Marlee van der Merwe se nuwe kort hare
Marlee van der Merwe se nuwe kort hare

Marlee van der Merwe se nuwe, kort haarstyl

Kyk net hoe koel lyk Getroud met Rugby-aktrise, Marlee van der Merwe, se nuwe kort haarstyl. Wat ’n gedaanteverwisseling! Marlee verklap wat haar man gesê het, hoekom sy dit gedoen het en die stilis wat haar hare gesny het gee raad. Deur Suzanne Kotzé

Marlee van der Merwe se nuwe, kort haarstyl

VOOR

Baie van ons ken die afgelope paar jaar vir ‘Kristien’ met haar lang reguit hare en donker kuif. 

NA

Mens sou nie dink dat dit moontlik is om nog mooier te lyk nie, maar hierdie is beslis die bewys. 
Foto: Louis Daniel Botha

Hoekom het jy die groot verandering gemaak?

Ek wens soms ’n radio-aktiewe verkleurmannetjie het my gebyt, want vir my is veelsydigheid ’n super power

Ek het al soveel keer in my beroep my voorkoms heeltemal verander en elke liewe keer was dit vir my ’n positiewe ervaring wat óf as katalisator in my persoonlike lewe gewerk het, óf in my beroep.

My laaste haarstyl, swart, lank met die reguit kuif, was tot dusver my gunsteling. Vyf jaar lank het ek elke fase daarvan geniet. Ek het net aan die einde van verlede jaar begin voel asof ek my edge verloor. Een aand het ek in verwondering gekyk hoe mooi Charlize Theron met haar kort swart hare in die fliek The Old Guard lyk ,en die ‘pixie-gogga’ het my gebyt. Klik hier om te sien hoe Charlize lyk in die fliek.

Ek kon ook in die proses my mooi, gesonde poniestert van 33cm lank aan KANSA skenk. Dit was ’n wonderlike ervaring, dit was veral vir my baie lekker om ‘n verskil te kan maak.

Wat was die reaksie op jou nuwe kort haarstyl?

Ek het nog nooit my man na sy asem hoor snak oor hoe ek lyk nie. Toe ek by sy kantoor inwals met my nuwe kapsel het hy van oor tot oor geglimlag.

Hy is absoluut mal oor my hare, en het onmiddellik aangedring om sy “nuwe girl” uit te vat vir ete. 

Marlee van der Merwe se nuwe kort hare
Foto: Louis Daniel Botha

Ek vermoed dit is dalk nie noodwendig die snit wat daarmee te doen gehad het nie, maar eerder dat sy vrou iets onvoorspelbaars gedoen het.

My sesjarige seuntjie het na sy juffrou toe gehardloop en gesê: “Juffrou, kom kyk my mamma se nuwe hare! Sy het dit gesny dat sy so cool soos ek en my boetie kan lyk!”

Het jy enige ‘huiswerk’ gedoen voordat jy jou hare kort geknip het? 

Ek glo daar is ’n pixie- of kort snit vir almal. Jy moet net die een kry wat by jou gesig pas. Ek het ’n bietjie gaan rondkrap op Pinterest en foto’s begin versamel waarvan ek hou. Ek het dadelik verlief geraak op die kort snit met ’n lang kuif. Teen die tyd dat ek in my storielyn vir Getroud met Rugby my hare moes sny (julle sal moet wag en sien waneer dit gebeur!), was my kuif nog glad nie waar ek dit sou wou gehad het nie, maar ek was steeds mal oor die nuwe styl. Gelukkig groei my hare vinniger as onkruid. 

Die lekker ding van kort hare is dat dit regtig elke twee weke ’n nuwe haarstyl word, en die prentjie in die spieël  konstant verander. 

Hoe het jou haarsorg-regime verander?

Met my lang hare het ek net gesorg vir my hare se toestand en produkte gebruik om my punte te beskerm teen hitte. Toe Bernadette (die stilis wat Marlee se hare gesny het) na my haarsnit die woorde hair wax noem, was my oë so groot soos pierings. 

Vir die eerste keer in my lewe gebruik ek nou waks! My man vang my so nou en dan in sy badkamerkassie krap soos ek al sy produkte vir kort hare uittoets. 

Omdat ek my kuif so vinnig as moontlik wil laat groei, gebruik ek INOAR se Resistance -reeks. Ek het ook Inoar se Moroccan Keratin Treatment op my hare laat doen om van al my koeilekke op my haarlyn ontslae te raak! My hare het eintlik ’n natuurlike krul wat ’n groot uitdaging sou wees sonder al hierdie wonderlike produkte. Koop die Inoar produkte wat Marlee gebruik hier.

My hare neem bitter vinnig om te blaas. Ek is seker die Inoar-behandeling het baie daarmee te doen. Dit is hemels om elke dag my hare te kan was en nie 40 minute te moet afstaan vir hare alleen nie. 

Ek is mal daaroor dat my ore en skouers altyd wys.

Foto: Louis Daniel Botha

Haarstilis, Bernadette Kruger van The Mix-Co Lab vertel meer

Wat word Marlee se tipe styl genoem?

Marlee het ’n 1960’s geïnspireerde bowlcut. Dit is langer en meer grafies as die tradisionele pixie snit.  

Hierdie snit beklemtoon Marlee se mooi oë en fantastiese wangbene.

Psst: hierdie styl is gedurende die sestigerjare deur The Beatles bekend gemaak. Dit word glo so genoem omdat jy ’n bak op iemand se kop kon gesit het, en die al die hare wat uitsteek geknip het. 

By watter tipe gesigsvorm pas hierdie tipe styl die beste?

Hierdie styl kan aangepas word om by amper enige gesigvorm te pas. Ek sou dit egter nie aanbeveel vir iemand met ’n ronde gesigvorm nie. Die styl gee swaarheid aan jou wangbene en mag ’n ronde gesig ronder laat vertoon. 

Dit is wel belangrik dat jou stilis altyd jou persoonlikheid en vertroue in stilering ook in ag moet neem wanneer hy/sy jou hare knip. Korter hare verg meer moeite met stilering om die ‘wow’ faktor daagliks te skep. So jou haarstilis sal jou gesigvorm en die hoeveelheid moeite wat jy bereid is om te doen met jou hare en stilering in ag neem voordat jou hare geknip word

’n Styl wat goed geknip is, sal die mooiste dele van jou gesig beklemtoon.

La Belle

Lees ook: Die koelste inspirasie vir pixie-haarstyle wat jy nou moet probeer

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
sensueel
Vyf wenke om meer sensueel te lyk én voel
error: Content is protected !!