Marciel se haarsorgwenke, gunsteling haarprodukte en meer oor haar ligter lokke

Ons verkyk ons aan Marciel Hopkins se mooi gesonde lokke, en ons moes eenvoudig net weet wat Marciel se top haarwenke is. Sy deel haar gunsteling haarprodukte en style wat sy graag dra. Marciel verduidelik ook hoekom sy vanjaar met ligter lokke spog.  Lees Marciel se haarsorgwenke hier: Deur Justine Kroes

05/04/2024

Hoe bly jou hare so blink en gesond?

Ek besoek gereeld Show Hair Salon in Groenpunt vir ’n salonhaarbehandeling en om my punte te laat sny. Die span by Show Hair Salon is ook verantwoordelik vir my haarkleur en hulle gebruik goeie kwaliteit produkte om dit te beskerm en te laat blink.

Ek sal iemand altyd aanbeveel om eerder hulle hare te laat kleur of highlight by ’n betroubare haarsalon as om dit self te doen.

Jou ligter haarkleur vanjaar is iets besonders, vertel ons meer:

My hare is gewoonlik baie donker, waaroor ek mal is – ek is ’n ware brunet deur en deur. Maar vir die somer wou ek graag my hare ’n bietjie ligter maak vir meer diepte, definisie en beweging.

My effens ligter hare is met ’n balayage tegniek gedoen, waar die ligter kleur deur my hare gekam word om dit soos natuurlike sonstrepe te laat lyk. Daar is nie soliede strepe (soos gewone highlights) in my hare gesit nie, en ek is gaande daaroor.

Die Show Hair Salon-span is ongelooflik goed met enige kleurversoeke, en ek kan hul met ’n geruste hart aanbeveel.

Wat is jou gunsteling haarprodukte op die oomblik?

Ek gebruik op die oomblik Kérastase se produkte op my hare – sjampoe, opknapper en haarmaskers vir tuisversorging.

Met my nuwe ligter haarkleur het my hare ekstra hidrasie nodig om dit sag en gesond te hou. Gekleurde hare kan vinnig droog en vaal lyk, maar ek glo dit is Kérastase se produkte wat my hare gehidreer, blink en gesond hou.

Ek is ’n groot voorstander van ’n droë sjampoe, dit help om my haarwasdae so ’n bietjie uit te rek. Veral in die winter wanneer dit so koud is en lank neem om lang hare soos myne droog te blaas.

In die somer help dit ook om net my haarlyn op ’n warm dag te verfris, my hare is nie noodwendig vuil nie, dit vertoon dalk net ’n bietjie olierig in die haarlyn.

Gebruik jy stileerprodukte?

By die huis doen ek self baie min stilering met my hare, maar ek sal altyd ’n haarolie of sproei aan my hare sit voordat ek dit droogblaas om my punte te beskerm.

Marciel Hopkins

As ek op enige stel is waar my hare gedoen word, sal ek altyd vra dat hulle eers my hare goed voorberei met ’n hittebeskermingsproduk voordat dit gekrul of ekstra reguit gemaak word.

Watter haartoerusting gebruik jy graag?

Ek gebruik tuis GHD se haardroër en haartang. Ek besit glad nie self ’n krultang nie, ek los dit vir salondae of wanneer ek op stel is. Dit voel dan soos ’n lekker bederf as my hare gekrul is.

My hare is van nature baie reguit, so ek hou daarvan om dit net so natuurlik te dra.

Wat is jou gunsteling haarstyle om te dra?

Ek het ’n paar verskillende gunsteling haarstyle – vir televisie of geleenthede hou ek altyd van los hare wat mooi gekrul is vir volume. Nie stywe krulle nie, eerder mooi golwe (waves). Krulle maak altyd ’n statement omdat dit volume gee en mooi beweeg.

As ek by die huis is, is my hare altyd in ’n bolla en as ek oefen in ’n stywe bokstert. Die bokstert en bolla is natuurlik vir praktiese redes.

Vertel ons meer oor vanjaar se haarstyle vir Boer Soek ’n Vrou?

Op Boer Soek ’n Vrou vanjaar dra ek omtrent elke haarstyl waaraan ’n mens kan dink, omdat ek sóveel verskillende verskynings het.

Ek dra in totaal ongeveer 55 uitrustings, en elke uitrusting benodig ’n verskillende en unieke haarstyl om dit interessant en anders te hou.

Marciel se beste haarsorgwenk:

Laat knip gereeld jou hare!

Lees ook: Marciel Hopkins deel 5 redes waarom die platteland goed is vir jou siel.

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
grimeerfoute Reneé de Witt
Grimeerkunstenaar Reneé de Wit verklap die 4 grootste grimeerfoute
error: Content is protected !!