Isabel de Villiers runway
Isabel de Villiers runway

Isabel de Villiers se klerekuns

Ontwerper Isabel de Villiers gesels met ons oor haar nuwe reeks, The Artist Collection, en die vreugde wat sy daaruit put om ander vroue te bemagtig. Nie net om vir ons klere te maak waarin ons mooi lyk en goed (en gemaklik) voel nie, maar ook om vir ander vroue vaardighede aan te leer. Deur Suzanne Kotzé

04/11/2022

Isabel de Villers vertel meer oor The Artist Collection

Ons Artist Collection is geïnspireer deur die fantastiese kunstenaars wat ons in Suid Afrika het, die impak wat kuns op ons lewens het en die emosie wat kuns in ons kan laat opwel. Ek wil graag met die reeks ’n lig skyn op die talent, handewerk en kreatiwiteit van ons plaaslike kunstenaars.

Die Artist’s Doodle drukwerk (print) is gebaseer op ’n kunstenaar se doodle (krabbel); ’n idee wat nog besig is om te ontwikkel. 

Rokke vir feesvier

Isabel is bekend vir haar vleiende oorvourokke, in lap wat mooi swaar hang. Die rokke is in maxi-rokke (R1600) beskikbaar en midi rokke (R1400) wat net onder die knieë hang.

“Daar is baie funksies, troues en partjies in 2022/2023 wat ons die geleentheid gee om weer mooi aan te trek en die lewe, liefde en belangrike mylpale te vier. Die Frill rokke en Sparkle items is juis ontwerp vir feesvier.”

Maxi Frill dress (R2500, ook in groen beskikbaar) en mini Frill dress (1700, ook in silwer beskikbaar)
Justine dra die Peek a Boo rok (R880) en Suzanne die Cocoon Dress (R850) Suzanne het so baie van die gemaklike rok gehou dat sy sommer die pienk weergawe ook bestel het! “Dit lyk ewe mooi saam met hakke en mooi juwele as saam met tekkies en plakkies en dit kreukel nie! “

Post-covid selfuitdrukking en avontuurlustigheid

Hoe het mense se kooppatrone verander na Covid?

“Ons het tydens Covid baie meer swart items gemaak en verkoop as vorige jare. Na Covid het dit handomkeer verander. Almal dra helder kleure en patrone. Ek sien ’n meer avontuurlustige deel van ons kliënte se persoonlikheid blom. Hulle sal iets aanpas wat buite hulle gemaksone is en nuwe goed probeer. Selfuitdrukking het vir seker belangrik geraak en ons moet dit vier!

Die Laser versameling
Hierdie Laser Apron rokke (R2200 elk) kan ook sonder hulle onderrokke gedra word oor jeans of enige ander broek.

Die Sijwa projek

Wat is die Sijwa projek?

The African Monarch Lodges  in Namibië het die Sijwa projek gevestig. Aanvanklik om afval- materiaal en herwinbare rommel van hulle lodges (Nambwa Tented Lodge en Kazile Island Lodge) in kuns te omskep deur die plaaslike gemeenskap te gebruik. Dit projek sluit ook ’n kwekery in om vars groente en vrugte aan die plaaslike gemeenskap en gaste te verskaf.

Tydens die inperkingstydperk is The Sewing Workshop op die been gebring.

Die Sijwa Project is op die been gebring tydens Covid19 deurdat die reisbeperkings meegebring het dat baie min gaste hulle kon besoek, dus het Tinolla en Dusty Rodgers van The African Monarch Lodges besluit om die stil tyd te gebruik om kamerjasse en kaftans te begin maak, wat aan gaste verkoop kon word sodra die reisbeperkings opgehef is.

Hoe het Isabel de Villiers betrokke geraak by The Sijwa Project?

Tinolla en Dusty het  het hulp en raad gevra by Nikita Rix, eienaar van Solé Ateljee in Windhoek en Swakopmund en  Sandra Baumeister, eienaar van Myeisha Namibia. Nikita, aan wie Isabel al jare lank klere verskaf, het toe vir Isabel gevra om die vroue te kom leer om naaldwerk te doen.

“Ek het in Februarie vir 10 dae tyd by The Sijwa project deurgebring om die vroue te leer om om linnekamerjasse en kimono’s te maak wat in die lodges se winkel verkoop word en hulle ook gewys hoe om die personeel se uniforms self te maak.

Die trotse makers van die japonne wat nou in die Lodge se geskenkwinkel verkoop word.

Ek het hulle geleer om patrone op te trek, die lap te sny en dit aan mekaar te werk. Ek het hulle ook geleer om borduurwerk met die hand te doen en hulle het dit vreeslik geniet.

Die beperkte uitgawe Isabel de Villiers Sijwa Project klerereeks

Die vroue het die borduurwerk so geniet dat dit na ’n samewerking met South Africa Fashion week gelei het. Ons het drie once off kledingstukke ontwerp en die vroue het die borduurwerk gedoen. Nadat dit op die loopblank van die modeweek te sien was, is dit nou te koop by Africa Rise in Sandton City. Die inkomste wat van die produkte verkry word, word direk teruggeploeg in The Sijwa Project sodat hulle nuwe masjiene, materiaal en gereedskap kan koop.

Die borduurwerk was so gewild dat ons besluit het om vir die lente/somer versameling vier beperkte uitgawe-items saam met The Sijwa Project vry te stel.

Die blomme, goggas en lang grasse wat om die Nambwa Tented Camp van The African Monarch Lodges waar ons gebly het te sien is en ook bekend is vir The Sijwa Project vroue, het gelei tot die inspirasie van die goggas en blomborduurwerk op die klere.
Justine dra die Apron Dress (R1800) Suzanne dar die Float Dress (R1880)

Die Tinolla Top, Float Dress, Apron Multi tie dress en Bib Top se borduurwerk word in Namibië deur die talentvolle vroue gedoen. Dit word dan gestuur na my studio waar ek en Lazarus die items in my studio maak. Elke item se borduurwerk is uniek en weerspiëel die kreatiwiteit en talent van The Sijwa Project-span.  

Isabel de Villiers se hoogtepunt om saam met die vroue  van die Sijwa projek te werk

“Die opgewondenheid en dankbaarheid van die vroue om iets nuuts te leer wat vir hulle ’n inkomste kan genereer en selfvertroue te gee is my hoogtepunt. Dit is ’n voorreg om my vaardighede en kennis van 12 jaar in die bedryf met hulle te kan deel. Hulle elkeen het my hart geraak.” 

Isabel de Villiers

Lees ook: Ons gesels met Isabel de Villiers

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
Nêrens Noord-kaap seisoen 2
Hoera vir Nêrens, Noord-Kaap seisoen 2
error: Content is protected !!