Die woord masker laat mens deesdae nie postief voel nie, dankie tog vir selfsorg met gesigmaskers wat jou kan laat onstpan. ’n Masker bly met goeie rede een van die gewildste selfsorgprodukte. En min dinge is so lekker soos om ‘my tyd’ te neem en met ’n gesigmasker aan in die bad te lê nie. Daar is egter een groot fout wat jy dalk maak, wat veroorsaak dat jou masker nie doeltreffend werk nie. Deur Suzanne Kotzé.
Selfsorg met gesigmaskers
Nuwe gunsteling gesigmasker
Die gesigmasker wat skrop en ontgiftig
Voordat ek Filorga se nuwe Scrub & Detox Intense Purity Exfoliator Masque (R530) gebruik het, was ek huiwerig. My vel gaan deur sensitiewe fases en ek was bang die dubbelskrop- aksie van die masker sal te veel wees. Dit skilfer fisies af met fyn vulkaniese mikro-korreltjies en chemies met papaiën (papain).
Dit was egter glad nie die geval nie. Ek het die swart mousse tekstuur met fyn korreltjies in sikelbewegings op my klam vel aangewend en aangelaat vir so twee tot drie minute. Daarna het ek dit met louwarm water afgespoel en my gesig het beslis helderder gelyk.
Behalwe dat dit jou vel behoorlik afskilfer, ontgif die masker ook danksy geaktiveerde houtskool (wat soos ’n magneet vir onsuiwerhede en gifstowwe is) en polifenole.
Ek het verwag dat my vel droog sou voel na al die afskilferig en ontgifting, maar danksy die vitamien E en niasinamied was dit glad nie die geval nie.
Hoof-voordele: dooie vel word afgeskilfer, vel lyk helderder en ander bestanddele dring beter binne.
Twee ou gunstelinge
Die strelende masker vir sensitiewe vel
Bioderma Hydrabio Moisturising Mask (R272,99) sal ’n gunsteling wees as jy ’n sensitiewe en gedehidreerde vel het. My vel voel om die een of ande rede vel taamlik gedehidreerd en die masker is so strelend – dit voel sommer of my vel ’n sug van verligting gee wanneer ek dit aansmeer. Dit help jou velselle om vog binne te verseël.
PS my man hou ook hiervan en hy het ‘n sensitiewe vel wat geneig is om ekseem te kry.
Hoof-voordele: streel en heel sensitiewe vel
Die kultus-masker wat die heel lekkerste ruik en die mooiste glans gee
Oukei, ja ek weet hierdie Sisley Black Rose Mask (R2450, uitgesoekte Edgars winkels) is peperduur en die wisselkoers help nie juis met die prys nie. Ek weet nie of ek dit gou weer sal kan bekostig nie, maar die geur van hierdie masker neem my terug na die meeste spesiale geleenthede (waarvoor ek die masker spaar). Van in die vliegtuig op oorsese reise, tot in die hospitaal met altwee my seuns se geboortes en voor die meeste spesiale geleenthede.
Die masker is met goeie rede ’n groot gunsteling onder skoonheidskrywers en bloggers. Dit ruik hemels, en jy voel gepamerlang nadat jy dit aansmeer. Dit bevat plantekstrakte en drie verskillende roosekstrakte:
- Damaskusroosolie; bekend vir balansering en herstel
- Swartroosekstrak: vir anti-oksidant-aksie en om die vel gladder te maak
- Strelende essensiële roosolie
Jy kan dit na 10 minute afwas, maar ek slaap gewoonlik daarmee aan. Die volgende oggend lyk jou vel so mooi glansend en glad. Jy kan werklik die verskil sien.
Hoof voordele: jou vel lyk plomper, voel gehidreerd en lyk glansend.
En die grootste fout wat jy kan maak as dit by maskergebruik kom?
Om nie jou gesig af te skilfer voor die tyd nie. Behalwe as dit reeds afskilfer ook (soos die Filorga masker).
As jy nie afskilfer nie, sit jou masker net aan dooie vel vas.
Draai jou badwater oop en skilfer gou jou gesig af terwyl die water inloop en dan smeer jy jou masker aan.
Geniet jou volgende selfsorg met gesigmaskers, ‘n lang bad en ‘n koppie tee!