Hier is algemene tienerkwessies wat tieners dikwels eerder met hul psigiater bespreek as met jou. Psigiater dr. Laura Comrie gee ook raad oor hoe om ’n vertrouensverhouding met jou tiener te skep. Deur Suzanne Kotzé
Die tienerjare is ’n tydperk van oorgang van kindwees tot volwassene. Tieners het ’n sterk behoefte daaraan om onafhanklik te wees; juis daarom stoei hulle om afhanklik van hulle ouers te word.
“Vandag se tieners is ongeduldig, oorlaai met media en vermaak, ‘techno savvy’ en straatwys. Tog, terwyl hulle al hierdie kennis het, het hulle nie die bewustheid of volwassenheid nie en is emosioneel naïef.” SADAG-The South African Depression and Anxiety Group. Juis daarom is ’n goeie verhouding met ouers nodig. Veral sodat tieners die vrymoedigheid kan hê om oor tienerkwessies te praat waarvoor hulle dalk nog nie self emosioneel volwasse genoeg is nie.
Ons het met Kaapse psigiater, Dr. Laura Comrie van The Mind Kind Doctor, gesels aangesien sy dikwels met tieners werk.
Wat is die mees algemene tienerkwessies waaroor jou tienerpasiënte met jou gesels?
- Middelmisbruik
- Selfskade
- Voedselbeperkings en opgooi (purging) word gebruik om gewig of liggaamsvorm te beheer. Lees meer hier.
- Selfdoodgedagtes (Volgens SADAG –is selfdood die tweede grootste oorsaak van sterftes in die 15-24 ouderdomsgroep)
- Seks
- Seksuele misbruik
- Seksuele identiteit (ouers is baie konserwatief hieroor en tieners vind dit dikwels moeilik om hieroor te praat)
Hoe kan jy ’n verhouding van wedersydse vertroue met jou tiener skep?
1. Hou kommunikasiekanale oop
Moenie reageer of kwaad word as jou tiener vir jou iets vertel wat vir jou vreemd is of bekommerd laat voel nie. Dit stoot jou kind net verder weg. Bly kalm en probeer gepas reageer. Ouers word dikwels kwaad omdat hulle bang is, as kinders oor kwessies soos selfskade praat. Jy kan later beheer verloor (uitfreak) as jy met jou lewensmaat, vriendin of terapeut daaroor gesels.
2. Hê die moeilike gesprekke ook
Moenie wegskram daarvan om oor moeiliker of ongemaklike onderwerpe soos menstruasie, seks of pornografie te praat nie. Vertel eerder self vir jou kind oor hierdie dinge sodat hulle gemaklik voel om vir jou vrae te vra of ander goed met jou te deel.
3. Wees konsekwent
Wees konsekwent met jou grense en gevolge. Dit laat tieners veilig voel en hulle weet waar jy die streep trek. Moet egter nie te streng wees sodat jou tiener die reëls eerder breek en daaroor jok nie. Moet ook nie instem net omdat ‘almal anders dit doen nie’.
4. Sorg vir alleentyd met jou tiener
Tieners het heimlik ’n behoefte aan alleentyd met ouers. Al skop hulle teë en skram hulle weg, is dit belangrik om alleentyd ’n weeklikse instelling te maak. Dit hoef nie iets ‘groots’ te wees nie, dit kan so eenvoudig wees soos ’n koffie voor skool. Probeer om iets te doen waarvan jou tiener hou eerder as om jou tiener te dwing om iets te doen waarvan jy hou.
5. Kry hulp
Moenie skaam wees om hulp te vra as jou tiener sukkel nie. Dikwels speel gesinsverhoudings en ouers se gedrag ook ’n rol in kinders en tieners se kwessies. Ouerskap of gesinsberading is dikwels nodig. Die meeste skole het ook skoolsielkundiges en ons sien dikwels dat dit ’n groot verskil maak aan pasiënte wat die skoolsielkundige ook sien. Daar is ook ’n magdom aanlyn-ondersteuningsgroepe vir ouers met tieners wat met verskillende kwessies sukkel. Dit help om met ander ouers te gesels. Die ondersteuningsgroep vir ouers van Glenbrook Practice is een wat my pasiënte se ouers gereeld gebruii.
Dr. Laura Comrie
Dr. Comrie is ’n mediese dokter wat in psigatrie spesialiseer het. Sy maak gebruik van’ n kombinasie van praat-terapie en medikasie. Besoek dr. Laura Comrie se webwerf www.mindkind.co.za, Facebook blad of Instagram blad vir nog inligting of om ‘n afspraak te maak.
Lees ook: Tieners se geestesgesondheid; vyf dinge om te weet