Van ‘baba Botoks’ tot die moets en moenies van Botoks hier is ’n kundige dokter se raad oor alles wat jy moet weet. Plus, ons deel ons eie Botoks-ervaring. Deur Justine Kroes
Maar eers wat is Botoks?
Botoks is oorspronklik gebruik om oog-spasmas te beheer maar is in 2010 deur die FDA goedgekeur vir kosmetiese gebruik. Botoks bestaan uit ’n proteiën-kompleks genaamd Botulinium-toksien tipe A. In Suid-Afrika gebruik ons Botulinium-toksien soos die van handelsmerke Allergan en Galderma.
Hoe werk Botoks?
Botoks blokkeer die neurotransmitters wat verantwoordelik is vir spierbeweging wat plooie veroorsaak. Botoks veroorsaak ’n tydelike ontspanning van jou spiervesels. Die resultaat hiervan is minder sigbare lyntjies omdat die gesigspiere wat gewoonlik hierdie lyntjies veroorsaak nou deur die Botoks geïnhibeer word. So verduidelik mediese en estetiese dokter Dr Carolyn Whale.
Kan enigiemand Botoks inspuit?
Nee, in Suid-Afrika kan net ’n gekwalifiseerde HPSCA-geregistreerde mediese dokter of tandarts Botoks inspuit, verduidelik Dr Whale. Die persoon moet die nodige opleiding ontvang om Botoks te administreer.
Justine se raad: Doen jou huiswerk, soek kundiges in hul veld, en gaan vooraf vir ’n konsultasie en vra al jou vra om seker te maak jy het die regte persoon gevind. Onthou goedkoper is in hierdie geval nie noodwendig beter nie. Praat met jou dokter oor jou begroting, en wat hy of sy aanbeveel.
Is Botoks seer?
“Nie noodwending nie nee, party pasiënte ondervind ’n effense gevoel van ongemak op sekere gedeeltes op die vel.
Justine se ervaring: Ek is van kleintyd af vreeslik skrikkering vir naalde en inspuitings, maar die inspuitings is net anders. Hierdie was my tweede rondte Botoks, so ek het geweet wat om te verwag. Die naald is so fyn ek voel dit skaars op sekere gedeeltes. Die enigste plek waar ek ’n effense prik gevoel het is op die boonste gedeelte van my voorkop waar die vel naby aan die gesigbeen sit en waar daar minder vetjies is.
Hoe lank neem die Botoksprosedure?
Dr Carloyn Whale het ’n deeglike konsultasie gedoen en vrae gevra oor wat ek wil bereik en wat ek as my probleemareas identifiseer. Sy verduidelik dan deeglik waar sy gaan inspuit, hoeveel eenhede gebruik gaan word, hoe dit werk en wat om te verwag.
Die inspuitings self het nie langer as vyf minute geneem nie. Was dit nie vir die lekker gesels met Dr Whale nie was ek in en uit in minder as 25 minute!
Is daar enige aftyd na Botoks?
Justine sê: Nee gladnie, ek was in en uit in minder as ’n halfuur en daarna reguit na ’n skool-funksie toe. Dr Whale het sagkens ’n getinte sonskerm oor die areas waar sy ingespuit het, aangewend omdat sy my grimering met ’n alkohol lappie effens verwyder het daar waar sy ingespuit het. Niemand sou sê ek was nou net vir ’n behandeling gewees nie. Die perfekte middagete-uur -behandeling.
Die beste ouderdom om met Botoks te begin?
Dr Whale sê: vanaf jou laat 20s of vroeë 30s, of wanneer fyn lyntjies en plooie op die middel tot boonste gedeelte van jou gesig meer sigbaar begin raak.
Daar is ook ’n groot beweging wat hierdie metode van Botoks-behandeling gebruik as ’n voorkomende teenverouderingsbehandeling om te keer dat plooie nie so diep raak namate ons ouer word nie, verduidelik Dr Whale.
Wat is ‘Baby Botoks’ en hoe word dit gebruik?
Dit word ook gewoonlik gebruik op jonger pasiënte (20’s en 30’s) wat op soek is na voorkomende estetiese behandelings vir lyne en plooie.” Hier is dit ’n geval dat die spreuk ‘prevention is better than cure’ beslis waar is, sê Dr Whale.
Advies vir Botoks-beginners?
- Vind ’n professionele mediese kundige wat goed opgelei is in estetiese behandelings. Dit is baie belangrik vir jou om te weet die Botoks word reg toegedien sodat dit nie migreer na enige ongewenste spiere nie, is Dr Whale se raad.
- “Moet gladnie senuweeagtig wees oor Botoks nie sê” Dr Whale. “Jy sal nie net die resultate geniet nie, maar jy sal sien daar is niks om jou oor te bekommer nie.”
- “Moenie Botoks as die enigste estetiese behandling sien nie. Daar is vele ander behandelings en prosedures om in ag te neem om ’n natuurlike en grasievolle benadering tot teenveroudering te volg. Gesels met jou praktisyn oor wat jy wil bereik en saam kan julle ’n plan beraam” sê Dr Whale.
Die moets en moenies vir voor en na jou Botoks behandeling:
Dr Carolyn Whale se raad:
Moet:
- Direk na jou behandeling – frons en lig jou wenkbroue soveel as moontlik. Dr Carolyn Whale het dit so vir my verduidelik – “frons en lig jou wenkbroue en glimlag beurtelings wyd in die kar op pad huistoe om seker te maak die Botoks word goed geabsorbeer op al die regte plekke.”
- Swelling van die area kan plaasvind (almal reageer anders), jy kan voor die behandeling van ’n yssakkie gebruik maak om swelling te verminder.
- Onthou die volle effek van Botoks neem drie tot sewe dae om te wys, wees dus geduldig.
Moenies:
- Vroue wat borsvoed of swanger is kan nie Botoks gebruik nie.
- Geen oefening direk na jou behandeling nie – die verhoging van bloedvloei na ingespuite areas kan die effektiwiteit van die Botoks verminder.
- Moet ook nie jou gesig hard vryf nie sodat die ingespuite Botoks nie na ander spiere in jou gesig versprei nie.
- Moet vir 4 tot 6 uur na Botoks nie gaan lê nie – die botoks neem ’n paar uur om te vestig en as jy gaan lê kan dit moontlik na ander spiere versprei.
- Vermy enige skoonheidsbehandelings op die gesig vir minstens twee weke na Botoks – dit kan ook veroorsaak dat die Botox na ander spiere versprei.
- Moenie alkohol en bloedverdunners drink voor jou Botox behandeling nie – dit kan lei tot ‘Botox bruising’.
- Bly uit die son en vermy enige intense hitte vir die volgende 24uur (geen sonbed, saunas of direkte sonlig).
Justine se ervaring:
• Neem ’n ‘voor’ en ‘na’ foto van jou behandeling om te sien watter groot verskil die behandeling werklik maak. Dit is ook handig om vir jou praktisyn te wys vir opvolg-behandelings.
• Dr Whale het verduidelik my gesig is baie ‘expressive’ en dus is my grootse probleemarea die diep lyne op my voorkop en die frons lyne tussen my oë
• Doen dit vir jouself – jy weet watter plooie en lyntjies jou die meeste pla, hoekom nie hul effens versag nie?
Probeer eerstens die “Baby Botox” metode as jy huiwerig is.
• Die resultaat? My gesig lyk vir my minder “moeg” en net verfris. Boonop gaan sit my onderlaag nie meer in daardie diep lyne op my voorkop wat voorheen baie sigbaar was nie, maar wend nou foutloos aan.
Meer oor Dr Whale
Dr Whale is ’n geregistreerde mediese dokter met ’n spesiale belangstelling in die estetiese en mediese teenverouderingsveld. Haar kundigheidsareas sluit Botoks, hialuriensuur-vullers, chemiese afskilfering, threads, mesoterapie en vele meer in. Dr Whale maak gebruik van subtiele teenverouderingsmetodes sonder chirurgie om seker te maak haar pasiente lyk steeds natuurlik en grasievol. Jy kan Dr Whale hier kontak vir enige raad of konsultasie.
Lees ook: 5 Botoks mites beantwoord