Om slimmer te beplan rondom ons mode-inkopies vanjaar (wenslysies en moet-koop lysies) het ons ’n bietjie navorsing gedoen plus ’n paar plaaslike modekenners gevra wat hul modetrend voorspelling vir 2024 gaan wees: van strikke tot metaalaksente, perskeskakerings en oorgroot handsakke, hier is 2024 se 22 (vir nou) grootste modetrends. Saamgestel deur Justine Kroes
19/01/2023
1. Denim
Verlede jaar was die denimromp groot nuus, vanjaar is denim op denim (hallo 2000’s) weer terug. Denim is hoog op ons kooplysie vanjaar en ons hou van die idee dat denim vir lang jare nog ’n stapel-item in jou klerekas sal bly.
Modekenner en stylkonsultant Jeanine Theron sê “Denim is a fashion constant” en ons kan nie genoeg saamstem nie!
2. Gekleurde tekkies
In 2023 was die Adidas Samba tekkie die skoen waaroor modekenners gegons het – vanjaar word daar voorspel dat gekleurde tekkies (in dieselfde tipe styl) groot nuus gaan wees.
Modekenner en voorkomskonsultant Simone Lombard sê “ek is opgewonde oor pienk (selfs rooi) sneakers. Dis ’n lekker manier om ’n uitrusting op te kikker. Hierdie tekkiestyl kan ’n moderne interessantheid aan ’n vervelige kantoor- of formele uitrusting gee”.
3. Strikke
Modekenner en stylkonsultant Jean-Mari Hellig sê “Strikke is deesdae op almal se lippe, hoe groter hoe beter. Dra dit in jou hare, op jou skoene of op klere. Strikke skep ’n romantiese en ultra vroulike gevoel wat jy na ’n date night, ’n troue of selfs saam met jou alledaagse uitstrusting kan dra. Iets so eenvoudig soos ’n strik kan enige uitrusting in iets “wows” optower. Kyk uit vir strikke met klinknaels of in verweel. Ek verstom my daagliks daaraan dat iets so eenvoudigs soos ’n strik so ’n groot verskil aan ’n uitrusting kan maak.”
Ons dink meer is meer vanjaar met strikke … groot strikke, helder strikke, dra dit soos jy wil!
Spring Ready to Wear 2024: Simone Rochas (fotos Vogue Runway)
4. 60’s Mikro mini’s
Die teenoorgestelde lengte van verlede jaar se gewilde maksi- en midilengtes. Dink aan die sestigerjare se slooprokstyl minirokke.
5. Metaalaksente
Simone sê “Indien jy dalk huiwerig is om metaalkleure van kop tot tone aan te trek, speel met bykomstighede, baadjies, skoene of selfs handsakke. Dit is n maklike manier om die metaalkleure in jou kas te integreer.”
Ons is opgewonde om te hoor dat silwer steeds ’n groot modetrend is vir 2024, stylkonsultant Jeanine Theron noem ook dat silwer steeds een van die grootste metaalkleure van die jaar sal wees.
Dra silwer so lees hier:
6. Peplum
Die peplumstyl is terug, of jy nou daarvan hou of nie! Die silhoeëtstyl wat van jou middel (naeltjie) of heupbeen uitklok lyk nie noodwendig ewe vleiend aan alle figure en lyfvorms nie – wees versigtig met hierdie modetrend.
7. Satyn Soldaatjasse (Trench Coats)
Die satyn “trench” is natuurlik meer formeel as die gewone soldatejas, maar jy kan hierdie jasstyl meer gemaklik stileer. Dra jou satyn “trench” by denims, ’n wit T-hemp en tekkies vir ’n “high-low” voorkoms. Die jas skep tekstuur en diepte in ’n uitrusting en gee ’n gevoel van “luuksheid”. Ons dink hierdie tipe jas is iets wat vir generasies lank tydloos sal bly (pssst gaan loer dalk in jou Ouma se kas vir iets soortgelyks!).
8. Fraiings
“Fringe is in!” so sê die modekenners oor fraiings vir 2024 – dra dit op rokke, rompe, handsakke of selfs stewels. Fraiings in ’n uitrusting skep dadelik interessantheid deurdat die fraiings die element van beweging inbring. Ons hou veral van fraiings aan die onderpunte van rokke en rompe in 2024.
9. Oorgroot handsakke
Ons gaan maar ons armoefeninge moet begin doen want dit lyk asof reuse oorgroot handsakke die gewilde handsakkeuse is vanjaar. Van 2022 se mikro mini Jacquemus handsak tot vanjaar se groter as groot handsakke – een ding is verseker die modewêreld hou ons op ons tone!
10. Sjiek pakke
Van netjiese pakke met struktuur tot meer informele pakke wat uit baadjies en kortbroeke bestaan. Vanjaar is pakke steeds ’n gewilde modetrend – maak dit jou eie!
11. Terug skool toe
Die trend word “preppy” genoem, dink aan die destydse Gossip Girl reeks en hoe die span aangetrek het, opknooptruitjies, minirompe, kraaghemde en “blazers”. Dit was veral gewild op die Lente 2024 modeloopplanke van ontwerpers Miu Miu, Dries van Noten en Leowe
12. Laag op lag (Layering)
Veral ’n goeie modetrend vir koeler maande. Dit is ’n kuns om lae in verskillende teksture, lengtes en proporsies saam te stileer, sê Jeanine Theron. Kraaghemde met truie, baadjies en jasse, daarby ook serpe en rompe. Die truuk hiermee is om ’n stylvolle uitrusting van lae te skep sonder dat dit lyk asof jy net als in jou klerekas bo-oor mekaar aangetrek het.
13. Polkakolle
Toe ons deur die 2024 Lente/Somer loopplanke geblaai het, was dit duidelik – polkakolle gaan weer vanjaar sy oomblik geniet. Ons kon amper nie glo hoe baie polkakolle daar op die loopplanke gesien is nie, en dit van verskillende modehuise. Die polkakol vanjaar is klein, in romantiese sagte materiale en interessante silhoeëtte te sien.
14. Deursigtig
“Sheer” bly steeds hierdie jaar ’n groot gonswoord in die modewêreld. In 2024 is “sheer”, oftewel deursigtige rompe die moet-hê mode item, staan opsy, denim rompe.
15. Puntskoene
Stylkonsultant Jean-Mari Hellig sê: “Dit is tyd om totsiens te sê vir jou chunky loafers, maak gerus plek vir puntskoene. Die skoenstyl is gesofistikeerd, stylvol, sjiek en vroulik. Nog altyd ’n gunsteling in my kas, deesdae net effe platter vandat ek ’n mamma is”.
Jean Mari se raad vir puntskoene dra; “Dra joune met ’n paar moderne ragfyn/”sheer” sykouse, ’n rok, jou “mom jeans” of selfs ’n wyepyp denim – die opsies is eindeloos. Puntskoene het ’n stigma dat dit jou voete groter laat lyk, hoewel dit eintlik ’n verslankende effek het en beslis my keuse bo ’n rondepunt skoen is. ’n Neutrale kleur, dierepatroon of ’n metaalkleur is goeie keuses, dit pas byna by als. Die regte skoene maak of breek gewoonlik jou uitrusting en is die ideale bykomstigheid by ’n eenvoudige uitrusting.”
Ons het veral opgelet dat die “kitten heel”-hoogte die gewildste opsie op die loopplanke was.
Hierdie skakerings is vanjaar se grootste modetrends:
16. Kop tot tone wit
Wit is ’n klerekas stapel, ons weet – maar die jaar is kop tot tone wit (monokroom uitrusting) hoe die “wit” trend gedra sal word. Ons is opgewonde oor hierdie een omdat die meeste van ons reeds wit stapelitems in ons klerekaste het. En boonop lyk byna almal goed in wit – dit verhelder jou gelaat en trek dadelik aandag.
17. Peach Fuzz/ Apricot Crush
Peach fuzz of apricot crush soos baie modekenners dit noem, is natuurlik die 2024 Pantone skakering van die jaar. Dit mag dalk tyd wees om jou “barbie” pienk uitrustings van 2023 te verruil vir die sagter perske skakering. Die skakering word beskryf as ’n sagte “ligte” koraal.
Ons dink wel dit sal ’n ruk neem voordat hierdie skakering die winkels vol lê, maar dit is nie ’n slegte idee om nou al oë oop te hou vir ’n modetrend winskopie nie.
18. Lilac/ ligpers
Ons hou van die sagter pastelskakerings wat die jaar uitsteek bo helder skakerings; ligpers is een van hulle. As jy onseker is oor die een, probeer pers eers as ’n bykomstigheid, dalk ’n strik in jou hare of skoene.
19. Donkerrooi
Helder rooi gaan ook vanjaar ’n groot skakering wees – maar ons vermoed ’n dieper donkerrooi nog groter. Die kleur is vir ons ’n ultra-vroulike en sensuele skakering.
20. Koningsblou en ligblou
Dit is duidelik die jaar van blou, die helder koningsblou wat gewild was op loopplanke by Spring ready to wear 2024: Balmain, Givenchy, Giorgio Armani (fotos Vogue Runway). ’n Kleur wat by baie veltone pas.
Die pastel ligblou op loopplanke by Stella McCartney, Staud, Ferragamo, beide die skakerings is groot vir die somer en koeler wintermaande.
21. Bottergeel
Nog skakerings op ons voorspellinglysie, sagte bottergeel – wat dalk ’n moeilike skakering is om aan te trek. Toets dit naby jou gesig om te sien of die kleur by jou gaan werk of nie.
22. Skakerings van groen
Groen in verskillende skakerings van helder tot neon asook dieper donkergroene is in die mode.