Is jy werklik produktief of net goed daarmee om besig te lyk?

Ons leef in ’n wêreld waar besig wees amper soos ’n ereteken gedra word. Ons spog oor vol dagboeke, eindelose e-posse en moet doen lysies wat nooit korter word nie. Maar beteken besig wees dat jy produktief is?

Nie noodwendig nie.

Volgens produktiwiteitskenner en skrywer Cal Newport, outeur van Deep Work en Slow Productivity, het baie moderne werkers vasgevang geraak in “pseudo-produktiwiteit” die idee dat besig lyk dieselfde is as produktief wees. Newport meen dat ware produktiwiteit nie gemeet word aan hoeveel ure jy werk of hoeveel e-posse jy stuur nie, maar aan die waarde van die werk wat jy verrig. Met ander woorde: as jy besig lyk, word daar aanvaar jy werk hard. Die werklikheid is egter dat jy baie besig kan wees sonder om enige vordering te maak.

Hier is vyf wenke om slimmer, eerder as harder, te werk: Deur Justine Kroes

Besig vs. Produktief

Besig wees gaan oor aktiwiteit.

Produktief wees gaan oor resultate.

Jy kan ure spandeer om e-posse te beantwoord, WhatsApps te lees en vergaderings by te woon, maar steeds nie vordering maak met die dinge wat die grootste impak op jou werk of lewe het nie.

Produktiewe mense fokus eerder op die take wat hulle nader aan hul doelwitte bring.

Sukses word nie gemeet aan die hoeveelheid take wat jy afmerk nie, eerder aan wat bereik word.

Die gevaar van die “produktiwiteitsteater”

Het jy al ooit aan die einde van ’n dag gevoel dat jy heeldag rondgehardloop het, maar jy het min bereik?

Daar is selfs ’n naam daarvoor: produktiwiteitsteater.

Dit verwys na aktiwiteite wat jou besig hou, maar min waarde toevoeg.

Voorbeelde sluit in:

  • Om voortdurend jou inkassie (inbox) te monitor.
  • Om tussen verskeie take te rond te spring.
  • Om besig te bly met klein administratiewe take terwyl belangriker werk wag.
  • Om vergaderings by te woon wat eintlik ’n e-pos kon wees.

Volgens Newport verwar baie mense “besig-wees” met produktiwiteit omdat dit makliker is om aktiwiteit raak te sien as werklike resultate.

Hoekom “multi-tasking” nie werk nie

Baie mense glo hulle is goed met multitasking, maar navorsing wys dat die brein nie effektief verskeie komplekse take gelyktydig kan verrig nie.

Wanneer ons voortdurend tussen take wissel, moet ons brein herhaaldelik herfokus. Hierdie proses, bekend as “context switching“, kos energie en tyd.

Studies oor multitasking of taakwisseling, wys daarop dat gereelde onderbrekings prestasie benadeel en produktiwiteit verminder.

Die gevolg? Jy voel besig, maar jy het minder fokus met laer produktiwiteit.

Vyf tekens dat jy besig is, maar nie produktief nie

1. Jy begin elke dag deur e-posse te antwoord.

Wanneer ander mense se versoeke jou dag beheer, verloor jy fokus op jou eie prioriteite.

2. Jy voel konstant gejaag.

Jy beweeg van taak na taak sonder genoeg tyd vir diep fokuswerk.

3. Jy werk langer ure, maar sien min vooruitgang.

Meer ure beteken nie noodwendig beter resultate nie.

4. Jou moet-doen of taaklysie raak net langer.

Jy voltooi take, maar nie die belangrikste take nie.

5. Jy voel uitgeput sonder ’n gevoel van vervulling.

Jy werk hard, maar ervaar min tevredenheid oor wat jy bereik het.

5 Praktiese wenke om meer produktief te wees:

1. Begin met jou belangrikste taak

Vra elke oggend:

“Wat is die een ding wat vandag die grootste verskil sal maak?”

Doen dit eerste, voordat jy e-posse of sosiale media oopmaak.

2. Werk in fokusblokke

Reserveer 60 tot 90 minute vir ononderbroke werk.

Skakel kennisgewings af, maak jou inkassie (inbox) toe en fokus op een taak op ’n slag.

3. Gebruik die 80/20-beginsel

Die Pareto-beginsel stel voor dat ongeveer 80% van jou resultate uit 20% van jou aksies kom.

Identifiseer daardie hoë-impak take en gee hulle voorkeur.

In die praktyk kan dit beteken dat twee of drie belangrike take op jou lys veel meer bydra tot jou sukses as die ander twintig. Die geheim is om dié hoë-impak take vroeg te identifiseer en eerste aan te pak, eerder as om jou dag met kleiner, makliker take vol te maak.

4. Leer om nee te sê

Elke nuwe verbintenis neem tyd weg van iets anders. Produktiewe mense beskerm doelbewus hul tyd en energie.

5. Meet uitkomste, nie ure nie

In plaas daarvan om te vra: “Hoe lank het ek gewerk?”, vra eerder:

Wat het ek bereik?

Het ek vordering gemaak?

Het ek my tyd bestee aan dit wat werklik belangrik is?

Die doel is nie om elke minuut van die dag vol te pak nie, maar om jou tyd en energie te gebruik op die dinge wat die grootste verskil maak.

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
13 tekens dat jy dalk volwasse AAHS het
error: Content is protected !!