Foto: Gustavo Almeido Pexels

8 konneksie-lesse wat ’n jaar se inperking ons geleer het

Na meer as ’n jaar van maskers dra, draaie loop om vreemdelinge, Tante Bets se soene by familie-geleenthede vermy en Groot Dae alleen vier het ons beslis die waarde van konneksie geleer. Deur Gerda Kriel, kliniese sielkundige 

Ingeperk. Ingehok. Isoleerd. 

As 2020/21 ons tot dusver enigiets geleer het, is dit dat geen mens ’n eiland is nie. Noudat ons almal ’n jaar se gedwonge amperes-kluisenaarskap meegemaak het, is dit tyd om na te dink oor hierdie agt dinge wat ons die afgelope jaar oor konneksie geleer het. 

8 Konneksie-lesse wat ons geleer het

1. Ons is gemaak vir konneksie

Nadat die nuutjie van die eerste 21-dae Vlak 5 inperking afgeneem het, en almal moeg was daarvan om marathonne in hulle agtertuine te hardloop, het bure skrikkerig begin om oor die muur te kuier. Selfs die grootste introverte in ons midde het besef dat ons nie heeltemal alleen kan wees nie, en sosiale media- en buurt-kletsgroepe het nuwe lewe gekry. 

2. ’n Glimlag sonder ’n glimag is steeds ’n glimlag

Kom ons wees eerlik, aan die begin van die inperking het ons nie net fisiese kontak met vreemdes vermy nie, maar ook oogkontak. Dalk was ons bang vir dit wat ons in mekaar se oë sou sien? Vrees, woede, hopeloosheid? Maar toe ons weer begin om skamerig oor ons maskers se rande te loer, en ons ’n glimlag sonder ’n mond sien, het ons besef dat ’n glimlag eintlik in jou oë is. En dit het het ons meer intensioneel gemaak met ons glimlagte. 

Foto: Pexels Tommaso Putignano

3. Jy kan Sondagmiddagete saam met geliefdes geniet, al is almal in verskillende lande

Voor 2020 het niemand die woord “Zoom” geken nie. Nou het Zoom sinoniem geword met konneksies wat strek deur mure en oor grense. Zoom het selfs ’n werkwoord geword, byvoorbeeld: “Ek gaan gou my pa Zoom vir sy verjaardag, dan kan die kinders hom ook sien.” En ja, ons weet van sovele families wat nou op Sondae saam feesmaal hou, alles via Zoom natuurlik. 

4. Konneksie is ’n lewenslyn

Al weet sielkundiges dit al jarelank, het ons weer besef hoe diep konneksies nodig is, om mense aan die lewe te hou. Die selfdoodsyfer het in die afgelope jaar toegeneem soos nooit vantevore, en die meeste daarvan word toegeskryf aan eensaamheid.

As jy al ooit gewonder het: jou teenwoordigheid in iemand se lewe maak saak. So staan op, en bel daardie geliefde met wie jy lanklaas gesels het, wie weet, dalk red jy ’n lewe.

5. Romantiese konneksie het nie peperduur datenights nodig nie. 

Moet ons nie verkeerd verstaan nie, datenights is wonderlik en alleentyd is broodnodig vir enige paartjie. Maar ons het geleer dat ’n tuisbly-date net soveel (soms selfs meer) pret en romanse kan hê as ‘n aand uit. Deur op mekaar te fokus en nie op die omstandighede nie, het baie paartjies hernude woema (en selfs ’n baba of twee) tot hulle lewens toegevoeg.

Foto: Unsplash Tarryn Elliot

6. Om jou hand uit te strek, bou ’n konneksie

Iewers te midde van lockdown het ’n sêding posgevat: Ons is nie almal in dieselfde boot nie, maar ons is in dieselfde storm. Dit het ons laat besef dat terwyl party van ons op luukse seiljagte is, ander die flenterbodem van ’n roeibootjie probeer toestop. En so begin mense toe uitreik: Sopkombuise, voedselskemas, noem maar op! Die wonderlikste uitvloeisel van hierdie dade is, dat gemeenskappe begin saamstaan het met ’n gemeenskaplike doel: om ander se las ligter te maak! 

7. Konneksie is ’n vryheid wat niemand kan wegneem nie

Hoe strenger die inperkingsmaatreëls, hoe meer kreatief het almal geraak om konneksies te bou. Al sluit hulle die wynkelders toe, stuur almal agtuur saans huistoe, en maak skole en kerke toe, kan niemand ooit ons vryheid om uit te aanraak nie. Per foon, per Zoom , per Whatsapp – ons het besef fisieke isolasie is nie die enigste manier om konneksies te behou nie.

8. Die waarde van selfkonneksie

In 2020/21 het ons al uitgereik: na ons geliefdes, na ons gemeenskappe, maar ook na onsself.

Ons het uitgereik, maar ook ingereik, dikwels na onontdekte spasies binne-in onsself. En dis juis in hierdie spasie waar onvervulde drome uitgehaal en afgestof is.

Ons het weer iets beleef van wie ons in wese is, en wil wees, en vir baie van ons het hierdie seisoen van self-konneksie gelei tot die wording van wie ons nog altyd wou wees.  En daarvoor sal ons altyd baie dankbaar wees.

Lees ook: 10 Wenke om jou angs te beheer

Gerda Kriel is ’n kliniese sielkundige wat in Somerset-Wes praktiseer. Besoek gerus haar webwerf helderbergpsychology.com

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
Ma’s detoks nou van dié ses ongesonde ouerskapsgewoontes
error: Content is protected !!