Naelmodes vir die winter is vanjaar opwindend, helder en vol patrone en versierings. ’n Paar van ons gunsteling naelsalonne en naelkunstenaars deel die 7 gewildste naeltrends van die oomblik. Vat gerus die fotos saam met jou naelsalon toe vir jou volgende besoek – hier is die naeltrends wat ons nou wil toets! Deur Justine Kroes
1. Dieremotief naeltrend
As jy nog nie vir Betina Goldstein volg nie, doen dit nou! Betina is ’n Hollywood naelkunstenaar vir die sterre, haar ontwerpe en fyn detail is omtrent indrukwekkend, kyk net hoe mooi is haar dieremotief naelontwerpe.
Minelli van Minelliart nails sê “dieremotiewe is tans een van die ontwerpe wat ek die meeste doen, enigiets van sebra, luiperd, koeivel en selfs dalmatian patrone.”
Die spanne by Perfect 10 en Dream Nails stem hiermee saam, “dieremotiewe bly ’n tydlose nael ontwerp, en sal vir lank nog populêr bly. Die patrone wat ons salonne gereeld sien is luiperd, tier, kameelperd en onlangs baie koeivelpatrone ook. Ons dink dit lyk stylvol op aksentnaels of selfs as net gedeeltes van naels deur die patroon bedek word.”


2. Pastelle
Ons weet pastelle is tans groot nuus in die modewêreld, maar dit lyk vir ons net so groot in skoonheidskringe ook. “Pastel franse manikuur of selfs pastel reënboognaels is tans opsies wat baie kliente kies” sê Minelli.
Betina se sagte pastelskakerings op elk van die verskillende naels lyk so sjiek!



Ons dink dit is een van die makliker maniere om die pasteltrend te dra. Voordat jy ’n pastel kledingstuk koop, toets dalk eers pastelskakerings op jou naels om te sien of jy werklik so baie van hierdie trend hou.
3. Franse manikuur met ’n verskil
Die span by Perfect 10 en Dream Nails sê die Franse manikuur met ’n verskil is tans baie gewild in die salonne. Die abstrakte en unieke ontwerpe van hierdie klassieke naelstyl lyk dadelik meer modieus. Vanaf helder skakerings, assimetriese lyne en ombre skakerings is dié ontwerpe tans volop.
Nog ’n minimalitistiese manier om die trend te dra is met die omgekeerde Franse manikuur – in plaas daarvan dat die lyn aan die bopunt van jou nael sit, is die lyn nou aan die onderkant, teenaan jou naelbed. Kyk net hoe eenvoudig maar steeds treffend is die naels deur Bettina Goldstein.
4. Winterteksture
Die sweater nails, jersey nails of selfs knitted nails soos die trend bekend staan is een van Minelli se gewildste naelontwerpe op aanvraag die seisoen. Die styl lyk presies soos ’n geweefde trui se tekstuur. Minelli sê sy gebruik jel en akriel poeier om hierdie tekstuur te skep. “Ek teken die effek met gekleurde jel en strooi ’n deursigtige akrielpoeier bo oor en kuur dan die naels daarna”
By die sweater trend is daar ander teksture soos geruite (plaid) en gingham patrone wat die gevoel van winternaels skep.
5. Blinkers bo!
Skitterende naellak en skitterende jel-naels is ook tans populêr, donker of ligter skakerings, aksentnaels of al tien vingerpunte vol glans.
“Die glitter fades waar die blinkers van die middel tot voorpunt van die nael aangewend word, is baie gewild omdat mens nie jou nael se uitgroei so vinnig sien nie. Daarom kan jy baie langer loop met jou naels. So spaar ’n mens ’n bietjie geld, tyd en jy loop boonop steeds met stunning blink naels”.
Minelli
Minelli se raad, “Probeer gerus Dream Sqns se nael- en grimeer-blinkers, ek vind dit is die heel beste en meng dit by die jel naellak in. Die resultate is keer op keer naels wat ongelooflik mooi blink.”
6. Geometriese naelkuns
Die Gelish SA span sê geometriese naels bly interessant en uniek “Dit is super eenvoudig om dramatiese resultate te kry met ’n klein stukkie kleefband en ’n Micro Striper borseltjie”.
Bettina Goldstein se geometriese ontwerpe bewys hierdie trend is beslis ’n moet, selfs onder Hollywoodsterre, modelle en vir tydskrif fotosessies.
7. Metaalkleure
Goud, silwer of roosgoud metaal-skakerings is nog ’n trend, sê die Dream Nails -span. Nael tegnici maak gebruik van gold leaf, of ’n tipe foelie waarmee hul die naels versier. Die vlokkies metaal is uniek omdat geen twee stukkies dieselfde is nie”. “Hierdie styl lyk klassiek op natuurlike naels en glansend by ’n franse manikuur of selfs net op ’n aksentnael of twee.”
Die Gelish SA span van Sorbet stem hiermee saam “Metaalskakerings en foelie-naelkuns bied ’n unieke aanslag en kunstige vryheid tot naelkuns omdat die naels nie sommer dieselfde sal lyk nie, boonop bied dit onmiddellike glans op jou hande”.