Vol, netjiese wenkbroue bly een van die gewildste semi-permanente skoonheidsbehandelings. Maar as jy tussen microblading en microshading (ook bekend as ombre of powder brows) moet kies, kan die verskil tussen die twee vir baie vroue verwarrend wees.
Albei tegnieke verbeter die proporsie en balans van die wenkbroue, maar die eindresultaat, onderhoud en geskiktheid vir verskillende veltipes verskil aansienlik.
Ons deel die verskil tussen microblading en microshading plus moontlike voordele en nadele van elk. Deur Justine Kroes
Wat is die verskil tussen Microblading en Microshading?
Beide microblading en microshading gebruik klein naalde om kleurpigment onder die vel te plaas en die wenkbroulyn voller en meer gedefinieerd te laat lyk. Die grootste verskil lê in hoe die pigment aangewend word en die eindresultaat wat geskep word.

Microblading
Met microblading word ultra-fyn, haaragtige strepies met die hand geskep om natuurlike wenkbrouhare na te boots. Die pigment word deur klein snytjies in die boonste laag van die vel gedeponeer, wat ‘n baie realistiese en natuurlike resultaat lewer. Dit is ideaal vir mense met yl wenkbroue of gapings wat gevul moet word sonder dat dit soos grimering lyk. Die fyn lyntjies (mits dit reg aangewend word) lyk soos ultrafyn wenkbrouhaartjies.

Microshading (Ombre Brows)
Microshading gebruik ‘n sagte stippel- of skadutegniek waar klein pigmentkolletjies met superfyn naalde in die vel geplaas word. Dit skep ‘n voller, sagte poeier-effek wat soortgelyk is aan die voorkoms van wenkbroupoeier of ‘n wenkbroupotlood. Die tegniek werk veral goed op die met olierige of sensitiewe velle en die resultate hou veel langer as microblading.

Tegniek
Microblading: Haaragtige strepies word elk individueel met die hand geskep.

Microshading: Pigment word in sagte skakerings of stippelaksies aangebring.

Voorkoms
Microblading: Natuurlik en realisties.

Microshading: Meer gepoleerd en voller, soortgelyk aan wenkbrougrimering.

Beste vir veltipe
Microblading: Normale tot droë vel.
Microshading: Olierige, kombinasie en sensitiewe velle.
Duursaamheid
Microblading: Hou gemiddeld 12 tot 18 maande.
Microshading: Hou gemiddeld 18 tot 36 maande, afhangend van jou veltipe en leefstyl.
Voordele en nadele van Microblading

Voordele
Skep ‘n baie natuurlike voorkoms met ultrafyn haartjies (weereens mits dit reg aangewend word, doen navorsing oor jou terapeut).
Ideaal vir yl wenkbroue of wenkbroue met klein gapings.
Perfek vir die wat ‘n “geen-grimering” voorkoms verkies.
Kan die wenkbroue voller laat lyk sonder om oordrewe voor te kom (mits dit natuurlik en fyn aangewend word).
Nadele
Nie die beste opsie vir olierige vel nie, aangesien die fyn strepies vinniger vaal lyk.
Vereis meer gereelde opknappings om die haarstrepies skerp te hou en resultate hou gewoonlik nie so lank soos microshading nie.
Die genesingsproses kan minder voorspelbaar wees.
Voordele en nadele van Microshading

Voordele
Hou gewoonlik langer as microblading.
Werk uitstekend op olierige of sensitiewe velle.
Skep ‘n voller, meer gedefinieerde voorkoms.
Minder geneig tot wenkbroue wat te vinnig vaal raak.
Die genesingsproses is dikwels meer voorspelbaar.
Nadele
Lyk minder soos individuele haartjies.
Kan aanvanklik meer soos grimering lyk.
Nie die beste keuse vir iemand wat op soek is na ‘n ultra-natuurlike resultaat nie.
Watter een moet jy kies?
As jy die mees natuurlike voorkoms moontlik wil hê en relatief droë tot normale vel het, kan microblading die beter opsie wees. Indien jy voller, meer gedefinieerde wenkbroue verkies, gereeld wenkbroupoeier gebruik of ‘n olierige veltipe het, sal microshading of ombre brows waarskynlik beter resultate lewer.
Baie wenkbrou-kunstenaars bied ook ‘n kombinasiebehandeling aan, bekend as combo of hybrid brows. Hierdie tegniek kombineer die haaragtige strepies van microblading met die sagte poeierskakering van microshading vir ‘n resultaat wat beide natuurlik én voller lyk.
Die belangrikste is om ‘n ervare en gekwalifiseerde kunstenaar/terapeut te kies wat jou veltipe, leefstyl en gewenste eindresultaat in ag neem voordat jy met die proses begin. Psst, moet nie skaam wees om inspirasiefotos saam te neem nie!





