’n Mens weet nie altyd hoe om jou vriendin wat skei te ondersteun nie en wat om te doen of nie te doen nie. Zetske van Pletzen en Hanli Saunders deel hul ondervinding en pastorale terapeut ds. Braam Klopper gee ook raad. Deur Suzanne Kotzé
Die meeste van ons het ’n vriendin/vriend of twee wat al geskei is, of beplan om te skei. ’n Mens weet nie altyd wat die regte manier is om dit te hanteer nie. Ons het dit goed gedink om by vroue wat al self hierdeur is, raad te vra en dan ook professionele raad te kry. Mag dit jou en jou vriendin help.
Die pastorale terapeut, ds. Braam Klopper se raad
Braam Klopper ’n predikant sowel as `n pastorale terapeut wat spesialiseer in die proses van rou. Sy hooffokus is om mense te help met die verwerking en hantering van hulle rou.
Ondersteun jou vriendin wat skei só
Luister
Een van die grootste goed wat jy kan doen is om na jou vriendin te luister. Luister sonder veroordeling. Luister is so belangrik. Terwyl sy praat, hoor sy haarself en orden sy haar eie gedagtes oor sekere van haar motiverings waarom sy skei.
Deur te luister, kan jy ook aanmoediging gee dat jou vriendin kan praat oor wat aanleiding gegee het tot die gebeure.
Vra ook: ‘hoe laat dit jou voel?’ Mense het nodig om hul gevoelens in woorde te stel.
Neem haar kinders vir uitstappies
Indien sy kinders het, gaan haal haar kinders vir uitstappies. So gee jy haar ruimte vir alleentyd. As haar kinders by is, moet sy die heeltyd let op haar emosies en om sekere goed nie voor hulle te sê nie, deur haar kinders te neem. gee jy haar die spasie hiervoor. Om haar kinders te neem is ’n baie groter hulpbron as wat baie mense besef.
Moenie
Die geveg namens haar veg nie
Gee om, maar moenie die lyn oorskrei deur deur verantwoordelikheid oor te neem. Moenie so direk betrokke raak dat jy die geveg vir haar probeer veg nie. Dit bly haar keuse en verantwoordelikheid. Die vriendin se rol is om haar by te staan, maar nie oor te neem nie.
Haar prokureur of advokaat probeer wees nie
Wees haar vriendin, moenie haar prokukureur of advokaat probeer wees nie. Sy het waarskynlik reeds so ’n professionele persoon in haar span. Jy kan die vriendin kry wat sê: “ja, maar jy moet dit doen, of trek hom kaal uit.” En dit is nie altyd die beste raad nie. So bly eerder in jou rol van ’n vriendin wees.
Sleg praat van haar man nie
Party vriendinne het soveel simpatie met haar vriendin dat sy al hierdie negatiewe goed hoor wat sy oor haar man sê en dalk die man se naam beswadder en sleg maak. Die risiko hiervan is, dat baie paartjies op die nippertjie weer versoen, en as jy haar man sleggesê het is die man dalk kwaad omdat jy sy naam beswadder het, en dit kan dan julle vriendskap bemoeilik.
Haar belas met godsdienstige skuldgevoelens nie
Daar is soveel misverstande oor die Bybelse standpunt oor egskeiding en die konteks waarin Jesus goed gesê het. Die meete mense weet dit nie. Jy kry oorgodstienstige mense met ’n houding dat jy nie mag skei nie en dat dit sonde is. Vir iemand wat oor die regte redes skei, kan hierdie oorlading van godsdienstige skuldgevoelens ’n uiterste probleem wees.
Die gesprek oorneem en oor jouself wil praat nie
Gee haar kans gee om net oor haar situasie praat. Dit is nie die tyd om oor jou situasie te praat nie. Baie keer as ’n vriendin praat oor byvoorbeeld die redes waaroor sy skei, sal die vriendin begin praat oor haar eie huwelik. Gee jou vriendin kans om te praat, want sy het dit nodig.
Zetske van Pletzen se raad
Aktrise Zetske van Pletzen het vroeër die jaar aangekondig dat sy en Altus Theart skei. Ons het haar gevra hoe vriendinne jou kan ondersteun en wat vriende eerder (oor die algemeen) nie moet doen nie. Sy deel die volgende:
Ondersteun jou vriendin wat skei só
Reik uit na jou vriendin
Indien jy hoor van ’n vriendin se egskeiding, is dit belangrik om uit te reik. Moenie net stilbly nie. Al weet jy nie wat om te sê nie. Check in om te hoor of sy oukei is.
Gee haar tyd
Die rouproses en heling neem tyd, so moenie verwag dat sy na ’n paar maande “oor dit” moet wees nie. Laat haar toe om haar tyd te neem en dit op haar manier te verwerk.
Moenie
Te veel detail vra nie
Dit kan voorkom asof jy net agter juicy details aan is. Sy sal self detail deel, indien sy wil. Dit kan baie dreinerend wees om vir almal te moet verduidelik HOEKOM ’n mens skei. Sy hoef nie aan enige iemand te verduidelik nie. Sy het net eenvoudig ondersteuning nodig.
Net stilbly nie
Tydens my egskeiding was daar baie mense wat net stilgebly het (selfs mense wat by ons troue was), en dit maak seer, want dit voel asof hulle nie omgee nie.
Dink dit is jou reg om ingelig te word nie
Daar was ook mense wat kwaad was omdat ek hulle nie laat weet het nie. Dit is verregaande dat mense dink hulle het ’n REG om te weet wat in jou persoonlike lewe aangaan. Asof jy hulle iets skuld.
Die vriendin wat skei hoef haarself of haar besluit nie aan enigiemand te justify nie.
Slegpraat van haar eks nie.
Wat as hulle weer by mekaar kom? Dit help nie om nou ewe skielik vir haar te sê hy was “nog altyd” dit of dat nie. Hy is steeds iemand vir wie sy lief was en met wie sy gekies het om te trou. Moet ook nie vir haar goed sê soos “jy moes dit al lankal gedoen het nie.”
Sy deal met genoeg shame en moontlik embarrassment oor haar huwelik wat verby is of dat sy so lank in ’n ongesonde huwelik gebly het.
Hanli Saunderson
Voorkomskonsultant Hanli Saunderson is ook onlangs deur die proses en deel dat haar binnekring vriendinne haar gedra het in die proses. “Ek is werklik geseënd met vriendinne wat daar was vir my; van my op-badkamerteëls-lê-en-ween-voor-God-oomblikke tot net daar wees vir my.”
Ondersteun jou vriendin wat skei só
Stel jouself beskikbaar in tyd
Check in, kuier, stop of kom sit en ‘wees’ net. Jy hoef nie eers iets te doen nie. Ek het ’n vriendin wat by my kuier wat vir my lees, en partykeer lees sy my huilend aan die slaap.
Doen moeite om goeie, nuwe herinneringe te skep
Gaan haal jou vriendin, ry ’n ent, sonder dat sy hoef te bestuur of dink. Dit hoef nie geld te kos nie. Gaan stap in die berg. Wys jou vriendin dat die lewe nie stop en aangaan . Dit is belangrik om dit te sien en te hoor en te voel.
Herinner haar dat dit gaan verbygaan
Herinner jou vriendin dat hierdie tyd gaan verbygaan. En herinner haar ook in die proses wie sy is en dat daar steeds drome en hoop is.
Moedig haar aan om aan te hou om lekker goed te doen.
As jou vriendin byvoorbeeld altyd van oefen gehou het, en nou dalk opgehou het, moedig haar om dit weer te begin doen. Enige iets waarvan sy voor die tyd altyd van gehou het.
Moenie
Verbittering toelaat nie
Herinner jou vriendin om nie verbitterd te wees nie. Sê vir haar: “hoor hier, kom ons let op ons woorde, kom ons vergewe en kom skoon”. Vergifnis is bevrydend. Soms het mens nodig dat ’n goeie vriend/vriendin jou hieraan herinner.
Praat nie, luister net
Ek is baie privaat, share moeilik en as ek share bly stil en luister. Dit is nie nou die tyd om nou jou niggie of tannie se storie te deel nie.
Baie keer deel mens nie om raad te kry nie, jy het net nodig om gehoor te word.
Net dat daar ’n deel van die seer kan uitkom, of ‘n storie wat jy dalk nog nie gedeel het nie uit jou sisteem uit te kry.
Te veel hulp en raad gee nie
Almal wil help en raad gee, en dit is ongelooflik, maar dit kan ook oorweldigend wees. Van watter prokureur om te gebruik tot jou parenting plan. Leer om te vertrou dat jou vriendin haar eie instink kan volg en reg gaan kies.
Bombardeer nie
Soms onttrek ’n mens omdat jy oorweldig voel. Jy lees nie Whatts Apps nie of is nie op sosiale media nie. En dan kry jy klomp boodskappe van vriendinne wat bekommerd is oor jou en voel dalk gebombardeer. Besef jou vriendin het soms net spasie nodig om dinge te verwerk en gun haar die tyd en ruimte om self terug te kom na jou toe.
Moenie jou issues op haar dump nie.
Jou vriendin het nie nou kapasitiet vir jou issues nie. Besef dit en wees net daar vir haar. Iemand wat deur ’n traumatiese tyd gaan, het nie het nie nou krag om jou stories te dra nie.
As jy nie regtig daar wil wees nie en wil help en ’n hand en ’n oor wil wees nie, moenie.
Aan die vriendin wat skei, onthou, mense kan jou net ondersteun as jy met hulle deel en vra vir hulp. Soms moet mens ook ownership neem aan jou kant.