Baie ma’s onthaal op Moedersdag en ons het self min moeite Moedersdagresepte gesoek en bekende kosskrywer Carmen Niehaus gevra om vir ons ’n spyskaart saam te stel.
Op ons min moeite Moedersdagspyskaart
Voorgereg
Oosterse baba-inkvistentakelslaai (roerbraai) of frittata-tertjies (oond of lugbraaier)
Hoofgereg
Franse Oondhoender (oond of lugbraaier)
Gebakte gemarineerde blomkool (oond/lugbraaier)
en/of masala-koeskoes (deels oond of lugbraaier)
Mengelslaai met piekelgemmer
Nagereg
Kaaskoek
Carmen Niehaus se maklikste, min moeite Moedersdagresepte
Voorafhappies
“Die frittata-tertjies (met heelwat groente en gemarineerde songedroogde tamaties) wat koud of warm bedien kan word, is heerlik vir staan-staan vooraf geniet saam met ’n wit wyntjie terwyl die babatentakelslaai ideaal is vir ’n mooi gestileerde voorgeregbord.
Frittata-tertjies
Lewer 6-8 groot muffins
Bereiding: 20 min.
Bak: 25 min.
2 uie, gekap
olie
200 g gerasperde murgpampoentjies en/of spinasie
100 g fyngekapte sampioene
6 repies bladspek, gekap, of 2 gaar hoenderborsies, gepluis
250 ml (1 k) gerasperde sterk cheddarkaas
1 wiel feta-kaas, grof gekrummel
5 ml (1 t) aangemaakte mosterd
250 ml (1 k) ertjies (opsioneel)
20 g gekapte kruie soos pietersielie of koljander
4 songedroogde tamaties in vinaigrette
6 eiers
sout en peper na smaak
80 ml (⅓ k) natuurlike jogurt
30 ml (2 e) mielieblom
Voorverhit die oond tot 180 °C. Bespuit 8 holtes van diep muffinpanne deeglik.
1 Braai die uie in ’n bietjie olie tot glasig, voeg die groente by en roerbraai tot net sag en tot alle vloeistof verdamp het.
2 Voeg die spek of hoender, kaas, mosterd, ertjies en kruie by. Meng en skep in die goedgesmeerde muffinholtes. Sprinkel die tamaties bo-op elk.
3 Geur die eiers met sout en peper, voeg die jogurt en mielieblom by en klits goed.
Giet oor die groentemengsel in die muffinholtes.
4 Bak sowat 25 min. of tot ferm. Sit louwarm of koud voor.
Of
Oosterse baba-inkvistentakelslaai
Die inspirasie vir hierdie slaai kom eintlik van die sushi-slaaibakkies wat met krapstokkies gemaak word en ’n mens gereeld by sushi-toonbanke aantref. Die Oosterse slaaisous saam met die piekelgemmer is heerlik hierby. Heerlik vir ’n vooraf happie.
Maak sowat 10 happies slaai
BEREIDING: 20 MIN.
GAARMAAK: 5 MIN.
Slaai
500 g bevrore baba-inkvistentakels
15 ml (2 e) hoisinsous
1 x Oosterse slaaisous (onder)
’n halwe komkommer, in lang, dun repe gesny
1 wortel, skoongeskraap en in julienne-repies gesny
2-3 stingeluie, in dun repies gesny
’n kwart kopkool, in papierdun skyfies gesny
1 avokado, in dun skyfies gesny
’n groot hand vol gekapte koljanderblare (opsioneel)
Vir voorsit
piekelgemmer
sesamsaad
1 Slaai Giet die hoisinsous oor die inkvistentakels en stoom tot dit net gaar is, sowat 5 min. Giet helfte van die slaaisous oor terwyl dit nog warm is.
2 Meng die res van die slaaibestanddele, voeg die tentakels by by en meng liggies deur. Voeg nog sous by soos nodig.
3 Vir voorsit Skep die slaai in ’n opdienbord, of as jy enkelporsies wil voorsit, in klein Chinese lepeltjies en sprinkel die piekelgemmer en sesamsaad oor.
Oosterse slaaisous
Maak sowat 250 ml (1 k) slaaisous
Bereiding: 10 min
80 ml (⅓ k) kanola-olie
45-60 ml (3-4 e) rysasyn
sap en gerasperde skil van 2 suurlemoene
15 ml (1 e) heuning of bruinsuiker
80 ml (⅓ k) sojasous
5 ml (1 t) vissous
1 knoffelhuisie, geskil en in vlokkies gesny
30 ml (2 e) sesamsaad
3 cm gemmerwortel, geskil en in dun repe gesny
1 heel brandrissie
Meng al die bestanddele saam buiten die brandrissie. Giet in ’n glasfles. Plaas die heel brandrissie in die bottel. Maak toe. Gebruik soos benodig.
Wenk: Jy kan selfs lappies gerookte forel by die slaai inmeng.
Hoofgereg
Franse oondhoender
“Die Franse oondhoender is my go to vinnige, in die oond druk hoendergereg waarop ek altyd terugval vir gaste, veral as ek heelwat mense moet kosgee.”
Caremen Niehaus
Genoeg vir 6—8 mense
Bereiding: 20 min
Gaarmaak: 1¼ uur
Marinade
2 knolle knoffel of andersins swart knoffel
60 ml (¼ k) olyfolie
60 ml (¼ k) houtverouderde balsemieke asyn
80 ml (¼ k) basilieblare of oreganum
Hoender
12 hoenderporsies (dytjies en boudjies maar nie borsies), helfte se velle verwyder
Sout en peper
250 ml (1 k) wit wyn
125 ml (½ k) kappertjiesaad (verkieslik met lang stele)
30 groen olywe
125 ml (½ k) veelkleur-sultanas
100 g Turkse appelkose, gekap
12 pruimedante
40 g vars koljander
Voorverhit die oond tot 180°C. Smeer ’n oondbak.
1 MARINADE Mikrogolf die knoffelbolle, skil en al, vir 3-5 minute of tot hulle sag is, (die swart knoffel kan jy net so gebruik), druk die puree uit en meng met res van die bestanddele vir die marinade.
2 HOENDER Pak die hoender in ’n nie-metaal oondbak, giet die marinade oor die hoender en marineer vir ’n uur of twee. Geur met sout en peper, voeg die wit wyn oor en voeg die kappertjiesaad, olywe en droëvrugte by asook helfte van die koljanderblare.
3 Bedek en bak 1¼ uur tot die hoender sag en gaar en goudbruin is. Sprinkel die orige koljanderblare oor en sit voor met gestampte koring of koeskoes en slaai.
Gebakte blomkook met blomkoolpuree en kruie vinaigrette
Genoeg vir 6 mense
Bereiding: 40 min
Baktyd: 40 min
Marinade
180 ml (¾ k) sojasous
80 ml (⅓ k) olyfolie
30 ml (2 e) fyngerasperde suurlemoenskil
5 ml (1 t) suurlemoensap
5 ml (1 t) elk fyn komyn, koljander en paprika
1,25 ml (¼ t) elk cayenne-peper en gerookte paprika
Blomkool
1 groot of 2 klein blomkole
Olyfolie
Blomkoolpuree
400 g afvalstukkies blomkool
125 ml (½ k) elk volroommelk en room
Sout en peper na smaak
Slaaisous
60 ml (¼ k) kruie soos pietersielie en basilie, grof gekap
4 knoffelhuisies, gerasper
60 ml (¼ k) olyfolie
45 ml (3 e) appelasyn of druiwe-asyn
10 ml (2 t) growwe mosterd
Suiker na smaak
Sout en peper na smaak
1 BLOMKOOL Meng al die bestanddele vir die marinade.
Pak die blomkool in ‘n bak en giet die marinade oor. Laat staan 2 uur of oornag.
2 BLOMKOOLPUREE Plaas die blomkoolstukke in ‘n kastrol en giet melk en room oor. Geur met sout en peper. Kook tot lekker sag. Puree met ‘n staafmenger tot glad.
3 Verhit die oond tot 200˚C. Plaas die blomkool op ‘n bakplaat en giet olyfolie oor.
Oondbraai tot die blomkool verbruin het maar net-net sag is, sowat 40 min.
4 SLAAISOUS Plaas al die bestanddele in die voedselverwerker en verwerk tot glad.
VOORSIT
Skep die blomkoolpuree op ‘n bord. Plaas die blomkool bo-op en giet van die slaaisous oor.
of
Masala koeskoes
Pleks van koeskoes gebruik ek baie keer sorghum in hierdie resep om dit so ’n inheemse Afrika-geurtjie te gee. Daarby werk jugo-bone, ook eie aan Afrika, goed. Dit het ’n effense grondbone smaak.
Genoeg vir 6-8 mense
Bereiding: 20 min
Gaarmaak: 15 min
1 sakkie (500 g) botterskorsie- of pampoenblokkies
1 sakkie (500 g) patatblokkies
1 klein blomkool, in blommetjies gebreek
2 uie, gekap
1 rooi soetrissie, ontkern en in blokkies gesny
60 ml (¼ k) olyfolie
Sowat 15 g Masala Chai-sout (CarmenNiehaus) of andersins geroosterde masala en komyn vir oorsprinkel
1 blik (400 g) kekerertjies of jugo-bone, gedreineer
2,5 ml (½ t) elk fynbossout (CarmenNiehaus) of gewone sout, paprika en komyn
250 g Marrokaanse koeskoes, geweek in 500 ml (2 k) chai-rooibostee, gemaak met 4 sakkies Fokus van Carmien
Gerasperde skil van 1 suurlemoen
200 g rugspekvleis, in stukke gesny (opsioneel)
Sowat 180 ml (¾ k) fynbosslaaisous (CarmenNiehaus) of lemoenslaaisous
20 g koljanderblare vir bo-oor sprinkel
Voorverhit die oond tot 190°C.
1 Meng die groente met die olyfolie en vryf goed met jou hande deur. Geur met die Masala Chai-sout of andersins geroosterde masala en komyn en meng weer lekker deur met jou hande. Skep in ’n enkellaag in ’n oondpan en oondbraai sowat 30 minute of tot gaar en effe bros. Skep uit.
2 Pak die kekerertjies of jugo-bone in ’n enkellaag in die lugbraaier, sprinkel die sout, paprika en komyn oor. Lugbraai tot bros, sowat 5 minute.
3 Week die koeskoes in die rooibostee (kook die sorghum in water tot sag). Plaas in die mikrogolf vir 1 minuut en maak die koeskoes los met ’n vurk.
4 Voeg die groente en kekerertjies by.
5 Braai die spekvleis, indien gebruik, tot net gaar, kap fyner indien nodig en roer by die koeskoes in. Giet die slaaisous oor en laat afkoel.
6 Skep op in ’n platterige opdienskottel en sprinkel die koljanderblare oor.
Mengelslaai met piekelgemmer
Wilinda Hanekom van Moorreesburg is ’n raakvatvrou van formaat. Nie net is sy ’n formidabele spysenier nie, maar bedryf ook die dekorbesigheid, Swier. Tydens ’n lekker koffiekuier by haar huis hier op Langebaan het sy vir ons binne ’n japtrap hierdie slaai as ligte ete opgetower. Heerlik!
Genoeg v 4-6 mense
Bereiding; 15 min
Slaai
1 eiervrug, in blokkies gesny en in bietjie olie gebraai tot sag (opsioneel)
Iceberg-slaaikop, in repies gesny of 1 elk klein wit- en rooi kopkool, in dun-dun skyfies gesny
2 wortels, geskil en grof gerasper (opsioneel)
Halwe rooi ui, in klein blokkies gesny
Halwe komkommer, in blokkies gesny
1-2 appels, in skyfies of stokkies gesny
halwe pynappel, in blokkies gesny
Handvol koljander- en mentblare, gekap
Groot handvol boontjiespruite
Afronding
lemoenmosterdslaaisous (sien resep)
80 ml (⅓ k) piekelgemmer, fyngekap
groot handvol elk bosbessies en pekanneute vir bo-oor sprinkel
groot handvol uiesaadspruite
1 SLAAI Plaas die eiervrug in ‘n bak en giet van die slaaisous oor.
Meng al die slaaibestanddele in ‘n slaaibak en giet die slaaisous oor. Meng liggies deur, voeg ook die gemarineerde eiervrug by indien verkies.
2 Rond af met piekelgemmer, bosbessies, en neute bo-oor gesprinkel. Stapel die uiesaadspruite bo-op.
Lemoenmosterd-slaaisous
Lewer sowat 180 ml (¾ k) slaaisous
125 ml (¾ k) lemoensap
Sap en gerasperde skil van 1 suurlemoen
30 ml (2 e) olyfolie
2 knoffelhuisies, fyngedruk
15 ml (1 e) korrelmosterd
5 ml (1 t) Dijonmosterd
15 ml (1 e) heuning
45 ml (3 e) vars gekapte pietersielie, koljanderblare en ment
Sout en peper na smaak
1 Meng al die bestanddele saam en giet oor slaaie of hou in die yskas 1 x lemoenslaaisous (sien resep)
Lekkerste kaaskoek
Ek en my man hou daarvan om sommer partykeer net ’n koppie goeie koffie by ’n klein eetplekkie te geniet waar ons die mooi omgewing en die mense om ons kan gade slaan. Daarby bestel ons graag ’n snytjie kaaskoek, maar dit moet gebakte kaaskoek wees, nie te ryk nie en ook nie te soet nie. Ek het met velerlei resepte geëksperimenteer en hierdie een gemaak met geroomde maaskaas, en nie roomkaas nie, saam met jogurt is vir my net reg soos ons daarvan hou. Hier’s verskeie variasies hoe jy dit kan afrond. Die idee vir die heerlike pynappelsalsa bo-oor het ek by Yotam Ottolenghi afgekyk.
Kors
80 ml (⅓ k) bruinsuiker
250 ml (1 k) hawermout
50 g gekapte neute of pampoensade
60 ml (¼ k) klappermeel
Knippie bakpoeier en sout
80 g botter, gesmelt
1 eierwit
Vulsel
2 x 230 g gladde geroomde maaskaas (creamed cottage cheese)
250 ml (1 k) laevet natuurlike jogurt
25 ml (5 t) mielieblom
Sap en gerasperde skil van 1 suurlemoen
4 eiers
125-180 ml (½-¾ k) bruinsuiker of 60 ml (¼ k) elk versoeter en versiersuiker
Knippie sout
Bolaag
Halwe pynappel, geskil en in stukke gesny
1,25 ml (¼ t) elk fyn kaneel en gemmer
30 ml 2 e)) bruinsuiker
7 ml (1½ t) elk suurlemoensap en water
pulp van 1 grenadella
1 cara cara-lemoen, geskil en in segmente gesny
Voorverhit die oond tot 120˚C
KORS Plaas die bruinsuiker, hawermout, neute, klappermeel, bakpoeier en sout in die voedselverwerker en kap goed fyn. Voeg die botter deur die tuit by en meng goed. Voeg die eierwit by en meng tot ’n deeg. Skep uit, vorm in ’n rol en verkoel verkoel so 10 min tot stewig. Sny in skywe en druk vas in ’n 23-cm losboompan – teen die boom sowel as die kant. Verkoel.
VULSEL Klits al die bestanddele saam tot net gemeng, nie skuimerig nie. Giet in die kors. Bak 1—1½ uur of tot die vulsel stewig maar steeds nog effe drillerig is. Skakel die oond af en laat in oond afkoel as jy tyd het.
BOLAAG Verhit die pynappelstukke saam met die speserye en suiker, suurlemoensap en water tot suiker gesmelt is. Koel af en meng die lemoenskyfies by. Skep oor die afgekoelde kaaskoek.
Variasies:
1 Kaneelsuiker
Vervang die pynappel-bolaag met appelskyfies (of heel klein appeltjies) wat effe gesoteer is in kaneelsuiker en bietjie botter.
2. Tweekleur-kaaskoek:
Meng die vulselbestanddele en deel in twee. Roer 60 ml (¼ k) kakao by die een deel in. Skep die wit deel in die voorbereide kors, gevolg deur die sjokolade. Bak soos beskryf.
3 Neutekaaskoek
Smelt bietjie suiker in ’n pan, voeg amandels of gemengde neute by en roer tot die amandels effe gekarameliseer is. Sprinkel oor die koek.
4. Bessiekaaskoek
Verhit 150 g bessies saam met sowat 60 ml (¼ k) suiker of versoeter en 30 ml (2 e) sterk bessie-rooibostee tot die bessies net sag maar nie stukkend gekook is nie. Spons 5 ml (1 t) gelatien in 30 ml (2 e) rooibostee en verhit tot gesmelt. Meng die bessiemengsel hierby in en skep oor die afgekoelde kaaskoek. Laat stol. Versier met ekstra vars bessies indien verkies.
Lees ook: Carmen Niehaus se gesonder ontbytresepte uit Lekker & Goed