so lief soos wat ek vir my ma is. Sanet Krogman
Dat die liefde van ’n Ma alle vorme van liefde oorskry en dat geld nie goeie maniere en styl kan koop nie. Amanda Cloete
“Gee sonder ophou, want dit is ’n moederhart.” Michelle Edmunds
Oor jou voorkoms
“My liewe dogters, die mense gaan vir julle kyk en dalk twee keer kyk as hul omdraai om seker te maak,” as mense vir my (1,87m lank) en my sussie kyk omdat ons lank is.” Carina Nel van Tall Women Movement
“Jy kan hoe arm wees, maar jy en jou huis moet altyd skoon wees.” Adri Kleynhans
“Dra ’n bra en lipstiek.” Elizma Coetsee
“Jy kan mooi lyk van buite, maar dis belangriker om mooi te wees van binne, jy moet ’n mooi goeie hart hê!” Kamilah Francis
“Voor jy uitgaan, maak seker jou onderklere is heel, jy het n tissue, en 5 sent vir ’n tiekieboks, sou iets onverwags gebeur.” Hendrine Kriel
Seep en water kos nie baie nie. Sorg dat jy skoon en netjies uit die huis gaan. Hoe jy lyk en aantrek is ’n weerspieëling van wie jy is. Carol-Ann Nicolaisen
As ek my oorlede ma oor ’n probleem gebel het, het sy altyd gevra :” Het jy lipstick aan?” “Sit vir jou rooi lippe aan. Dan sal jy beter voel.” Cornel Dunn
“Maak altyd tyd vir jouself om mooi aan te trek. As jy niks goed het om oor iemand te sê nie, hou dan liewers jou mond toe.” Cath Wiseman
“Hou aan hakke dra (selfs al is jy en Ruan al jare getroud) Net om vir hom te wys ‘jy kan nog’.” Hierdie het my Ma se suster vir my gesê (my ma is dood toe ek 2 was). Pauli Potgieter
“Kyk mooi na jou vel. Jou HELE vel van kop tot tone.” Marlé van Wolf Wolf Kids
“Parfuum maak als beter.”
Sonja Woudberg
“Al voel jy soos uitgedroogte teesakkie, dra altyd rooi lipstiffie om waardig te voel en te lyk.” Merle Chalmers
“Sorg dat jy skoon is al bad jy in koue water.” Suzette Swarts
Ma’s se lewenslesse oor hoe jy ander behandel
Die beste lewensles wat ek van my ma geleer het was die goeie voorbeeld wat sy vir ons gestel het. Ek het haar nog nooit ’n lelike woord oor enige iemand hoor sê nie. Lize Barnard
“My ma het almal met liefde en respek behandel en dit was die lewensles wat ek altdyd saam met my dra. Sy is altyd in jou hart.” Ann-Louise Thorsen Dalton
“Moenie oordeel nie; ons ken nie ander se omstandighede of uitdagings nie.” Mads Oosthuizen
“Moet nooit ander mense veroordeel nie, want jy weet nie van die moeilkheid en swaarky in hulle lewe nie.” Alletta Walsh
“Hanteer altyd iemand soos jy wil hê hulle jou moet hanteer.”
Maggie de Kock, Marcelle Barry, Ronel van Wyk en Aletta Walsh
“Plaas jouself altyd in iemand anders se skoene. Moet nooit oordeel nie. Hanteer almal met liefde en respek. Gee, sonder om iets terug te verwag.” Esme Duvenhage
“My Ma het nie net dit gesê nie maar elke liewe dag gedoen. Sy word nou 75 en sy doen dit nog steeds. GEE en HELP vir die wat dit nodig het. Sy doen dit so natuurlik en verwag nooit enigiets terug nie.” Tania Van Zyl
“Behandel almal met respek. Selfs diegene wat niks het om te gee nie. Op ’n ligter noot. Dis net dom mense wat verveeld raak.” Mariette Stoltz
Lewensfilosofië wat ma’s ons geleer het
My ma sê nou nog gereeld: “Matigheid voor oë.” Daar is altyd ’n goue middeweg!” Petru Bredenkamp
“Alles is haalbaar as jy bereid is om hard genoeg te werk om dit te behaal. Nadia Halk
“Jy kan buig, maar jy knak nooit!” Martel Coetzee
“Moet nooit opgee nie, maak nie saak hoeveel keer die lewe jou platslaan nie. Staan weer op.” Dit het my ma my geleer nadat sy ’n beroerte gehad het. Candice Vincent
“Al is die son alleen, skyn dit steeds.” Eleanor Botha
“Niks is permanent nie, enigiets kan enige tyd verander. Dit maak nie saak hoe sleg ’n situasie op die oomblik is nie, daar is altyd hoop en geloof dat swaar tye ook tot ’n einde kom. Corney Kruger
“Glimlag en die wêreld glimlag saam.” Anne Botes
“Empatie en dat jy enige iets kan bereik in die lewe as jy jou hart daarop sit.” Elane Van Wyk
“Al gee karma jou ’n voorste ry sitplek, moenie sit nie. Glimlag jou mooiste glimlag en beweeg aan. ” Lucille Ridings
“Moenie aan iemand doen wat jy nie aangedoen wil wees nie, behandel almal met dieselfde respek ongeag wie hy/sy is.” Madelein Simon-serebolla
“Never cut your nose to spite your face.” Ek leer vandag nog uit daai woorde. As iemand wat baie hardkoppig is, kom daar baie oomblikke wat ek moet dink ‘doen ek dit omdat dit reg is of omdat ek aan iemand ‘n punt wil bewys?” Bianca De Carvalho
“Probeer eers en dán sê jy dit kan nie en maak ’n plan!” Annelette Gentle
Sonder om dit blatant te sê, maar deur te WYS. “Dis nie so erg nie”. En sy is reg; niks IS so erg nie. Hannarie Jacobs
“Hou jou ken in die lug, doen wat jy doen 100% en wees lief vir jou bure.” Sandra Moller
“Wees altyd net jouself. Die beste jy.”
Driekie Celliers-Booyse Goosen
“Jy kan alles verloor – net nie jou naam nie!” Loretta Huskisson
“My grootste, kosbaarste les van my ma was dat elke mens wat jou pad kruis dalk net ’n glimlag van jou af nodig het.” Santa Potgieter
“Daar is iets goeds in elke mens.” Estie Coertzen Cromhout
“Wees eerlik, doen die regte ding en wees net wie jy is, al gaan dit jou die slegste mens in sommige se oë maak. Dit gaan soms seermaak, maar die waarheid sal altyd uitkom, al vat dit jare.” Bronwen Gordon
“Lewe jou lewe op so ’n manier dat jy nooit hoef te sê ‘ek is jammer nie’. Dit het ek by my ouma geleer.” Lulu de Kock
“Vergewe jouself. Staan op vir dit waarin jy glo. Wees ’n stem vir ander wat hul ‘stem’ tydelik verloor het.” Ankia Nel
“My kind ek lewe nie verewig nie. So leer om op jou eie bene te staan.” Cardre Rooy
“As jy nie iets mooi kan sê nie, sê eerder niks.”
Hilda Elston
“As ons in ons mekaar se harte kon sien, en die uitdagings wat elkeen van ons het, sou ons mekaar met meer liefde, goedhartigheid, empatie, respek en geduld hanteer.” Penny Janse van Rensburg Louw
“Bly altyd getrou aan jouself!” Carin Laubscher
“Probeer eers en dan sê jy dit kan nie en maak ‘n plan!” Annelette Gentle
Oor geloof
Tyd saam met God. Ek sou haar daagliks kry agter haar Bybel en natuurlik die waarde van ’n goeie duursame koppie koffie. Helene Fourie
“As jy nie vir Liewe Jesus saam met jou na ’n plek of geleentheid toe kan vat nie, moet jy nie gaan nie! Dan is die plek of geleentheid nie reg vir jou nie.” Lenise Loubser
“Gee al het jy min, die Here sal weer voorsien en moet nooit dink aan die dag van môre nie.” Chante Solomons
“Om God eerste te stel. Ander se negatiewe optrede is meestal as gevolg van hul eie seer en issues. Fokus dus eerder op die goeie in elkeen.” Line Geringer
“As jy jou lewe skoon en reg wil hou, moet jy vashou aan die Here se woord! En dit is iets wat ek tot vandag probeer.” Tessa Van Niekerk
Die artikel is geborg deur Montblanc Signature parfuum.