Dit is maklik om in hierdie ongesonde ouerskapsgewoontes te verval. Nie net as gevolg van eise wat van ‘buite’ kom nie, maar ook druk wat jy as ma op jouself sit. Detoks vandag van hierdie gewoontes om jou geestesgesondheid as ma weer nuwe energie te gee. Deur sielkundige Gerda Kriel.
29/04/2022
Oorweldig, oorwerk, oormoeg.
Byname wat die huidige generasies ma’s beskryf en soos ’n handskoen pas. Die eise van ouerskap is hoër as ooit vantevore, en ma’s is besig om vinniger as ‘’n kers tydens beurtkrag uit te brand. Baie eise kom van buite af: druk wat werk, skole en die samelewing op ons plaas. Maar soms is die druk van binne: ’n aanhoudende stemmetjie wat jou herinner aan al die maniere hoe jy nie goed genoeg is nie. Dan is dit sommer gou wat ons in ongesonde ouerskapsgewoontes verval wat ons geestesgesondheid leeg tap
Ses ongesonde ouerskapsgewoontes waarvan jy vandag nog kan begin “detoks”
1. Vergelyking
Ons almal doen dit: vergelyk ons kind met Susan s’n, vergelyk ons nuwe haarstyl met die bekende in die tydskrif wat ons nie eens ken nie, en vergelyk hoe goed ons in ons nuwe jeans lyk. Terwyl ons vergelyk wie die beste kinderpartytjies kan hou, die meeste views op Instagram het, en die mees voedsame kos vir ons kroos kan bedien. Hierdie aanhoudende vergelyking laat ons nie net sleg oor onsself voel nie, maar benadeel ook ons vriendskappe, wat ons sosiale kring verklein en eindelik onsself te kort laat skiet.
Wenk: In stede van vergelyk, begin eerder ‘celebrate’! Vier jou vriendin se sterktes en suksesse, vier jou kind se unieke talente en vier JOU gawes en sterk punte.
2. Mommy-blogs
Natuurlik is dit lekker om te lees hoe ander mammas met dieselfde probleme as jy sukkel, en daar is iets gerusstellends daaraan om te besef dat jou kind nie die enigste een is wat X of Y aanvang nie. Maar wanneer ouerskapsblogs jou laat voel of jy die een of ander onbereikbare standaard van oorgawe in jou ouerskap moet bereik, is dit werklik tyd om eerder van hierdie soort inhoud te detoks!
Wenk: Lees net blogs wat jou inspireer, en as jy iets lees wat jou onvergenoegd laat voel, laat dit gaan! In vandag se tyd kies ons hoe ons media-inname lyk, en dit beteken jy beheer wat jy inneem. Kies dus wys!
3. Sosiale media
Studies wys ’n direkte verband tussen die hoeveelheid ure wat jy op sosiale media deurbring en die kwaliteit van jou geestesgesondheid.

Hoe meer ure jy aanlyn is, hoe groter die nadelige impak op jou geestesgesondheid en gemoed.
Wenk: Dis amper onmoontlik om vandag heeltemal van sosiale media af te bly, maar jy kan jou tyd daarop met wysheid bestuur en beperk. Gebruik jou slimfoon se “wellness”-stellings om ’n daaglikse perk te stel op die tyd waarop jy op sosiale media is.
4. Oorvol skedules
Jou skedule bars uit sy nate met werks- en sosiale verpligtinge en jou kind neem tot elke middag vyfuur deel aan elke moontlike sportsoort. Jy het selde rus of rustige tyd, en jou energie kan net nie byhou by al die verlpigtinge wat jy moet nakom nie. Dit is tyd om briek aan te draai en jou dagboek weer oop te maak!
Wenk: Skeduleer aftyd in jou dagboek in en hou so streng daarby soos ’n formele afspraak. ’n Oorvol skedule laat jou altyd voel asof jou lewe buite beheer is, en kan angs vererger.
5. Elke nuutste “trend”
Jou kind het nie die nuutste klere/speelding/troeteldier NODIG nie. En jy ook nie. Jy mag met intensionaliteit besluite neem oor dit wat jy in julle gesin gaan toelaat en wat nie. Om altyd te voel jy moet byhou by alles wat nuut is, skep ’n gevoel van onvergenoegdheid en oorweldiging wat moeilik is om baas te raak.
Wenk: Skryf julle gesin se vyf kernwaardes neer, en neem nuwe besluite geskoei daarop. Jou kinders het natuurlik ’n sê daaroor, maar dit is ook kardinaal dat kinders van jongs af leer hoe om met die woord ‘nee’ gemaklik te wees. As ouer kies jy die grense, selfs al maak dit jou kinders aanvanklik ongelukkig.
6. Onrealistiese verwagtinge
Om meer van jouself of jou kind te verwag as wat moontlik is vir jou of hulle om te gee, kweek dikwels bitterheid en teleurstelling. Op sy beurt kan dit weer veroorsaak dat jou verhouding met jou kind en jouself skade lei.
Om realistiese verwagtinge oor dinge te hê is broodnodig om seker te wees dat jy trots kan wees op dit wat jy of jou kind bereik het, sonder om hulle aan onmeetbare standaarde te hou.
Dieselfde geld vir jou. Wees eerder realisties, dit lei tot ’n meer outentieke ervaring van die lewe, en laat ander ook gemakliker rondom jou voel.
Wanneer jy hierdie ses gewoontes ge-detoks het, en steeds voel jy wil iemand gaan sien oor jou geestesgesondheid, soek gerus ’n sielkundige of berader in jou area op. Jy kan ook www.sadag.org.za besoek vir hulpbronne en ondersteuningroepe in jou area. Onthou Mamma, jy is die spilpunt van jou gesin, en jy kan net draai wanneer dit met jou goed gaan. Maak jou tenk vol: jy verdien dit, jou gesin verdien dit!