Hoeveel keer is jy nie spyt dat jy alweer ‘ja’ gesê het, en nie meer selfgeldend (assertive) was om ‘nee’ te sê nie? Om selfgeldend te wees, is ’n waardevolle vaardigheid om te hê, maar een waarmee veral vroue dikwels sukkel. Lewensafrigter Cherona Dannhauser gee raad hoe jy meer selfgeldend kan wees (sonder om ‘onbeskof’ te wees.) Saamgestel deur Suzanne Kotzé.

Cherona D se stappe om meer selfgeldend te word
Om selfgeldend te wees, bemagtig individue om hulself duidelik en vol selfvertroue uit te druk. Om selfgeldendheid te kweek, is ’n reis van selfontdekking en bemagtiging wat bevrediging in alle aspekte van jou lewe kan bring. Hier is vyf stappe om jou om jou op hierdie pad te lei.
1. Identifiseer jou waardes en behoeftes
Die begin van selfgeldendheid is om te verstaan wat werklik vir jou saak maak. Neem tyd om te reflekteer wat jou kernwaardes is, wat jy graag wil bereik en wat jou grense is. Vra jouself af: “Wat is my sterk punte en beperkinge?” en “Watter tipe behandeling verdien ek?”. Om jou eiewaarde en dit waarvoor jy staan te erken, is noodsaaklik sodat jy jou behoeftes en verwagtinge kan kommunikeer.
2. Omhels die krag van “ek”-stellings
As jy opinies of behoeftes uitdruk, gebruik die woord “ek”. Dit dra oor dat jy eienaarskap neem van jou gedagtes en gevoelens. Frases soos “Ek glo…” of “Ek sal dit waardeer…”
Gebruik ’n duidelike en respekvolle aanslag sodat jy beskuldigende taal (wat situasies erger kan maak) kan vermy.
3. Beoefen nie-verbale kommunikasie
Kommunikasie is veel meer as net praat. Om ’n goeie liggaamshoudig te hê, oogkontak te maak en met ’n ferm, duidelike stem te praat, dra selfvertroue en selfgeldendheid oor.
Onthou nie-verbale leidrade spreek dikwels duideliker as woorde. Maak seker jou liggaamshouding is dieselfde as die boodskap wat jy verbaal oordra.
4. Erken en spreek ongemaklike situasies aan
Selfgeldendheid vermy nie moelike geprekke nie. As iemand jou grense oorskrei of jou opinie verontagsaam, is dit nodig om dit kalm en direk aan te spreek. Wees selfgeldend en spreek dit waaroor jy bekommerd is aan. Fokus op spesifieke gedrag en die impak wat dit op jou het.
5. Vier jou vordering
Om selfgeldendheid te kweek, is ’n deurlopende proses. Daar sal terugslae wees en tye wanneer jy in jouself twyfel, maar erken en vier jou oorwinnings, al is dit hoe klein.
Elke keer waneer jy jouself met selfvertroue uitdruk of ’n gesonde grens stel versterk jy jou selfwaarde. So beweeg jy ook nader daaraan om ’n selfgeldende individu te wees.
Onhou om selfgeldend te wees gaan nie daaroor om aggressief of baasspelerig te wees nie.
Selfgeldendheid gaan daaroor om jouself duidelik en met selfvertroue uit te druk, met respek vir jouself en ander. Deur hierdie stappe te volg en deernis met jouself te hê, kan jy jouself bemagtig en so jou volle potensiaal bereik.

Cherona Dannhauser is ’n konneksie-sielkundige, spreker en afrigter en werk saam met organisasies en individue. Besoek gerus cheronad.com





