Lieflike lipsalf: Ses gunstelinge

Lipsalf is iets wat ons almal graag gebruik, hou een in jou handsak, op jou bedkassie of in die motor om daardie lippe sysag en gehidreerd te hou! Hier is ’n paar van ons gunsteling staatmaker lipsalwe.

Justine se gunstelinge

Die Labello Crayon in Coral Crush (R69,99)

Die Labello Crayon in Coral Crush (R69,99) is helderder as wat jy verwag, dit gee die mooiste koraal, amper pienk, skakering aan my lippe en hou hulle sag en bevogtig. Die kleur hou nie so lank nie maar ek wend dit gereeld genoeg aan. Dit laat nie my lippe taai voel nie. Dis boonop beskikbaar in vier ander skakerings ook.

The Body Shop Lip Juicer-lipsalf (R110)

The Body Shop se Lip Juicer-lipsalf (R110) is ’n groot gunsteling – ek hou veral van die verpakking; as ek my hand in my deurmekaar handsak druk, kan ek dit maklik raakvat! Die veskillende geure is so lieflik, jy wil dit sommer eet – my gunsteling is die Acai, Blueberry & Dragonfruit-geur en dit skep so ’n effense rooi skakering. Die lipsalf bevat The Body Shop se kenmerkende galambotter, maroela en olyfolie wat my lippe gehidreerd en sag hou.

Woolworths Tinted Lip Balm in Cherry Blossom (R120)

Woolworths se Tinted Lip Balm in Cherry Blossom (R120) gee die sagste pienk glans op my lippe. Die kleur is mooi sag en net reg vir elke dag se dra. Ek dra dit sommer onder my masker en as ek my masker afhaal sit die effense kleur nog. Die formule is lig, hidrerend en laat my lippe ook nie blink en taai voel nie.

Suzanne se gunstelinge

Clarins Lip Oil in Red Berry (R355)

Clarins Lip Oil in Red Berry (R355) bevat plantolie wat jou lippe voed. Soos Clarins se ander gesig- en lyfolies trek dit vinnig in. Dit is glansend en lyk amper soos lipglans, maar is glad nie taai nie. Ek hou niks van taai lipglans waaraan jou hare vassit as die wind waai nie, maar hierdie salf gee die glans sonder die taai en laat jou lippe heerlik sag voel.

Dr Paw Paw Tinted Peach Pink Balm (R119, Dis-Chem)

Ek gebruik hierdie balsem byna daagliks en na meer as ’n jaar is dit nog nie eens naastenby op nie. Vir dae wat ek nie lus is vir grimering nie, tik ek dit aan my lippe en sommer my wange ook. Die kleur lyk baie mooi op my wange en laat hulle net effe glansend lyk.

Burt’s Bees Lip Shimmer in Apricot (R99, Takealot)

Burt’s Bees Lip Shimmer in Apricot (R99, Takealot) is een van my gunsteling elkedagse lipkleure. Hierdie lipsalf se kleur het sommer lipstiffie-status in my oë gekry. Dit is een van my gunsteling kleure om te dra en dan voed die byewas boonop my lippe ook.

Lees ook: Selfsorg met gesigmaskers

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
Geskenkidees vir kinders
error: Content is protected !!