Radio-omroeper en kosskrywer Martelize Brink gesels oor liefde, lekker leef en ’n gesonde leefstyl saam met haar kêrel, Marius van Tonder. Deur Suzanne Kotzé
01/03/2021
Martelize Brink gesels oor liefde

Martelize en Marius (van Tonder) het mekaar reeds in hulle twintigs ontmoet. “Ons het drie jaar gelede weer baie tyd saam begin deurbring. Die liefde het gevloei van daar,” vertel Martelize.
Marius is ’n opgeleide wynmaker. Hy is die uitvoerende hoof van VineaSA en voer houtvate en stawe (alternatiewes) van Frankryk af in.
“Ons is baie gemaklik in mekaar se geselskap en albei lief vir dieselfde dinge in die lewe. Kos, musiek, goeie wyn en geselskap,” vertel Martelize.
Oor haar nuwe nes
Martelize en Marius is altwee passievol oor kos, braai en wyn en dit is duidelik in hul nuwe huis, wat hulle in die Paarl koop het, te sien.
“Ons is albei oorspronklik van die Paarl. My ma en Marius se ouers is ook steeds hier. Ek wil al vir ’n geruime tyd weer in ’n huis bly in plaas van ’n woonstel en het verlede jaar Paarl toe getrek.
Ons het verlede jaar uiteindelik ons geliefde nes in die Paarl gekoop. Dit is so ’n vreugde om weer na meer as ’n dekade ’n tuin te hê, ’n groot kombuis en DRIE braai-areas om ons liefde vir ’n vuur te vier.
Ek kan ook nou uiteindelik werk aan die braai-kookboek wat ek al lank beplan. Marius is tans my proefkonyn!”
Oor haar leefstyl
Martelize oefen steeds elke oggend (soos sy altyd het), maar sê tog: “dit is mos altyd vreemd om vir die eerste keer ordentlik voor iemand te oefen.”
“Dit bly ’n stryd om fiks en gesond te bly. Ek het ’n goeie 7 kg opgetel met die grendeltyd en veg nou terug, midde-in resepontwikkeling vir my nuwe kookboek,” vertel Martelize.
Martelize glo die enigste antwoord om fiks en gesond te bly is om gesond te eet deur die week en om elke dag te oefen. “Ek oefen vir ’n uur elke oggend met gewigte, selfs Saterdae en Sondae indien ek die krag het. Daar word ook ’n goeie skoot opsitte gedoen en soms gaan stap ek selfs smiddae hier deur die buurt, bult-op.”
Indien jy lekker wil eet en wyn wil drink op naweke, moet jy bereid wees om die oefening in te sit. Daarby verstaan alle 40-plussers die opdraende stryd van gewigverlies.
“Ons beide verkies om deur die week baie gesond te leef en te eet. Ons is altwee lief vir groente, maar nie eintlik vrugte nie. Dit werk wonderlik wanneer jou palet ooreenstem met die van jou maat.
Die lekker kos en wyn word gespaar vir die naweek wanneer die meeste geregte oor die kole voorberei word.”
Martelize se wenke vir gesond, maar lekker, eet
Martelize glo dat jy altyd lekker moet eet. Hier is die wenke wat vir haar werk.
- Vind gesonde geregte wat jou vul en laat voel asof jy lekker geëet het.
- Vervang bv. room deur laevet jogurt, eet liewer patat as aartappels.
- Probeer suiker en melk uit jou tee en koffie sny.
- Eet die lekker biefstuk, maar vervang die skyfies deur groente of slaai en los die roomsous.
- Kies ’n pasta wat nie ’n roomsousbasis het nie.
- Kyk na porsies. ’n Bak pasta in ’n restaurant is baie meer as een porsie. Dit is die klein dingetjies wat tel.
- Bemagtig jouself met inligting. As jy weet hoeveel kilojoules ’n pizza of burger en skyfies verteenwoordig dink ’n mens dalk twee keer voor jy dit alles opeet. En, glo my, ek ken daardie stryd ook.
- Ons vas ook deur die week en eet eers later in die dag. Dit werk vir sommige mense en ander nie.
- Ek glo ook sterk, indien dit nie in die huis is nie, kan ek dit nie eet nie. Dis selde dat mens in die motor klim om sjokolade of ’n stuk kaas te gaan koop.
- Laastens, moet jouself nie met ander vergelyk nie. Moenie geflous word deur die foto van ’n skraal meisie wat haar verlustig in ’n burger en ’n bier nie. Ons almal verskil.
Martelize kook
Martelize deel haar gunstelinge gesonde resepte uit haar kookboek Martelize Kook. Jy’s genooi


Martelize en Marius se gunsteling lekker-eet-en-kuier kos en wyn.
Ons probeer om so wyd as moontlik verskillende tipes vleis, hoender, vis en groente eet.
Ons gunsteling bly steeds ’n goeie gebraaide steak met groente. Snoek is ook hoog op die lys. Vir my bly ’n varsgebakte brood ’n gunsteling.
Daar is natuurlik geen neus-in-die-lug vir bestanddele soos boeliebief nie! Dit is ’n bietjie van ’n interne grap tussen ons wat spruit uit ons 20’s. Ons het selfs verlede jaar boeliebief-ravioli gemaak. Jy sal nie glo hoe lekker dit is nie.
In terme van wyn geniet ons elke kultivar en ondersteun ons wyd in terme van wynplase. Ek is baie lief vir ’n swaar Cabernet Sauvignon en gehoute Chardonnay, maar elke wyn het sy plek. Daar is niks beter as ’n Sauvignon Blanc of Rosé op ’n warm dag nie (of enige dag!).
Lees ook: Gesonde eetgewoontes; ‘n dieetkundige se top drie wenke