Silwer is beslis die metaalskakering van die oomblik, dankie tog – want “event” seisoen het aangebreek en ons het self ’n paar uitrustingidees nodig gehad! Ons deel ’n paar handige “silwer dra” wenke indien jy dalk huiwerig voel om hierdie metaalkleur aan te pak plus 13 silwer mode-items wat nou op ons mode moet-hê lysie is. Deur Justine Kroes
Bygewerk 14/12/11/2023
8 Wenke oor hoe om silwer te dra
1. Dra silwer naby jou gesig
Een van ons gunsteling internasionale stylkenners, Trinny Woodall, sê silwer is een van haar heel gunsteling skakerings om te dra. Sy verduidelik: “Wanneer jy silwer dra, is dit asof jy ’n spieël rondom jou gesig dra, alles lyk meer helder, wakker en jonger te danke aan die reflekterende eienskappe van die silwer. Dit is my “moet dra” op dae wat ek vaal of moeg,” lyk verduidelik Trinny.
2. Dra dit by enigeiets in jou kas
Trinny sê ’n metaalkleur soos silwer laat ook enige ou uitrusting in jou kas dadelik meer trendy lyk, dit word ook eintlik as ’n “neutrale” skakering gesien, dus kan dit by baie pas. Dra jou silwer bloes by daardie ou pak of romp en blaas skitterende nuwe lewe in jou klerekas in.
3. Moenie bang wees om metale te meng nie
Moenie bang wees om metale te meng nie, as jy graag goue juwele dra is daar geen modereël wat sê jy moet net silwer juwele by jou silwer uitrusting dra nie. Om metale te meng is tans trendy en in die mode.
4. Huiwerig? Kies een silwer kledingstuk
Indien jy huiwerig is – kies een kledingstuk in ’n silwer metaalkleur, byvoorbeeld ’n silwer bloes by ’n denim. Of ‘n silwer broek of romp by ‘n wit T-hemp. Om net een silwer kledingstuk op ’n slag te dra is ’n makliker manier om jou tone vir eers in die “trend” te doop!
5. Silwer bykomstighede
As jy steeds te huiwerig is vir silwer kledingstukke, probeer dalk ’n skitterende silwer handsak of selfs ’n paar silwer skoene.
6. “High-low” met jou silwer
Silwer of metaal kledingstukke is ideaal vir die “high-low” aantrekstyl – dit verwys na ’n aantrekstyl waar jy duurder (luukse) klere-items meng en pas by informele klere-items vir ’n vars, treffende en trendy voorkoms (dink byvoorbeeld aan silwer blinkers by jou denims of tekkies by jou silwer jogger broek). Lees meer oor die aantrekstyl hier.
7. Monokroom jou silwer so;
Vir ’n monokromatiese silwer uitrusting (silwer van kop tot tone) hoef jy nie blink silwer van kop tot tone te dra nie (ons dink wel dit lyk cool!) – meng jou metaalblink silwer items met soortgelyke grys kledingstuk skakerings. Hierdie truuk sal diepte en interessantheid skep in jou uitrusting.
8. Silwer en helder saam
Silwer is eintlik ’n “neutrale” kleur, so moenie bang wees om jou silwer kledingstuk met neon of ander helder skakerings te kombineer nie. Ons dink silwer by helder lyk vrolik en vars!