Lagom
Lagom

‘Lagom’ jou lewe; wenke vir balans

In ’n era van oordaad, waar ons streef na eksie-perfeksie en Insta-mooi oomblikke is die ‘nie te veel nie, nie te min nie, net reg’ Sweedse ‘Lagom’ filosofie dalk net wat ons nodig het om gebalanseerd te leef. Deur Suzanne Kotzè.

01/07/2022

Maar eers, wat is ‘Lagom’?

‘Lagom’ (uitgespreek “lah-khom” ) is gebaseerd op die Sweedse filosofie wat losweg vertaal ‘net genoeg’ of ‘nie te veel nie en ook nie nie min nie’ beteken. Seker soos baba-beer se pap vir Gouelokkies!

In Swede verteenwoordig dit die kuns van ’n gebalanseerde, stadiger, sorgvrye lewenswyse.

Linnae Dunn beskryf dit juis: “Soos die regte hoeveelheid melk in jou koffie, of die regte druk tydens ’n massering,” in haar boek: Lagom: The Swedish Art of a Balanced Life. Dit word in alles toegepas van werk tot verhoudings, eet, drink, leef. En dit verg natuurlik ook selfbeheersing om so te leef, maar vir die meeste Swede is dit ’n manier van leef omdat dit van jongs af deel is van hul leefwyse

Die oorsprong van ‘Lagom’

Die eintlike oorsprong van ‘lagom’ is glo vanaf die Viking-era wanneer kos rondgestuur is onder almal (laget om onder die span) en almal net geneem het wat hulle toekom. Nie te veel nie en ook nie te min nie. En dit is ’n beginsel waarby Swede tot vandag toe nog leef.

Matigheid, balans en gelykheid

Hierdie filosofie om ’n gebalanseerde lewe te lei (van werk tot ontspanning, familie en kos) was was vir Britse Niki Brantmark, skrywer en binneshuise versiering-blogger van My Scandanavian Home so opvallend nadat sy Swede toe getrek het, dat sy ’n boek hieroor geskryf het. Lagom: Not Too Little, Not Too Much: The Swedish Art of Living a Balanced, Happy Life. “Die woord ‘Lagom; is so gereeld in gesprekke gebruik as dankie en asseblief,” skryf sy.  “’Lagom; is matigheid, balans en gelykheid”, skryf sy. Sy het geleer om ‘lagom’ ook in haar daaglikse lewe toe te pas; in alles van mode tot kos, drank en eet by vriende. Tot so ’n mate dat sy toe eindelik haar boek hieroor geskryf het.

‘Lagom’ het ook die Nigeriese gebore skrywer Lola Akinmade Åkerström geïnspireer om Lagom: The Swedish Secret of Living Well te skryf. Sy het agtergekom dat die Sweedse kultuur nie van oormaat hou nie en dat minder meer is.

Leef ‘lagom’

Lina Skandevall

“‘Lagom’ is die ‘Sweedsste’ woord wat daar is,” vertel Lina Skandevall, Sweedse entrepeneur, koskenner en reisskrywer toe ek haar uitvra na die term. (Ons het mekaar op ’n onlangse seilvakansie in Turkye ontmoet.)“Dit is verseker ’n sterk deel van ons kultuur.

Dit het ’n negatiewe en positiewe gevoel. Die negatiewe is: ‘moenie te veel wees nie’ waar die positiewe is ‘leef meer gebalanseerd. En wees goed vir jouself. Jy hoef nie die vinnigste maraton atleet te wees, of die beste motor of die gesondste joga ghoeroe te wees nie.

“Jy kan balans vind deur net genoeg te doen. Doen lagom.”

Lina Skandevall

So kan jy ‘lagom’ toepas om meer gebalanseerd te leef.

1. Koop bewustelik

Moenie impulsiewe kopies maak nie. Wil jy koop net omdat jy lus het vir koop en dit jou laat goed voel of het jy dit nodig? Kwaliteit bo kwantiteit! Onthou ook as jy minder koop, ‘mors’ jy waarskynlik ook minder wat beter vir die omgewing is.

2. Vind lewe/werk balans deur die ‘net genoeg’ beginsel toe te pas

Swede word nie verniet as ’n rolmodel vir werk-lewe balans gesien nie, met baie kraamverof (vir ma en pa!), gereelde breuke en ’n werksdag wat gewoonlik 17:00 ophou. ’n Studie deur Emily Hunter en Cindy Wy by Baylor Universiteit se Hanamer School of Business het die volgende bevind:

“mense wat oggendbreuke neem voel meer energiek en gemotiveerd en kan beter konsentreer.

Hulle is ook minder geneig om goed soos hoofpyne of rugpyne te rapporteer.

3. Fika en skakel af

Die Sweedse manier van ’n breuk by die werk neem is gewoonlik deur te ‘Fika’. Nog ’n konsep wat so gewild geword het dat daar selfs boeke oor geskryf is soos Fika: The Art of The Swedish Coffee Break deur Anna Brones en Johanna Kindval. Die twee-daaglikse sosiale koffiebreuk is ’n geliefde Sweedse gewoonte. En saam met die koffie word daar gewoonlik iets soets ook geniet! Fika kan alleen geneem word of in groepe, solank jy afskakel. Geen e-posse en werksoproepe terwyl jy Fika nie. 

“Die geheim is om wat jy doen te stop en jou tyd te neem om die eenvoudige dinge in die lewe te geniet.”

Niki Brandtmark

4. Leef meer volhoubaar.

As mens die ‘Lagom’ beginsel in ag neem is dit maklik om te sien hoekom die Swede so sterk fokus op ’n volhoubare leefstyl. Swede is een van die mees volhoubare lande ter wêreld. Dink nie net tweekeer oor alles wat jy koop nie, maar ook jou rommel. En ja die tiener omgewingsaktivis Greta Thunberg is ook Sweeds.

Lees ook: 7 Wenke vir ‘n volhoubare klerekas

5. ’n Georganiseerde huis

Om balans te behou help ’n georganiseerde huis. “Ek kon nooit enigiets in my huis kry nie,” skryf Niki Brantmark. Raak ontslae van die gemors en klotter. “Om jou huis minimalisties te hou help jou om georganiseerd te wees.”

Is ‘lagom’ dalk net vir eerste wêreldse lande beskore?

Realisties gaan ons dalk nie heeltemal kan ‘lagom’ in Suid-Afrika nie, want ons bly nie in ’n eerste wêreldse land waarin al ons basiese behoeftes reeds vervul is nie. Terwyl Lina tydens  ons vakansie vertel het dat “flightshaming” (omdat dit sleg is vir die omgewing) veral op sosiale media dikwels in Swede gebeur, kon ek nie help om op te merk dat ons in Suid-Afrika so baie ander dinge het om ons oor te bekommer voordat ons by ‘flightshaming’ gaan uitkom.

Lola Akinmade Åkerström maak ’n raak beskrywing: “Deur te observeer hoe ’n sekere kultuur angstigheid hanteer, is die vinnigste manier om insig te kry in hulle lewenstandaard. Om daagliks in spanningsvolle situasies te leef, die norm vir baie Nigeriërs (* en Suid-Afrikaners) is ’n herinnering aan jou mortaliteit, en juis hierom is ons dalk voortdurend besig om die lewe te vier. 

Omdat daar reeds in alle basiese behoeftes in Swede voldoen is, laat dit mense toe om daarop te fokus om produktief te wees. Nadat Lola ’n paar jaar in Swede gebly het, het sy egter besef dat ‘lagom’ optimale besluitneming impliseer. Besluitneming wat die beste vir jou, die individu, die groep of ’n sekere situasie is.

Neem dus die besluit om te kyk watter van hierdie ‘lagom’-wenke vir jou gaan werk. Maar een ding is seker, die meeste van ons het beter balans nodig!

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
Die Naguilklub
Die Naguilklub se onthullings in ‘Meer as net ’n ma’
error: Content is protected !!