Dis dikwels hoe ’n mens voel wanneer jy na ’n nuwe omgewing trek, en in die huidige seisoen waar so baie gesinne semigreer, vind vroue hulleself dikwels in nuwe sosiale kringe, waar hulle nuwe vriendskappe te midde van baie besige skedules moet probeer bou. Deur sielkundige Gerda Kriel.
Nuwe vriendskappe in ’n nuwe omgewing
Gelukkig het so baie van ons Stylvol-vriendinne hierdie pad reeds gestap, sodat jy nie die wiel hoef te herontwerp nie. Hier deel ons sewe van ons lesers se beste raad om in ’n nuwe omgewing vriende te maak, sowel as ’n sielkundige wenk of twee.
1. Raak betrokke
Of dit nou by jou kind se skool, ’n stapgroep, kerk of kunsklas is, ons vriendinne is dit eens dat betrokkenheid die goue sleutel is tot die vorming van nuwe vriendskappe. Natuurlik is dit ’n bonus as die betrokkenheid binne jou belangstellingsveld lê, maar soms moet jy net kyk hoe naby jy daaraan kan kom! As jy byvoorbeeld gek is oor pottebakkery, maar jy het verhuis na ’n dorp sonder ’n pottebakkersateljee, moet jy eerder kyk of jy dalk ’n ander handwerkgroep kan bywoon.
Dis sielkundig bewys dat mense wat soortgelyke belangstellings het, dikwels hegte vriendskappe smee, juis omdat daar onmiddelik ’n gemene deler is wat makliker gesprekke aan die gang sit.
2. Gesels eerste
In ’n onlangse gesprek met ’n mamma by my kind se skool het sy gedeel hoe moeilik dit is om vriende te maak omdat niemand uitreik na haar nie. Later die middag het ek langs die sportveld dieselfde gesprek met ’n ander Mamma gehad, en ek het besef: so dikwels wag ons dat iemand eerste met ons praat, dat ons die geleenthede wat reg onder ons neuse is, soms heel mis kyk!
Verskeie van ons Stylvol-vriendinne het genoem dat hulle dikwels eerste uitreik na iemand en begin gesels, en dat dit gemaak het dat hulle sommer vinnig nuwe vriende maak.
’n Goeie wenk is om eers te observeer: let op of die mamma se kind dalk in jou klas is, of dalk sien jy dieselfde mamma by die skool en die kerk. Die tyd is dan ryp om te begin deur ’n relevante vraag of stelling oor die mamma se belangstellings te maak. Soveel goue vriendskappe is al gesvestig deurdat een mamma dapper genoeg was om ’n ander (ewe senuweeagtige) Mamma se kind se talente te komplimenteer.
3. Rol jou moue op.
Goed, goed, ek weet hierdie raad hou verband met ons eerste brokkie raad, maar die verskil is dit: wees diensbaar! Bak pannekoeke by die basaar, help by die skool se kaskardag, en maak ander se laste ligter. Ons het oor die jare by ons skool ’n besondere klasmamma ontmoet wie se hande vir niks verkeerd staan nie. Hulle het ’n paar jaar gelede vanaf Londen terug emigreer, en sy is waarskynlik die mees geliefde mens wie ek ken. Haar vriendekring strek wyd en ver, en sy is getuie daarvan dat mense jou vinniger vertrou as jy altyd konsekwent is en doen wat jy sê.
Navorsing bewys dat ons meer geneig is om te hou van iemand wat iets vir ander doen as mense wat terugstaan en kyk hoe ander dien.
4. Nooi ander eerste.
Ons Stylvol-vriendinne was dit eens: min dinge laat die mure so vinnig verkrummel soos ’n lekker koffie-afspraak! Nooi jy eerste daardie Mamma wat vir jou lyk soos iemand wat jy graag beter wil leer ken. Kuier eers iewers neutraal (soos ‘n lekker koffiewinkel of teetuin). Deur iemand anders eerste te nooi, laat jy hulle weet jy is gasvry, maar jy laat iemand nog nie te persoonlik in jou spasie toe nie.
Onthou altyd – vriendskappe verg tyd en aandag, en mense moet dit verdien om toegang tot jou dieper binne-wêreld te verkry. As jy te veel, te gou intieme detail deel, kan jy iemand selfs afskrik!
5. Let op vir dit wat jy sê, en hoe jy dit sê!
Ons kan nie almal altyd ’n sonstraaltjie wees nie, en om ontwortel te word is moeilik, maar ons is van nature meer aangetrokke tot mense wat ons goed laat voel – oor die lewe en oor onsself!
As jy altyd gaan kla en mor, gaan jy heel waarskynlik vinnig vind dat mense nie baie in jou belangstel nie. Daarteenoor sal jy vind dat as jy fokus om eerder in ander belang te stel en om soveel moontlik positief te wees oor omstandighede, sal mense meer natuurlik om jou wil wees. Dit kan so maklik gebeur dat ons kla en mor oor dinge, maar mense assosieer jou met dit wat hulle jou die meeste sien doen. Ek weet nie van julle nie, maar ek vermy deesdae negatiewe persone, omdat my eie energie so fyn bewaar moet word.
Vra jouself altyd af of dit wat jy gaan sê iemand anders gaan laat beter of slegter voel.
6. Luister en vra meer, praat minder.
Vroeg in die 1900’s is ‘n boek deur Dale Carnegie geskryf: “How to win friends and influence people.” Die boek se teikenmark was besigheidsmense en leiers. Vandag is daardie boek steeds ’n topverkoper, as gevolg van die fyn sielkundige raad wat daarin saamgevat is. Een van die boek se belangrikste wenke is dit: Ander mense wil oor hulleself praat. Niemand stel werklik in jou belang nie, maar hulle stel belang daarin dat jy in hulle belangstel!
Vra dus by sosiale geleenthede mense uit oor hulle werk, hulle stokperdjies, kinders en so meer. Antwoord natuurlik ook hulle vrae, maar laat hulle toe om regtig met jou te praat, sonder dat jy in jou kop reeds jou antwoord formuleer.
Aktiewe luister beteken jy maak oogkontak, glimlag of knik bemoedigend, en vra opvolgvrae. Wees altyd versigtig om nie ’n gesprek te monopoliseer nie, en gee kans vir ander om gehoor te voel.
7. Goeie maniere
Ek weet Emsie Schoeman se etiket-riglyne voel en klink verouderd, maar goeie maniere kommunikeer soveel respek en laat mense boonop waardevol voel. Sit jou foon weg terwyl jy iemand nuuts ontmoet, maak oogkontak en groet vriendelik wanneer julle klaar gesels is. As ek die dag lekker met ’n mamma in my kind se klas gesels het, volg ek altyd ons gesprek met ’n boodskap op, wat ’n dankie en ‘n uitnodiging bevat. Ek kry die nommer sommer op die klasgroep en sodoende kommunikeer ek ook waarde aan hulle tyd.
Mag al ons Stylvol-vriendinne nuwe vriendskappe smee en ouer vriendskappe van voor af weer koester met hierdie raad. Ons sien uit om te hoor watter van ons raad jou gehelp het.