Clare-Wiese Wentzel
Clare-Wiese Wentzel

Clare Wiese-Wentzel se Mooimaak-lewenslesse

Sy is dalk soos ’n towerfee vir Mooimaak-deelnemers, maar hulle verhale en omstandighede het Clare-Wiese-Wentzel diep geraak en belangrike lewenslesse geleer. Clare deel van die spesiale oomblikke en lewenslesse en vertel meer oor wat ons van Mooimaak 3 kan verwag.  Deur Suzanne Kotzé.

“Ek leer so baie by ons deelnemers en hulle inspireer my keer op keer,” vertel Clare. 

Clare Wiese-Wentzel se Mooimaak-lewenslesse

Vat die lewe soos dit kom

Daar is elke seisoen ten minste een deelnemer wie se lewensfilosofie ek voel ek vir altyd sal onthou. Ons het in Seisoen 1 ’n dierbare vrou gehad wat ’n kind met ernstige outisme moes grootmaak. Die kind kon amper niks vir homself doen nie. Ek kon die seer in haar raaksien, die bekommernis oor wie eendag na hom sou kyk.

Daar was egter geen woede of spyt in haar nie. Sy het besluit om haar lewe met ’n hart vol liefde, en dankbaarheid vir haar seëninge, aan haar seuntjie toe te wy.”

So iets kan dikwels van iemand ’n kwaai of suur mens maak. Iemand wat wonder “hoekom moes dit met my gebeur?” Sy het dit nie so benader nie. Sy het die lewe gevat soos dit kom en haar glimlag, innerlike krag en mooi gesindheid sal my altyd bybly. 

Omhels en vier die goeie dinge in die lewe, al gebeur wat.

In seisoen 3 is een van ons deelnemers ’n parapleeg wat vroeg in haar twintigs verlam is deur ’n dokter se nalatigheid. Sy is ’n merkwaardige vrou. Sy het nooit toegelaat dat die verlies van die gebruik van haar bene haar verhoed om al die goeie dinge in haar lewe te omhels en vier nie. 

Haar man en haar familie bring vir haar so baie geluk en dit is waarop sy haar energie fokus. 

Nie op kwaadwees of gegriefdheid nie, want dit maak van jou, en nie die een vir wie jy kwaad is nie, die gevangene.

Haar episode gaan soveel mense inspireer om dankbaar te wees vir dit wat jy het, en nooit te verval in ’n “slagoffermentaliteit” nie.

Hoe jy hanteer wat met jou gebeur, is die grootste bepaler van geluk en tevredenheid

’n Mens besef net elke keer weer hoe onregverdig die lewe kan wees. Maar bowendien word ek voortdurend herinner aan die volgende: hoe jy hanteer wat met jou gebeur, is die grootste bepaler van geluk en tevredenheid. 

Wayne Dyer (die Amerikaanse self-helpskrywer) het immers gesê: “As jy verander hoe jy na dinge kyk, verander die dinge waarna jy kyk.” Om dankbaar te wees vir dit wat jy het, al gaan dit hoe sleg met jou, is jou grootste superkrag – ongeag jou omstandighede. 

Sommige mense het alles, maar is altyd op soek na nóg meer en bly ongelukkig; terwyl ander, wat minder het, weer ware geluk ken en dankbaar is vir wat die lewe hulle bied.

Dit is veral lekker en spesiaal om vir sulke sterk en inspirerende mense ’n mooi voorkoms gee wat by hulle goue harte pas!  Ek weet hulle gaan die kykers net soveel motiveer en inspireer, hulle is almal rolmodelle in hulle eie reg!

Mooimaak reeks 3

Clare-Wiese Wentzel

Clare Wiese-Wentzel se reeks Mooimaak, wat 14 mense op ’n inspirerende mooimaakreis neem, keer op Donderdag 1 Oktober 2020 om 21:00 terug na kykNET

Soos met die vorige twee reekse word deelnemers se lewens getransformeer. 

Die nuwe reeks fokus egter op baie meer as net voorkoms. “Ons leer elke deelnemer met wenke oor hoe om reg aan te trek en beter grimering te doen hoe om in hul daaglikse lewe beter na hul voorkoms te kyk,” vertel Clare. Terselfdertyd is die nuwe reeks ook propvol leefstyl-verbeterings vir deelnemers. 

Ons hoop jy het Clare Wiese-Wentzel, lewenslesse wat sy by Mooimaak-deelnemers geleer het geniet. Ons sien baie uit na Mooimaak 3!

Lees ook: Rolene Strauss se top 5 wenke vir self-vertroue

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
Vickie de Beer Low Carb Express
Twee resepte uit Vickie de Beer se Low- Carb Express resepteboek
error: Content is protected !!