estetiese ginekologie
estetiese ginekologie

6 Gewildste estetiese ginekologie-behandelings

Vir watter estetiese ginekologie-behandelings vra vroue die meeste? Botoks, lasers die “O-shot”? Ginekoloog Dr. Natalia Novikova verklap watter behandelings en prosedures sy die meeste doen in haar praktyk. En as jy nie weet wat estetiese ginekologie is nie, lees gerus verder. Deur Suzanne Kotzé

Wat is estetiese ginekologie?

Estetiese ginekologie staan ook bekend as kosmetiese vaginaleheelkunde. Dit sluit prosedures in wat ontwerp is om die estetiese of funskionele aspekte van aangebore abnormaliteite of vroue se natuurlike veranderende genetalië aan te spreek. Dit klink dalk na iets wat pornografiese sterre laat doen, maar dit is veel meer. Dit help vroue wat trauma of siekte beleef het, en dïe wat selfbewus oor sekere “tekortkominge” voel.

6 Gewildste estetiese ginekologie behandelings

Hierdie is die gewildste estetiese ginekologie-behandelings waarvoor vroue vra. Dr Novikova vertel.

Ginekoloog Dr. Natalia Novikova

1. Labiaplastie

Die labia word tydens ’n operasie verklein. Vergrote labia (dr. Novikova hou vol daar is geen regte of normale voorkoms nie, want ons almal verskil) bring mee dat sommige vroue pynlik selfbewus is in swem-of oefenklere of tydens seks. Sommige vroue loop vir jare met die ongerief voordat hulle hulp soek.

Die ideale kandidaat hiervoor is

  • iemand wat verlengde labia minora het,
  • die kwessie verstaan,
  • realistiese verwagting het oor die uitkoms en
  • tyd het om te herstel.

Vroue met liggaamsbeeldversteurings of sielkundige steurnisse moet enige kosmetiese snykunde, insluitend labioplastie, vermy.

Die prosedure word in die dokter se spreekkamer gedoen onder plaaslike verdowing. Jy het ’n week siekverlof nodig en dit word aanbeveeel dat jy oefening en seksuele aktiwiteit vermy vir ses weke na die prosedure.

2. Vaginale laser-verjonging  

Vaginale verjonging met laser of radiofrekensie word versoek vir

  • urinêre inkontensie (onwillekeurige uriene wat lek),
  • vaginale droogheid (ontwikkel as gevolg van die tekort aan estrogeen gedurende menopouse, of as gevolg van die voorbehoedpil)
  • vaginale losheid (na geboorte of as gevolg van ouderdom) of
  • gereelde vaginale ontsteking.

Die behandeling kan as voorkomend, na geboorte of gedurenede menopouse gedoen word. Een van die mees algemene versoeke vir vaginale laser-verjonging is vaginale droogheid. Die verdunning van vaginale vel as gevolg van ’n tekort aan estrogeen veroorsaak pyn gedurende seks, vaginale droogheid, ongemak en blaasontsteking. Die behandeling stimuleer kollageenproduksie in die weefsel, verbeter bloedtoevoer en vernuwe die vaginale vel om die bogenoemde kwessies te aan te spreek. Jy het gewoonlik twee tot drie behandelings nodig, een elke vier tot ses weke. Omdat ons steeds verouder, sal dit nie die probleem vir ewig oplos nie. Jy kan so 18 maande later weer ’n reeks behandelings laat doen.

3. Intieme vel verligting

Hierdie is ’n gewilde behandeling vir vroue wat donkerder vel in hul intieme area het. Dit kan as gevolg van genetika, geboorte of laserhaarverwydering wees. Sommige vroue is baie skaam hierhoor. “Ons gebruik afskilfering of laser om hierdie toestand te behandel,” vertel Dr. Novikova.

Afskilfering

Die depigmentasie-afskilfering is ’n enkele behandeling in die dokter se spreekkamer gevolg deur daagliks jel vir tuisgebruik.

Laser

Laserbehandeling verg drie tot ses sessies, afhangende van die vlak van hiperpigmentasie en hoe jy reageer op die behandeling. Die behandeling is nie geskik vir vroue met donker velkleure nie.

Die ideale kandidaat het

  • geen ander velprobleme nie,
  • realistiese verwagtinge en
  • verstaan dat die hiperpigmentasie kan terugkeer.

4. Labiale vullers

Vroue versoek hierdie behandeling om hulle labia majora voller te laat lyk. Met ander woorde vir ‘groter lippe’. Namate vroue verouder (en sukkel met vel wat meer hang) of ná geboorte kan die labia meer pap voorkom. Vroue is selfbewus hieroor en dit kan ook ongemak veroorsaak omdat dit skaaf.

Vroue wat allergies is vir vullers kan nie die behandeling kry nie. As daar ’n aansienlike hoeveelheid oormaat vel is wat hang, is ’n operasie hiervoor meer geskik.

5. Die “O-shot”

Die “O-shot”, PRP of plaatjieryke plasmabehandeling word versoek deur vroue wat meer seksuele bevrediging wil hê. Vroue wat sukkel met vaginale droogheid of vroue met ligte spanning urinêre inkontensie (lek van uriene wanneer jy spring of hardloop).

Die ideale kandidaat vir die behandeling is ’n vrou wat voel haar seksuele bevrediging het verminder vir geen rede nie of as gevolg van veroudering.

Vroue met sielkundige kwessies moet eerder hul behandeling begin deur ’n sielkundige of ’n seksuoloog te sien.

Die behandeling is ’n enkele toediening en die resultaat word so vier weke na behandeling gevoel en hou vir ag tot twaalf maande.

6. Botoks

Ja, jy het reg gelees. ’n Botoksinspuiting help vir vroue met vaginismus. Dit is wanneer vaginale spiere onwillekeurig saamtrek aan die blote gedagte of probeer van vaginale penetrasie. Seks word pynlik of onmoontlik as gevolg hiervan. Die oorsaak hiervan is ’n negatiewe seksuele ervaring, dalk as gevolg van seksuele misbruik, streng godstienstige opvoeding met min of geen seksvoorligting, vaginale infeksie of droogheid.

Die behandeling van vaginismus begin deur die oorsaak van die probleem aan te spreek. Die inspuit van botoks in die vaginale spier breek die bose kringloop van die spasma wat vroue nie self kan oorkom nie. Na die inspuiting word vroue aangemoedig om vaginale rekkers (dilators) te gebruik. Sielkundige ondersteuning en berading en ook die bystand van ’n seksuoloog is belangrik vir die behandeling van die toestand.

Neem die volgende in ag vir estetiese ginekologie-behandelings

  • Hierdie prosedures moet deur ’n gewalifiseerde praktisyn gedoen word wat pasiënte kan ondersoek en die mees geskikite behandling voorstel en ook verwagtinge bestuur oor wat bereik kan word.
  • Chirurgie moet uitgevoer word deur ’n chirurg of ’n ginekoloog wat in sulke prosedures spesialiseer.
  • Kies ’n kliniek wat hierin spesialiseer.
  • Sommige behandelings moet elke 12-18 maande herhaal word.
  • Bespreek jou begroting vooraf met jou dokter, want mediese fondse betaal nie vir van die behandelings nie.

Dr Novikova se webwerf drnovikova.co.za of gesels met jou ginekoloog hieroor.

Lees ook: Lipvullers, wat is dit en hoe werk dit?

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
droë oë
Sukkel jy met droë oë?
error: Content is protected !!