Lipvullers, wat is dit en hoe werk dit?

Dalk het jy soos baie ander vroue ’n vooropgestelde idee oor lipvullers, maar het jy geweet, behalwe dat dit volume gee aan dun lippe, word lipvullers voorgeskryf vir mense wat sukkel met droë lippe en ook vir die wat simmetrie op hul lippe wil herstel. Of dalk het jy eenvoudig net gewonder wat lipvullers is en hoe dit werk? Dan is hierdie artikel vir jou. Dr Jan Nel van CTDR Aesthetics antwoord ons vrae oor lipvullers en Dr Eugene Goosen verduidelik meer oor die moets en moenies van lipvullers. Saamgestel deur Justine Kroes

21/04/2023

1. Wat is lipvullers?

Dr Jan Nel van CTDR aesthetics verduidelik: “Lipvullers is ’n jeltekstuur wat bestaan uit hialuroonsuur (Hyaluronic acid HA). Hialuroonsuur is ’n natuurlike proteïen wat voorkom in elke liewe sel en weefsel in die liggaam.”

2. Vir wie is lipvullers geskik?

“Ek glo aan ’n natuurlike voorkoms te alle tye. “Opgeblaaste” lippe lyk aan niemand mooi nie, maak nie saak wat sosiale media voorhou nie.

Solank daar nie sistemiese probleme is soos akute infeksie, bindweefsel of outoimmuunsiektes nie, is dit veilig vir elke man en vrou bo die ouderdom van 21 jaar. Jou lippe is nog in ’n ontwikkelende fase en word nie voor dan aanbeveel nie.”

Lipvullers werk ook fantasties vir mense wat sukkel met droë lippe, die hialuroonsuur hidreer die lippe op ’n sellulêre vlak. Lipvullers is ook geskik vir mense om simmetrie te herstel en ook vir lippe wat verdun het as gevolg van veroudering.

Dr Jan Nel CTDR Aesthetics

3. Hoe werk die proses?

Ons behandel 25 minute voor jou afspraak jou lippe met ’n lokale verdowingsjel en dan volg die prosedure. Die vuller word met ’n klein, dun naaldjie in die korrekte areas ingespuit. Die prosedure neem so 30 minute.

4. Sal my lippe opgeswel lyk na my lipvuller prosedure?

Die lippe mag heel moontlik bietjie swel, daar mag ook effense kneusing wees. Maar wees gerus, als herstel natuurlik oor min of meer 72 uur. Jy sal kan voortgaan met jou normale daaglikse roetine. Na om en by 10 dae sal jy die volle effek van die lipvuller kan sien.  

5. Is lipvullers seer?

Indien jy genoeg tyd gee, minimum 25 minute vir die verdowingsalf om in te skop, is dit ’n heel draaglike prosedure. Dit is nie 100% pynvry nie. Die ‘downtime’ sluit in swelling en kneusing en hang af van die tegniek en hoeveelheid vuller wat ingespuit word. Ek stel voor dat die minimum hoeveelheid wat steeds ’n mooi verskil gaanmaak, ingespuit word en dan na 4 weke ge-evalueer word, verduidelik Dr Jan.

6. Is lipvuller-resultate dadelik sigbaar?

Ja, jy sal ’n goeie indikasie kry van hoe die lippe gaan lyk direk na die procedure, maar onthou daar is ook ’n bietjie swelling teenwoordig. Die swelling hoort te sak drie dae na die prosedure.

Moet nie moed verloor as jy nie dadelik resultate sien nie, jou vuller is nog “aan die werk”; die vuller se hoof eienskap is om water na die area te lok, wat die ‘plumping’ effek gee. Dit gebeur baie subtiel vanaf ongeveer dag sewe waarna die lippe mooi en natuurlik sal opplomp en mooier gaan raak soos die tyd aangaan.

7. Is lipvullers permanent?

“Lipvullers mag nooit permanent wees nie. Jy wil ’n produk gebruik wat so natuurlik as moontlik is aan jou eie liggaam se weefsel asook ’n sagte produk wat maklik ‘mould’ en saam met jou mond beweeg. Selfs ’n klein knoppie is opsigtelik en ongewens. Lipvuller kan tot ’n jaar teenwoordig wees na ’n prosedure maar ek verkies ’n vuller waarvan die effek 6 tot 8 maande hou en wat net so 1 keer per jaar ‘opgetouch’ kan word, verduidelik Dr Jan.

8. Is lipvullers omkeerbaar?

“Ja, lipvullers is 100% omkeerbaar” verduidelik Dr Jan, “ Ons maak gebruik van ’n effektiewe teenmiddel, Hyalase, om ongewenste vuller op te los. Ek stel ook hierdie teenmiddel voor aan enige persoon wat ongelukkig is met vorige behandelings, of selfs as jy net weer jou normale lippe wil hê. Dit is ’n vinnige prosedure, so 15 minute, met min ongemak.”

9. Moets en moenies van lipvullers:

Dr Eugene Goosen van Dr E Goosen Aesthetics deel meer oor die praktiese moets en moenies van lipvullers vir voor en na jou prosedure:

Voor die prosedure

  • Doen bietjie navorsing om min/meer vooraf te weet oor die prosedure, maar nie teveel nie!
  • Wees realisties en besef dat almal verskillend is en dat resultate sal verskil. Deesdae is daar soveel onrealistiese resultate op sosiale media, veral foto’s wat “ge-edit” is. So moet nie onrealistiese verwagtinge hê nie. Gesels eerder met jou Dokter oor wat moontlik is vir jou en jou lip anatomie.
  • Vermy alkohol, bloedverdunners en anti-inflammatoriese medikasie vir tenminste 5 dae voor ’n prosedure tensy dit kroniese medikasie is. Die tipe medikasie kan “bruising” aanhits.
  • Probeer om tenminste twee tot drie weke voor ’n spesifieke geleentheid (bv. verjaarsdag of ’n troue) die prosedure te doen. Sommige kliente genees vinnig maar vir ander dalk langer. Dit gee ook tyd om so bietjie te “tweak” indien nodig.
  • Laat weet jou Dokter vooraf as jy vatbaar is vir koorsblare.
  • Wag 2 weke voor/na ’n filler prosedure voor jy ’n afspraak maak by die tandarts.

Na die prosedure:

  • Probeer om nie aan jou lippe te vat na ’n prosedure nie. Lippe kan steeds sensitief en geswel wees, so gee dit tyd om te genees.
  • Kliente kan ys op die lippe sit as dit opswel na ’n prosedure. Dit sal die swelling vinniger laat sak.
  • Vermy dalk oefening vir 24 uur na die prosedure en vermy enige aktiwiteit wat bloedvloei tot jou gesig vermeerder, dit kan moontlik inflammasie veroorsaak.
  • Vermy enige lip behandelinge (permanent grimering, waks, en massering byvoorbeeld) vir tenminste 2 weke na die prosedure.
  • Kliente moet altyd hul Dokter in kennis stel sou daar enigiets wees wat hul bekommer oor die volgende paar dae na die prosedure.

Sodra lippe gesond is:

  • Lippe kan enigeiets tussen 6 tot 12 maande hou, so maak seker jy begroot om die lippe in stand te hou, veral as jy hou van die resultate. In sommige gevalle kan dit baie langer hou, maar in ander selfs korter ook.
  • Onthou om jou lippe gehidreerd te hou en moet nie vergeet om SPF aan te wend nie.

Lees ook gerus:

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
haarkleurinspirasie
Haarkleur-inspirasie vir jou volgende salonbesoek
error: Content is protected !!