Modefoute wat jou ouer en oudmodies laat lyk, maak jy een van hulle?

Wonder jy of jou modekeuses jou dalk ouer laat lyk as wat jy werklik is?

Nes die verkeerde grimering jou kan laat ouer lyk, so kan verkeerde modekeuses ook onnodig ekstra jare by jou ouderdom voeg.

Ons deel graag ’n klompie modefoute wat onnodige jare by jou ouerdom tel en deel wenke en moderne aanpassings wat jou voorkoms sal verfris en terselfdetyd verhef. Deur Justine Kroes

1. Jy dra oorgroot en vormlose klere

Gemak is belangrik, maar om heeltyd onder oorgroot lae weg te kruip kan soms jou figuur oorweldig en ’n pragtige vroulike figuur wegsteek en vormloos laat voorkom.

Stel dit reg:

Hier stel ons nie voor dat jy nou net styfpassende klere behoort te dra nie, maar eerder dat jy jou uitrustings balanseer.

Hou die gemak, maar voeg balans by. Kombineer losser items met iets meer gestruktureerd: ’n gemaklike t-hemp met ‘n netjiese broek, of ’n oorgroot baadjie met meer gestruktureerde denims. Selfs ’n eenvoudige voor-insteek stileertruuk van jou top kan meer vorm skep.

2. Jy dra te veel swart

Jy dra te veel swart en dit laat jou ouer lyk, hier’s hoekom: swart naby jou gesig beklemtoon donker kringe, laat plooie meer opsigtelik lyk en kan jou selfs moeg en uitgewas laat vertoon. 

Ons is self partykeer skuldig hieraan, ons kies swart uitrustings want dit is gewoonlik meer vleiend vir ons lyfvorms. Hoewel dit goeie stylraad is om ’n verskeidenheid swart items in jou klerekas te hê, maak wel seker dat dit nie die kleur is wat jou klerekas oorheers nie.

Swart is tydloos en stylvol, maar ’n hele klerekas van baie donker skakerings kan soms swaar voorkom, veral naby die gesig.

Stel dit reg:

Dra eerder ligter en sagter skakerings naby jou gesig daarby: room, karamel, warm gryse, olyfgroen, sagte bloue of ryk winterwit. Jy kan steeds swart dra, maak net seker jy breek dit op met ligter elemente.

Hierdie ligter skakerings reflekteer lig en laat jou jonger lyk. Moet ook nie helder skakerings afskryf nie, ’n gunsteling stileertruuk vir ’n jonger, varser voorkoms.

3. Jou bykomstighede verander nooit

Bykomstighede laat ’n uitrusting dikwels ouer en meer oudmodies lyk as wat ’n mens besef.

Byvoorbeeld, jou leesbril is al jare lank dieselfde, wanneer laas het jy jou bril-sonbril of leesbrilraam vervang?

Of

Jy verander nooit jou handsak nie. Wanneer jy nooit jou handsak verander nie en jy hou by dieselfde handsak dag in en dag uit, (ja veral daardie reuse groot outydse leer handsakke met water vlekke en leer wat afdop), hierdie kan maklik ’n uitrusting minder modieus en selfs outyds laat lyk.

Stel dit reg:

Hou in gedagte, brilraam trends verander met elke seisoen, van skakerings tot vorms en style. Vir ’n blitsvinnige moderne voorkoms, kies ’n moderne brilraam. As jy die tipe mens is wat graag net een handsak wil gebruik, is dit baie belangrik dat jy seker maak jou handsak pas by elke liewe uitrusting in jou klerekas, en kies ’n slag ’n moderne silhoeët.

4. Jou uitrusting hoef nie perfek bymekaar te pas nie

Om al jou bykomstighede eksie perfeksie bymekaar te laat pas, is ’n verouderde manier van aantrek, en is eerlikwaar ook uitputtend!

Dit was eens op ’n tyd mode om jou handsak, skoene en gordel bymekaar te laat pas, maar hierdie stileertruuk is al vir jare nie meer van toepassing nie.

Stel dit reg:

Probeer met jou volgende aantreksessie om verskillende patrone of kleurskakerings te meng en pas.

Dit mag aanvanklik uitdagend voel, maar glo ons, jou modekeuses hoef nie ’n klomp reëls na te volg nie. Mode is daar om te omhels en ten volle te geniet!

5. Verkeerde onderklere

Hierdie is moontlik een van die grootste foute wat ons vroue gereeld sien maak. Ongeag van ouderdom is hierdie ’n belangrike stileerwenk wat alle vroue behoort reg te kry. Die verkeerde onderklerekeuses kan jou slordig en onnet laat voorkom.

Stel dit reg:

Kies soomlose onderklere om daardie duidelik onderklere lyne te vermy.

Die regte brakeuse is ook baie belangrik, besoek gerus ’n bra-boetiek wat jou hiermee kan help. Ons beveel graag Liza Clifford Bra Studio aan.

6. Jou “uniform” lyk oudmodies

Baie vroue ontwikkel met tyd ’n “uniform” en raak lui om nuwe dinge te probeer. ’n Konsekwente styl is goed, maar jou styl kan soms voorspelbaar en oudmodies raak en jy kan jou in ’n stylgroef bevind.

Nes ons met tegnologie aanbeweeg, so behoort ons ook met ons styl vooruit te beweeg, ons kan nie vir altyd net vasklou aan dieselfde aantrekstyl nie.

Stel dit reg:

Probeer een onverwagse element, iets soos ’n tekstuurjas, dierpatroonskoene, interessante syserp as gordel of ’n kleuraksent. Klein veranderinge maak dikwels die grootste verskil.

Dit beteken ook nie jy moet ’n modeslaaf word nie. Jy hoef nie elke week winkels toe te gaan en te koop nie. Daar is ’n gesonde rigtingverandering wat moet plaasvind wanneer jy uit daardie stylgroef ontwikkel en groei.

7. Jou skoenkeuses is oudmodies

Skoene kan jou vinnig outyds of ouer laat voorkom en is vir baie mense ’n nagedagte wanneer dit by hul voorkoms of uitrusting kom.

Probeer altyd om jou skoene netjies te hou en probeer hou by nuwe neigings en style – want jou skoene kan maklik jou eietydse styl outyds laat lyk

Stel dit reg:

Namate ons ouer raak, word hakke vir gemaklike plat skoene verruil – maar onthou gemaklike skoene hoef nie noodwendig oudmodies te lyk nie.

Moderne loafers, elegante enkelstewels, retro of bruin tekkies en stylvolle gepunte pumps sal dadelik bydra tot ’n meer moderne modevoorkoms.

8. Jy kies goedkoop materiale

Ongelukkig is die meeste goedkoper materiale ook die mees onvleiendste materiale om te dra. Daardie ontwerpe wat nie gevoer is nie, wat vasklou op al die verkeerde plekke.

Boonop is party sintetiese materiale veels te blink en laat jou onnodig baie sweet omdat die materiaal nie soos natuurlike materiale behoorlik lug deurlaat nie.

Stel dit reg:

Belê eerder in goeie kwaliteit materiale wat mooi beweeg, mooi hang en jou liggam goed pas wanneer jy dit dra.

9. Minder is meer

Tensy jou stylpersoonlikheid eksentriek en dramaties is, behoort jy nie te veel juwele en bykomstighede op ’n slag te dra nie.

Stel dit reg:

Volg gerus Coco Chanel se stylraad

“Voordat jy by die deur uitstap, kyk vir jouself in die spieël en verwyder een bykomstigheid”.

Onthou jy is nie ’n krismisboom nie, en oorbelle wat ’n stelling maak is genoeg – jy hoef nie daarby ook iets rondom jou nek, polse en in jou hare te dra nie.

Die doel is nooit om jonger aan te trek nie, die fokus is eerder om ’n manier of styl aan te trek wat modern, selfversekerd en eg tot jou stylpersoonlikheid voel. Goeie styl volg nie modetrends slaafs na nie, eerder klein veranderinge wat jou klerekas vars, modern en relevant hou.

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
denim
Denimstyle wat nou hoogmode is en stileerwenke
error: Content is protected !!