Gebruik kleurterapie tot jou voordeel. Dink aan hoe geure jou kan meëvoer en op ’n sekere manier kan laat voel net so met kleur. Leer om kleur tot jou voordeel te gebruik en neem beheer. Deur Suzanne Kotzé
Wat is kleurterapie?
Sielkundige Dr. Hannetjie van Zyl-Edeling verduidelik: “kleur is ’n energie wat met ons eie energie kan resoneer – dit versterk of verswak, afhangende van ons ervaring daarvan.
Kortliks, ons gebruik kleur om emosie en luim uit te beeld. Dink maar aan ’n skildery of ’n grou dag. Baie keer as mense depressief voel en jy kyk na hulle tekeninge, is daar geen kleur in nie.”
Die basis van kleurterapie
Hierdie is sekere algemene kleur-assosiasies wat in ons kultuur gemaak word.
- Rooi: aggressie, energie, beweging, selfvertroue, intensiteit, stimulasie
- Geel: geluk, lewenslus, goeie bui, optimisme, lag
- Wit: steriel, skoon, suiwer, lig, onskuldig
- Pienk: kalm, soet, liefde, romanse
- Groen: hernuwing, oopheid, vrede, vreedsaam, welvaart
- Swart: krag, mag, sterkte, woede, intelligensie, outoritêr
- Blou: oopheid, spasie, fokus, oorweging, kalmte
- Oranje: energie, ambisie, aktiwiteite, sosialisering, bevrydend
- Bruin: betroubaar, stabiel, organies, natuurlik, heilsaam.
10 Maniere om beheeer te neem met kleur
1. Voel veilig
Kies kleure waarvan jy hou om vir jou ’n gevoel van beskerming te gee.
2. Dra rooi as jy energie nodig het.
Dit is ideaal as jy ’n groot oefensessie beplan en jou energievlakke laag is.
3. Kies ’n geel omgewing vir moeilike gesprekke.
Geel moedig kommunikasie aan.
4. Minimalistiese kleurpalette in jou huis laat jou rustig voel.
Wit en grys skakerings stel geen eise nie, en dit kan jou tot ruste laat kom.
5. Dra donkerblou as jy statig en slim wil voorkom.
Daar is ’n rede hoekom so baie pakke donkerblou is! Dra die kleur volgende keer as jy ’n vergadering lei of bloot jou punt wil bewys!
6. Kies oranje vir motivering.
Sukkel jy met motivering om jou sperdatum te haal? Maak seker daar is iets oranje naby jou werk-area. Dit kan help met motivering.
7. Omvou jouself met ’n sagte pienk kombersie as jy alleen voel.
As pienk jou beskermd en veilig laat voel. hou jy van liefde en ondersteuning en het waarskynlik ’n behoefte hieraan.
8. Dra geel as jy ’n nuwe aktiwiteit aanpak.
Dit kan jou nuuskierigheid en belangstelling prikkel.
9. Dra ligblou vir kreatiewe inspirasie
As jy moet skryf of skets, skilder of ontwerp is ligblou ’n goeie keuse om jou kreatiwiteit aan te wakker.
10. Rooi lipstiffie kan jou meer selfvertroue gee
Soos ons ouer word, word die natuurlike kleur van ons lippe nie net minder rooi nie, maar die vel rondom ons lippe word meer rooi. Die kontras tussen ons lippe en vel is dus minder en gelaatstrekke wat uitstaan word met jeugdigheid geassosieer.
Rooi lipstiffie sal nie net ’n groter kontras skep nie (en jou meer jeugdig laat lyk nie), maar rooi kan ook jou selfvertroue ’n hupstoot gee.
Vertrou egter jou instink; as ’n sekere kleur jou afstoot, is daar ’n rede voor.
Bronne: https://www.annmariegianni.com/20-ways-to-use-color-therapy/, https://themindsjournal.com The Language of Colour deur Dorothee L. Mella
Lees ook