Lea Vivier en Nicole Fortuin
Lea Vivier en Nicole Fortuin
Lea Vivier en Nicole Fortuin se rokke is van Modest Mags X Modern Steph

Lea Vivier en Nicole Fortuin; emosionele welwees ‘warriors’

Die twee aktrises Lea Vivier en Nicole Fortuin skrik beslis nie vir ’n uitdaging nie. Net soos hulle op een van die koudste en stormagtigste dae die Kaapse strand trotseer, kyk hulle ook emosionele uitdagings en welweeskwessies vierkantig in die oë. Deur Suzanne Kotzé.

Foto’s: Kristina Stojiljkovic; Lea se hare en grimering: Cheryl Parker; Nicole se hare en grimering: Shani Strauss. Stilering: Justine Kroes. Kreatiewe bestuur, konsep en produksie: Suzanne Kotzé. Klere: Kat van Duinen, Modest Mags X Modern Steph en Cindy Bam.

Dis ’n yskoue grou wintersdag met die Kaapse Dokter wat woedend waai en vlae reën wat neerlooi. Dit is ook die dag waaraan ons al weke lank beplan om vir Lea Vivier en Nicole Fortuin op die strand, en in die see, af te neem. Ons bly vasberade (en hardkoppig) glo dat dit tog gaan uitwerk. En daar kry ons sowaar ’n kolletjie son in Melkbosstrand. Terwyl ons strand toe ry met ’n reënboog aan die eenkant en dreigende onweerswolke wat al nader kom, besluit ons dat ons dalk sal moet afsien van die plan om die twee in die see af te neem. 

Tot Lea en Nicole doodluiters in die kar begin gesels oor die rolle van reeksmoordenaars wat hulle vertolk het, en agterkom hulle het onwetend rolle in verskillende episodes van ‘Die Byl’ vertolk. “Oe! Hoe het jou rol haar slagoffers vermoor?” wil Lea by Nicole weet.

En daar word opgewonde staaltjies uitgeruil oor wat al met hulle gebeur het op verskeie stelle. Nicole vertel hoe sy ’n draai by die hospitaal moes gaan maak omdat sy gedink het van haar ribbes is op stel gebreek. Lea vertel weer hoe bloedsuiers aan haar voete vasgesuig het in die dam, tydens die verfilming van die Showmax-reeks ‘Dam’. En net daar kom die besef, hierdie twee krulkoppe, wat ewe begaan is oor welwees, is taf en alles behalwe divas. Seewater hier kom ons. 

Lea Vivier en Nicole Fortuin; die welwees konneksie

Lea Viviers en Nicole Fortuin strand
Lea Vivier en Nicole Fortuin se rokke is van Kat van Duinen

“Deur ons sosiale media platforms het ons agtergekom ons heg altwee waarde aan geestes- en emosionele welwees,” vertel Nicole. Die eerste keer wat hulle oor sosiale media begin gesels het, het hulle besef hoe dit hulle persoonlike lewens en psiges beïnvloed. En hoe hulle hul hantering daarvan stelselmatig begin verander het.

“As mens vir Nicole vra, ‘hoe gaan dit?’, dan gee sy vir ’n mens ’n eerlike antwoord, wat so ongelooflik verfrissend is! En juis om dié rede het ek haar in die werksplek spontaan beter begin leer ken.” 

Lea Vivier

“Ons praat dikwels oor hoe om na ons self om te sien in ’n industrie wat baie uitdagend kan wees. Hoe om jou selfwaarde te behou, en te bou, buite werksverband. 

“Verwerping is so ’n groot deel daarvan om ’n akteur te wees dat dit nodig is om ’n sterk sin vir selfwaarde buite jou loopbaan te bou.” 

Nicole Fortuin

Ek dink ons altwee heg waarde daaraan om stil te wees en te word. En ons het opregte waardering vir die liefde en ondersteuning wat ons by die mense in ons lewe ontvang,” vertel Nicole. “Ons albei is baie bewus van en geïntereseerd in die veld van psigiese gesondheid, en hierin stem ons ooreen. Ek weet Nicole werk ook hard daaraan om gelukkig te wees met wie en wat sy op ’n daaglikse basis is, en om nie konstant ’n ander ideaal na te jaag nie. En dis vir my ook baie belangrik. 

“Om geluk en vreedsaamheid te vind in die hier en nou. So veel soos wat ek kan.” 

Lea Vivier

Nicole Fortuin oor welwees en wat die pandemie haar geleer het

Nicole Fortuin
Nicole se rok is van Kat van Duinen

Al was inperking aanvanklik vir Nicole ongemaklik dink sy dit het haar in die geheel goed gedoen. “Ek het nodig gehad om te stop. Baie vrae het by my opgekom wat ek nooit van te vore beantwoord het nie. ‘Hoe leef jy. Hoe leef jy gesond? En wat beteken dit? Is jy gelukkig? Is jy gelukkig met hoe jy gewerk het? Behoort jy dalk jy af te skaal en stadiger te leef?”

Nicole het besef hierdie is vrae wat sy moet beantwoord.

Om weer met mense te connect was vir haar net so belangrik. “In ons industrie waar jy dit najaag om altyd te werk. Of jy voel jy jaag iets na of jy moet jouself druk om meer te bereik. Dit was vir my so goed om te leer om te stop. Om in die natuur te wees en stil te word. 

Ek het begin om tyd te maak vir dinge soos terapie, masserings en dan ook ’n aanhaling per dag. Ek is gaande oor aanhalings. Mens kry ‘cat ladies’, maar ek is weer ’n ‘quote lady’”, vertel Nicole laggend. 

Van haar gunsteling aanhalings is: 

“Vind jou gemak in stil wees.”

“Jy is jou huis. Sorg vir jouself.”

“Die magtigste mense verstaan dat hulle hul eie bewussynsbetekenis uit elke lewensondervinding skep.” The Holistic Psychologsit

Oor werk

Nicole Fortuin
Nicole se rok is van Cindy Bam

“Ek het nuwe waardering en dankbaarheid daarvoor om te kan werk na die inperking. Ek het altyd gesê: ‘Die storie is die belangrikste’, maar nou voel ek die mense wat die storie vertel is die belangrikste. Ek het deesdae meer van ’n konneksie met die mense op stel

Welwees gewoontes wat Nicole aangeleer het.

Nicole Fortuin
Nicole se rok is van Cindy Bam

1. Stop

Hierdie is seker die belangrikste gewoonte wat ek aangeleer het. Om te stop en jou omgewing in te neem en teenwoordig te wees.  

2. Om genoeg water te drink. 

Ek het nooit voorheen genoeg water gedrink nie. 

3. Om bewus te wees van my lyf

Soms het ’n mens klein kwale waaraan jy nie aandag gee nie, maar jou lyf probeer vir jou iets vertel. En jy kan eenvoudige dinge doen wat dit kan regstel. 

4. Oefening

Ek het altyd oefening gesien as iets groots wat ek buite my huis moet doen. Na die inperking het ek egter geleer dit hoef nie so te wees nie. Met ’n jogamat tuis kan jy baie vermag. 

Lea Vivier oor emosionele en psigiese gesondheid

Lea Vivier
Lea Vivier se rok is van Cindy Bam

Oor die vraag of sy haarself as angstig sal beskryf sê Lea: “Natuurlik! Veral wanneer ek nie besig is met ’n projek nie. As vryskut akteurs is daar tye wanneer ‘n mens sonder werk /’n projek sit, en dan is angstigheid amper gewaarborg! 

Maar 

  • ek gesels met my mense, en sê vir hulle hoe ek voel, en dit help my cope.
  • Ek hou my besig met oefening (veral langafstande hardloop en joga).
  • Ek lees en 
  • verryk my kennis oor ander velde waarin ek geïnteresseerd is. 
  • Ek gaan kyk na baie kunsfilms.

Ek doen goed wat “kos vir my siel” is, en so word ek en my angstigheid stadig maar seker ‘maats’. Maar dit gaan nooit verdwyn nie! Dit gaan meer vir my oor hoe ek dit hanteer, en om nie te dink ek is swak of ‘n mislukking wanneer dit kop uitsteek nie.

Gewooontes wat Lea aangeleer het om emosioneel gesond te bly

Lea Vivier
Lea se rok is van Cindy Bam

1. Om hulp te vra as ek dit nodig het

Die noodsaaklikste gewoonte is om vir hulp te vra wanneer ek dit nodig het. Ek is ’n trotse mens en nogal privaat wanneer dit by sekere dinge kom. Voorheen het ek baie gesukkel om te erken as ek ‘sukkel’. Nou vra ek vir hulp wanneer ek dit nodig het, by wie en waar ek dit nodig het.

2. Oefening

Oefening is vir my noodsaaklik! Enige oefening, solank ek my lyf beweeg en die endorfiene pomp!

3. Lees

Ek lees my boek voordat ek gaan slaap. Ek sit my foon op flight mode en probeer om nie daarna te kyk vanaf sowat ’n uur of so voordat ek wil bed toe gaan nie.

Wat sleg is vir Lea se geestesgesondheid

Lea Vivier
Lea se rok is van Cindy Bam

1.  Om my met ander mense te vergelyk

2.  Om konstant aan die toekoms te dink en wat dit moonlik mag/nie mag inhou vir my lewe nie.  

3. Wanneer ek nie met my gesin, vriende, of lewensmaat praat oor die dinge wat my pla nie.

Kyk die video van ons foto-sessie op die strand hier

Lees ook: Cintaine Schutte; die holistiese welweestegnieke het my gehelp

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
Vyf stappe om meer selfgeldend te wees
error: Content is protected !!