Jy kyk op ’n dag af en ewe skielik het jy hande wat ouer lyk! Is dit gedurige handewas en handsontsmettingsmiddels se skuld? Ons het ‘n dermatoloog se raad gaan vra. Deur Suzanne Kotzé
Dit voel of dit oornag gebeur. Eendag is jou hande nog oukei en die volgende dag het jy ‘ou hande’. Ons het by dermatoloog dr. Suretha Kannenberg vir hulp gaan aanklop. Sy stem saam:
“Ons kan dag vir dag aangaan en ons velle lyk baie mooi en skielik slaan die ouderdom ons en dan let jy op dat jou hande baie oud geword het.”
dr. Suretha Kannenberg
Dr. Suretha gesels oor hande wat ouer lyk
Oorsake van hande wat ouer lyk
Handewas en handontsmettingsmiddels se uitwerking op hande wat ouer lyk.
Soos ons ouer word, word ons velle reeds droër. Dit tesame met die handewas en ontsmet kan bydra dat hande vinniger ouer lyk.
Die son is ’n groot sondebok
“Veral as ons bestuur! Die motor se ruite beskerm ons nie teen UVA nie, en dit is juis die UVA wat veroudering veroorsaak,” sê dr. Suretha. So al gaan jy net vanuit jou huis na ’n ander gebou of gaan kinders oplaai by die skool, is dit steeds belangrik om sonskerm aan jou hande te smeer. Baie van ons weet dit, maar dink ‘ag sommer net vinnig.’
Ons hande word baie blootgestel
Die vel op ons hande is reeds dunner en meer elasties en dan word dit ook nog blootgestel aan wind en weer, skottelgoedwas en ander daaglikse aktiwiteite.
Kontakdermatitis op jou hande
Handewas- en handontsmettingsmiddels kan kontakdermatitis veroorsaak omdat hulle ons vel se sperfunksie vernietig. Jou sperfunksie hou nie net vog binne-in jou vel nie, maar keer ook dat allergene jou vel binnedring. As jou sperfunksie nie allergene uithou nie, veroorsaak dit kontakdermatitis of sensitiwiteit. “Dit is ons volgende ‘epidemie’”, vertel dr. Kannenberg.
Inflammasie gaan hand aan hand met kontakdermatitis en ook met vroegtydige veroudering. Dit word nie verniet ook inflam’ageing genoem nie.
Ons word ouer
Soos ons ouer word, word ons velle minder elasties, wat beteken dat dit nie meer terugspring in posisie nie. Die kollageen onder jou vel word ook minder, dus is jou vel minder sponsagtig. Dit is hoekom mens se hande meer benerig voorkom.
Wat kan ons doen aan hande wat ouer lyk?
1. Handeroom is belangrik
Dit bevogtig nie net jou vel nie, maar dit kan ook help om jou vel se sperfunksie te herstel.
Handeroom as jy sukkel met sensitiwiteit of dermatitis
“Kies ’n room wat so bland as moontlik is,” sê dr. Suretha. Vermy geur- of kleurmiddels en kies rome wat vir sensitiewe velle bedoel is of rome wat jou sperfunskie versterk. Dit hoef nie spesifiek ’n handeroom te wees nie.
Stylvol sê: Probeer gerus
Die handeroom streel, heel en vorm ’n beskermende lagie. Dit bevat geen parfuum of parabene nie maar wel bestanddele wat help om jou sperfunksie te herstel.
SBR Skin Barrier Repair bevat geen preserveermiddels nie en werk goed vir droogheid, rooiheid en sensitiwiteit.
Bioderma Cicabio Creme (R252,95 vir 40ml) is strelend en vorm ’n ligte beskermingslagie.
Eucerin Urea Repair Plus Hand Cream (R142,99 vir 75ml) is ‘n ou gunsteling en bevogtig sonder om taai of olierig te voel.
2. Smeer handeroom aan na elke was
As jy geneig is om droër vel te hê, is dit ekstra belangrik om jou hande na elke was te bevogtig. Dr. Suretha sê baie handontsmettingsmiddels bevat bevogtigende bestanddele ook.
As jy ’n droë vel het of geneig is om ekseem te kry, probeer om handeroom na elke hand-onstmetting ook aan te smeer.
Dr. Suretha Kannenberg
Hou daarom handeroom in jou handsak of in jou motor vir elke keer wat jou hande by die winkels met ontsmetmiddel gespuit word.
Handeroom vir jou handsak
Stylvol sê probeer gerus
3. Chemiese afskilfering vir jou hande
“’n TCA (trichloroacetic acid) afskilfering is die beste behandeling vir die vernuwing van hande,” beveel dr. Suretha aan. Dit is ’n mediumdiep-afskilfering wat nie net van ou, dooie velselle ontslae raak nie, maar ook nuwe selvorming aanmoedig.
Dit is veral goed om die voorkoms van merke en pigmentasie te verminder.
Sonskerm hierna is egter uiters belangrik, want jou vel is meer vatbaar vir sonskade.
Ek het dit getoets, en die proses is blitsvinnig. My hands is eers gereining. Die suur word aan die agterkant van jou hande aangewend, en dit voel effens jeukerig. Daarna word ’n handmasker aangewend. Tuissorg is baie belangrik en as deel van my pakket van twee afskilferings vir R2 900 by Dr. Suretha kry jy ’n intensiewe sonroom en terapeutiese vogroom wat jy moet gebruik. My hande het so nege dae daarna begin afskilfer. Drie weke later is ek vir my tweede behandeling, waarna my hande na so sewe dae begin afskilfer het.
My hande lyk beslis beter. Nou moet ek net volhou met die sonroom!
Suzanne
4. Besef dit is normaal
Ons word ouer en wyser en dis oukei. Al hinder hande wat ouer lyk jou nie, is sonskerm belangrik aangesien dit boonop kan help om velkanker te voorkom.