droë vel serum
droë vel serum

Droë vel? So kies jy die regte serum (en wintervelsorgwenke)

Droë vel kan uitdagend wees gedurende die winter. Vinnigabsorberende serums vol kragtige bestanddele kan help met hidrasie en om jou vel minder dof te laat lyk. Maar hoe kies jy die regte serum vir jou droë vel? Dit is nie altyd so maklik nie, veral wanneer jy dalk verward is  oor droogheid en dehidrasie. Ons verduidelik hoe jy die beste serums vir droë vel kan kies, belangrike bestanddele, wintervelsorgwenke en wat die verskil tussen droë en gedehidreerde vel is. Deur Suzanne Kotzé

Droë vs. gedehidreerde vel: Wat is die verskil?

“Dit is belangrik om eers te verstaan wat die verskil is tussen droë versus gedehidreerde vel,”sê Kaapse dokter Alek Nikolic.

’n Droë vel is net soos olierige- of kombinasievel voorafbepaald. So dit is geneties en jou ma of pa sukkel waarskynlik ook hiermee. Mense met droë velle sukkel waarskynlik al hulle hele lewe lank hiermee.

Dit word hoofsaaklik deur ’n genetiese tekort of lae produksie van sebum veroorsaak. Sebum speel ’n noodsaaklike rol om die buitenste laag van ons vel te beskerm en waterverlies te voorkom. Dit help ook om jou vel soepel te hou met ’n eweredige tekstuur. Mense met droë-veltipes kla gereeld dat hulle vel dof lyk en styf en jeukerig voel (reg deur die jaar). 

Droë velle het ’n tekort aan sebum, terwyl gedehidreerde velle ’n tekort aan vog of water het. Selfs olierige of kombinasievel kan gedehidreer raak. Tekens sluit in styfheid, dofheid, fyn lyntjies en plooie wat meer sigbaar is.

“Beide ’n droë vel en ’n gedehidreerde vel lyk amper dieselfde op die oog af, verduidelik velkenner Sonette Donker. “Hoewel ’n droë vel kleiner (amper onsigbare) porieë sal hê. Boonop is ’n droë vel iets waarmee jy al die meerderheid van jou lewe sukkel, terwyl ’n gedehidreerde vel een is waar die dehidrasie kom en gaan.”

Droë vel benodig olieryke, versagtende produkte, terwyl gedehidreerde vel waterbindende, bevogtigende bestanddele benodig. Die beste serums spreek dikwels beide behoeftes aan.

“Dit is belangrik om te onthou dat velsorgprodukte kan help om jou veltipe te balanseer, maar dit kan nooit jou genetiese veltipe permanent verander nie,” sê Sonette Donker.

8 beste serumbestanddele vir droë vel

Wanneer jy op soek is na ’n serum vir jou droë vel, fokus op formules wat voed, beskerm en bevogtig.

1. Hialuroonsuur

Hialuroonsuur is bekend vir sy vermoë om tot 1 000 keer sy gewig in water te hou. Dit trek vog in die vel in, wat dit voller en meer gehidreerd laat lyk. Soek multimolekulêre gewig hialuroonsuur vir dieper penetrasie en blywende effekte.

Lees meer hier: 12 dinge wat jy omtrent hialuroonsuur moet weet

2. Gliserien

Gliserien is ’n humektant wat water aantrek en behou, uit die lug of vanuit jou vel se dieper lae. Dit help jou vel om sy sperfunksie (wat keer dat vog ontsnap) te handhaaf. Gliserien is ’n goeie bestanddeel vir koue, droë klimate.

3. Squalaan

Squalaan is ’n versagtende middel wat van plante afkomstig is en die vel se natuurlike sebum naboots. Dit is uitstekend om die vel te versag, die sperfunksie te herstel en te hidreer sonder om olierig te wees. ’n Goeie keuse vir senstiewe velle.

4. Seramiede

Seramiede is lipiede wat natuurlik in die vel voorkom en noodsaaklik is om die vel se sperfunksie gesond te hou. Serums met seramiede kan keer dat jou vel vog verloor en dit ook teen omgewingsfaktore (soos kouer temperature) te beskerm.

5. Niasienamied (Vitamien B3)

Alhoewel niasenamied nie direk bevogtig nie, help dit om jou sperfunksie te verbeter, sensitiwiteit te verminder en help dit ander bevogtigende bestanddele om meer doeltreffend te werk.

6.  Pantenol (Provitamien B5)

Pantenol is strelend en bevogtigend, perfek vir droë en geïrriteerde vel. Dit het ook anti-inflammatoriese eienskappe en help om jou velversperring te herstel.

7. Peptiede

Peptiede is kort kettings van aminosure wat kan help om beskadigde vel te herstel en elastisiteit te verbeter. Hulle ondersteun die velstruktuur en kan help om vog oor tyd te behou.

8. Olies soos roosbottel (rose hip), jojoba of maroela

Hierdie olies is propvol essensiële vetsure en antioksidante wat help om droë vel te bevogtig, te herstel en te beskerm.

Probeer gerus van hierdie serums

Clarins Hydra-Essentiel [HA2] Bi-Phase Serum (R1060 vir 30ml) bevat dubbel die hoeveelheid hialuroonsuur as die vorige reeks. Die kombinasie van ’n duo hialuroonsure plus die planbestanddeel Organic Leaf of Life Extract werk saam om vir langer as tevore hidrasie te bied en jou vel se voglakke te herbalanseer. Boonop plomp dit die vel op en herstel jou vel se sperfunskie.
Eau Thermale Avène Hyalorun Active B3 Concentrated Plumping Serum (R790) bevat 6% niasinamied en 1.5% hialuroonsuur. Hierdie serum bevat ook net agt bestanddele, wat dit geskik maak vir sensitiewe vel.
Die staatmakerserum bevat hialuroonsuur en vitamien B5. R1880, Online skin shop
ISDIN Isdinceutics Hyaluronic Concentrate Serum (R790, Dermastore) bevat verskillende gewig hialuroonsuur om jou vel op verskillende vlakke te bevogtig.
Filorga Hydra-Hyal Hydrating plumping serum (R1030 vir 30ml, Just Skin Clinic) bevat vier verskillende gewigte hialuroonsuur.

Wenke vir droë vel gedurende die winter

1. Wend jou serum aan ’n klam vel

Wend jou serum aan net nadat jy jou gesig gewas het (of terwyl jou tonikum nog klam op jou vel is). Dit help om die water in te seël.

2. Onthou jy het steeds room na jou serum nodig.

Jou vogroom seël jou vel en help dat die serum se aktiewe bestanddele ‘binne’ bly en beter werk.

3. Vermy harde reinigers

Skuimende reinigers, of reinigers wat hoë konsentrasies alfa-en beta- hidroksiesuur bevat, kan jou vel se natuurlike olies stroop gedurende die koue wintermaande.

Kies ’n strelende reiniger wat sagkens werk omdat reinigers jou vel kan uitdroog. As jy ’n reiniger gebruik wat glikol- of salisielsuur bevat, wissel dit af met ’n reiniger wat ook bevogtigende bestanddele bevat.

4. Oorweeg ’n humidifeerder (humidifier)

Veral as jy in ’n area (soos Gauteng en die Vrystaat) bly wat droog is gedurende die winter. Dit help om die vogvlakke binnenshuis te behou.

5. Korter, louwarm storte

Lang, warm storte en baddens kan jou vel se olie stroop. (Hou dit vir noodgevalle; soms is ’n lang, warm bad terapeuties en nodig). Hou jou daaglikse stort kort en louwarm.

6. Skilfer saggies af

’n Sagte afskilferaar een tot twee keer per week is goed om van dooie vel ontslae te raak, en help dat aktiewe betanddele (soos die in jou serum) beter penetreer.

Jou droë velsorgroetine

  1. Gesigwas (sagte was).
  2. Tonikum (geen alkohol) of bevogtigende sproei
  3. Serum (kies hidrerende serum soggens en serum wat herstel of retinol bevat saans).
  4. Oogroom
  5. Vogroom
  6. Gesigolie saans (opsioneel)
  7. Sonskerm bedags (nie opsioneel!)

Serumwenke

Meer as een serum

Onthou jy kan meer as een serum gebruik. Jy kan byvoorbeeld soggens ’n vitamien C serum gebruik (en wag dat dit absorbeer) en dan ’n serum wat hidreer daarna gebruik.

Klaviervingers

Gebruik ‘klaviervingers’ om jou serum aan te tik.

Borsel jou tande/smeer lyfroom aan nadat jy serum aangewend het

Dit gee jou serum kans om lekker in te trek voordat jy vogroom aanwend.

Van ons gunsteling serum om te probeer

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
blonde Rolanda Marais
Blonde Rolanda Marais en haar haarstilis se wenke vir blondwees
error: Content is protected !!