Die meeste van ons weet ons moet gereeld afskilfer, maar hoekom en hoe kies jy die regte afskilferaar? Hier is al jou afskilferingsvrae beantwoord. Saamgestel deur Suzanne Kotzé
Naomie Groenewald van die Isa Carstens Academy beantwoord ons afskilferingsvrae
Hoekom moet ons afskilfer?
Afskilfering verwyder dooie velselle vanaf die stratum corneum (die buitenste laag van die epidermis) Dit bevorder selhernuwing, verbeter die vel se tekstuur en dra by tot ’n gesonder en meer stralende voorkoms van die vel.
Onder normale omstandighede ondergaan jou vel voortdurend ’n natuurlike hernuwingsproses. Hierdie proses neem gewoonlik ’n paar weke en word beïnvloed deur faktore soos ouderdom, hidrasievlakke en omgewingstoestande. Jonger velle het oor die algemeen ’n vinniger hernuwingsproses as ouer velle. Sekere veltoestande kan ook die proses versnel of vertraag
Verskillende tipe afskilferaars
- Fisiese of meganiese afskilfering
- Chemiese afskilfering
- Ensiem-afskilfering
Fisiese of meganiese afskilfering
Fisiese afskilfering gebruik ’n skuuraksie om dooie velselle van die veloppervlak te verwyder. Dit sluit produkte en hulpmiddels soos skropmiddels, afskilferings-handskoene en gesigborsels in.
Die afskilfering vind plaas deur wrywing wat die opgehoopte dooie velselle fisies losmaak en verwyder.
Chemiese afskilfering
Chemiese afskilfering maak gebruik van sure soos alfa-hidroksisure (AHAs), beta-hidroksisure (BHAs) en poli-hidroksisure (PHAs). Hierdie bestanddele werk deur die bindings tussen dooie velselle op te los, sodat hulle makliker van die veloppervlak kan afskilfer. Anders as fisiese afskilfering word geen skuuraksie benodig nie.
Wat hierdie sure van mekaar onderskei, is hoofsaaklik hul molekulêre grootte, oplosbaarheid en die spoed waarteen hulle in die vel binnedring.
Die verskil tussen AHAs, PHAs en BHAs
Alfa-hidroksisure
AHAs het oor die algemeen kleiner molekules, wat beteken dat hulle vinniger en dieper in die vel kan penetreer. Dit maak hulle baie effektief vir die verbetering van veltekstuur, hiperpigmentasie en tekens van veroudering. Dit verhoog egter die risiko vir irritasie, veral by sensitiewe velle.
Bekende AHA’s sluit in glikolsuur, askorbiensuur, amandelsuur (Mandelic Acid) melksuur- en salisielsuur.
Poli-hidroksisure
’n Maklike manier om die verskil tussen AHAs en PHAs te verstaan, is om aan ’n reis te dink.
AHAs is soos om na jou bestemming te vlieg; jy kom vinnig daar en sien dikwels vinniger resultate, maar daar is ook ’n groter risiko vir turbulensie onderweg, in hierdie geval irritasie, rooiheid of sensiwiteit.
PHAs is soos om na dieselfde bestemming te ry; jy kom dalk stadiger daar, maar die reis is gewoonlik gemakliker en met minder risiko’s. Omdat PHAs groter molekules het, dring hulle stadiger en meer oppervlakkig in die vel in, wat hulle ‘n uitstekende keuse maak vir sensitiewe of reaktiewe velle.
Bekende PHA’s sluit in glukonolaktoon (afkomstig van gluskose), laktobioniese suur (afkomstig van melksuiker), galaktose (afkomstig van suiker) en maltobioniese suur.
Beta-hidroksisure
BHAs verskil weer van beide AHAs en PHAs omdat hulle olie-oplosbaar is. Terwyl AHAs en PHAs hoofsaaklik op die veloppervlak werk, kan BHAs deur olie beweeg en die porieë binnedring. Daarom is hulle veral geskik vir olierige, aknee-geneigde vel en die behandeling van verstopte porieë en swartkoppies.
Alhoewel AHAs, BHAs en PHAs almal help om dooie velselle te verwyder, lê die verskil dus nie net in hoe sterk hulle is nie, maar ook in waar hulle werk, hoe vinnig hulle daar kom en vir watter veltoestande hulle die beste geskik is.
Bekende BHA’s sluit in salisielsuur, Betaïnesalisilaat en Lipo-hidroksisuur.
Ensiem-afskilfering
Ensiem-afskilfering gebruik natuurlike ensieme, afkomstig van vrugte soos papaja en pynappel. Hierdie ensieme breek die proteïene af wat dooie velselle aan die veloppervlak bind, wat lei tot ’n sagte en meer beheerde vorm van afskilfering. Daarom word ensiem-afskilferaars dikwels aanbeveel vir sensitiewe veltipes
So watter tipe afskilfering is die beste vir jou?
Daar is nie noodwendig een afskilferaar wat beter as die ander is nie; dit hang af van jou veltipe, veltoestand en persoonlike voorkeur. As skoonheidsterapeut is ek egter oor die algemeen versigtig vir meganiese afskilfering op die gesig.
Meganiese afskilferaars vir die ‘skoon’ gevoel

Meganiese afskilferaars, soos skropmiddels, borsels en afskilferingshandskoene, kan soms te aggressief wees vir die delikate vel van die gesig. Hoewel baie mense van daardie “skoon” en gladde gevoel hou wat ’n skropmiddel gee, is dit belangrik om te onthou dat nie alle afskilferende deeltjies dieselfde is nie.
Sommige produkte bevat growwe of ongelyke deeltjies wat klein mikroskopiese beserings in die vel kan veroorsaak. Indien jy wel van fisiese afskilfering hou, kies produkte met gladde, afgeronde en omgewingsvriendelike (“earth-approved”) deeltjies, en vra gerus jou velterapeut vir aanbevelings.
Chemiese of ensiem-afskilfering

Vir die meeste mense is chemiese of ensiem-afskilfering dikwels ’n meer beheerde en voorspelbare opsie.
Die bestanddele is belangrik
Die geheim lê egter nie net in die tipe afskilfering nie, maar ook in die bestanddele.
Olierige en aknee velle
Olierige en aknee-geneigde vel reageer dikwels goed op BHAs soos salisielsuur.
Droë of verouderende vel
Droë of verouderende vel kan baatvind by AHAs soos melksuur of glikoolsuur.
Sensitiewe velle
Sensitiewe velle verkies weer dikwels PHAs of ensiem-afskilferaars.
Die goeie nuus is dat daar vandag ’n afskilferingsopsie vir byna elke veltipe bestaan.
Dit is ook belangrik om te onthou dat afskilfering nie die enigste manier is om selvernuwing te ondersteun nie. Moenie die waarde van ‘n goeie vorm van Vitamien A onderskat nie.
Afskilfering en allergieë
Laastens is dit belangrik om bewus te wees van moontlike allergieë wanneer jy afskilferingsprodukte kies. Sommige ensiem-afskilferaars bevat byvoorbeeld bromelien afkomstig van pynappel, terwyl mandelsuur afkomstig is van bitter amandels. Indien jy ’n bekende allergie vir hierdie bestanddele het, is dit altyd raadsaam om eers met ‘n professionele persoon te konsulteer voordat jy die produk gebruik.
Die beste afskilferaar is uiteindelik nie noodwendig die sterkste een nie, maar die een wat die beste by jou unieke velbehoeftes pas.
Kan mens te veel afskilfer?
Absoluut. Een van die grootste foute wat ek in die praktyk sien, is oor-afskilfering. Baie mense dink dat as ’n bietjie afskilfering goed is, meer noodwendig beter moet wees. Ongelukkig werk die vel nie so nie.
Wanneer die vel te gereeld of te aggressief afgeskilfer word, kan die beskermende “barrier” beskadig word. Dit lei dikwels tot probleme soos rooiheid, irritasie, branderigheid, verhoogde sensitiwiteit en droogheid.
Interessant genoeg kan sommige mense selfs ervaar dat hul vel nóg olieriger raak. Dit gebeur omdat die vel probeer kompenseer vir die versteuring van die “barrier” deur meer olie te produseer. Met ander woorde, die vel begin harder werk omdat iets nie reg is nie.
Dit is presies waar die waarde van professionele leiding inkom. Nie elke veltipe benodig dieselfde tipe afskilfering of dieselfde frekwensie van gebruik nie. Wat uitstekend werk vir ’n olierige vel, kan heeltemal te veel wees vir iemand met ’n sensitiewe of droë vel.
’n Professionele velanalise kan help om te bepaal watter tipe afskilferaar die beste by jou vel pas, hoe gereeld dit gebruik moet word en wanneer dit tyd is om die roetine aan te pas. Die doel van afskilfering is immers om die vel gesonder te maak; nie om die vel voortdurend in ’n toestand van herstel te plaas nie.
Soos met die meeste dinge in velversorging, gaan dit nie oor hoeveel jy doen nie, maar eerder oor hoe slim en doelgerig jy dit doen.
Professionele afskilferings

Wanneer daar oor afskilfering gepraat word, is dit belangrik om te verstaan dat daar ’n plek is vir beide tuis-afskilfering en professionele afskilferingsbehandelings. Die een vervang nie die ander nie; inteendeel, hulle werk dikwels die beste saam as deel van ’n gebalanseerde velversorgingsplan. Tuisprodukte is spesifiek geformuleer om veilig en gereeld deur die verbruiker gebruik te word.
Professionele afskilferings, daarenteen, word deur opgeleide skoonheidsterapeute uitgevoer en is ontwerp om meer doelgerigte resultate te lewer. Die grootste verskil lê gewoonlik in die konsentrasie van die aktiewe bestanddele, die pH-vlakke van die produk en die manier waarop die formulering saamgestel is. Hierdie faktore bepaal hoe diep die afskilferaar kan werk en watter resultate verwag kan word.
Baie mense raak angstig wanneer hulle die woord “professionele afskilfering” hoor, maar daar is geen rede om bang te wees vir professionele behandelings nie. Die sleutel is om seker te maak dat jy jou vel toevertrou aan ’n gekwalifiseerde professionele persoon wat met betroubare produkte en bewese protokolle werk. Dis belangrik om te onthou dat professionele behandelings steeds ’n waardevolle rol speel in die verbetering van jou algehele velresultate.Hulle kan help om spesifieke veluitdagings meer effektief aan te spreek en die resultate van jou tuisversorging verder te ondersteun.
Die geheim is nie om jou vel so hard as moontlik te laat werk nie, maar om dit slim te ondersteun. ’n Bietjie afskilfering, die regte bestanddele en baie sonskerm kan al ’n groot verskil maak.
Stylvol-gunstelinge: afskilferaars
Hier is van ons gunsteling-afskilfelferaars














