hoe hou jy op hik
hoe hou jy op hik

Hoekom hik jy en hoe hou jy op hik?

Hoe hou jy op hik? Daar is min dinge so irriterend soos om te hik en te sukkel om op te hou. As jy eers hierdie wetenskaplike bewyse oplossing probeer, sal jy nooit weer ’n glas water onderste-bo drink nie. Deur Suzanne Kotzé

21/04/2023

Die inspirasie vir hierdie artikel is my negejarige seuntjie wat my na skool meegedeel het dat hy al heeldag hik en wou weet: “Mamma, hoekom hik jy en hoe hou jy op hik?” Ek kon hom nie reg antwoord nie, en natuurlik het ek hom aangesê om ’n glas water onderstebo te drink. Toe ons twee begin navorsing doen oor hik, het hy vinnig besef dat om vir ’n paar uur lank te hik, niks is in vergelyking met die Amerikaner Charles Osborne wat vir 68 jaar lank gehik het nie. Hý het begin hik in 1922 tot die dag van sy dood in 1990 (Bron: Guinesss World Book of Records.)

Hoe hou jy op hik?

Ek het op hierdie stukkie goud afgekom nadat ek navorsing gedoen het vir die artikel Wat is boks-asemhaal, hoekom is dit so goed vir jou en hoe doen jy dit?

Tydens neuro-wetenskaplike Professor Andrew Huberman van die Huberman Lab aan die Stanford Universiteit in die VSA se podgooi How to Breathe Correctly for Optimal Health, Mood, Learning & Performance deel hy ook met ons hoe jy kan ophou hik.

  • Haal drie keer agtermekaar deur jou neus asem (met geen uitasem tussen-in nie)
  • Hou jou asem na die derde inasem vir 15-30 sekondes op
  • Asem stadig uit deur jou mond.

Kyk gerus hier na ’n kort uitreksel van die video.

Hoekom hik jy? Die rol van jou freniese senuwee

Jy hik wanneer jou freniese senuwee (wat so vanaf die middel van jou nek begin, agter jou hart tot by jou diafragma) in spasma gaan. Die freniese senuwee voorsien jou diafragma wat op sy beurt onder andere in en uitasem beheer.  “As jy die spasma van hierdie freniese senuwee kan beheer, kan dit jou help om op te hou hik,” verduidelik Huberman.

“Sommige mense kan wel verligting kry deur ’n glas water onderstebo te drink en soms mag dit verligting bring. Vir party mense werk dit elke keer, maar vir meeste mense werk dit glad nie.”

Wanneer jy die driekeer inaseming-tegniek doen, vind ’n hipersaamtrek van die freniese senuwee vir ‘n kort tydperk plaas wat die senuwee laat ontspan en so die spasma laat ophou.”

Algemene oorsake van hik

Volgens The Mayo Clinic is hierdie algemene oorsake van hik

  • Gaskoeldrank drink
  • Te veel alkohol
  • Te veel eet
  • As jy opgewonde is of onder emosionele spanning verkeer
  • As jy skielike temperatuurveranderinge ondergaan
  • As jy lug sluk, soos wanneer jy kougom kou of rook

Die oorsake van aanhoudende hik

As jy langer as 48 uur aaneen hik mag dit op die volgende dui

Dat jou vagus en/of freniese senuwee beskadig is

Oorsake sluit in

  • Swelling van jou nek as gevolg van ’n vergrote skildklier
  • ’n Sist of uitgroeisel in jou skildklier
  • ’n Haar of iets anders wat aan jou oordrom raak
  • Mangelontsteking

Gastroïntestinale versteurings

Volgens ’n artikel in die British Journal of General Practice gepubliseer, is gastro-esofageale siektes soos

  • gastritis,
  • ’n maagseer,
  • inflammatoriese dermsiekte,
  • galblaassiekte,
  • pankreaskanker
  • en oesophagitis (sooibrand)

die mees algemene oorsake van aanhoudende (langer as 48 uur) hik.

’n Sentrale senuwee-versteuring

  • ’n Gewas of infeksie in jou sentrale senustelsel.
  • Brein-inflammasie soos meningtis, ’n beroerte, meervoudige sklerose of ’n besering in jou brein.

Metaboliese oorsake

  • Diabetes
  • Elektrolietwanbalans
  • Lewersiektes

Alkohol en medisyne

  • Oormatige alkoholinname
  • Medikasie wat jou ontspanne of slaperig laat voel
  • Die steriöied deksametasoon wat vir onder andere artritis en asma voorgeskryf word.

As jy vir langer as 48 uur lank hik, sien ’n dokter.

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
vakansiemusiek
Vakansie ‘vibes’; drie musikante se gunsteling vakansiemusiek
error: Content is protected !!