Die lae poniestert is al vir jare lank een van die staatmaker-haarstyle op internasionale loopplanke. Sit ’n letterlike kinkel aan die klassieke en soms vervelige poniestert met ’n gedraaide poniestert wat sterk dog elegant lyk. Doen dit so: ons wys jou stap-vir-stap hoe om die sijek gedraaide poniestert te bemeester. Deur Justine Kroes
Stap 1
Blaas half-nat hare terug en gebruik ’n hittebeskermingsproei wat jou hare sal beskerm en ’n gladde voorkoms sal gee.
Stap 2
Kam jou hare netjies bymekaar en maak dit in ’n lae poniestert vas met ’n haar-rekkie. Verdeel nou jou hare in twee seksies.
Stap 3
Draai (twist) nou elke seksie van bo na onder en spuit dit met haarsproei (TRESemmé Extra Hold Hairspray R94,99). Blaas dit met jou haardroër om elk van die gedraaide gedeeltes te set.
Stap 4
Draai nou die twee seksies se hare saam so vier-duim van onder af totdat dit styf teen mekaar “gevleg’ is.
Stap 5
Steek die hare op die punt in plek met knippies vas of maak ‘n piepklein vlegsel heel op die punt om die hare by mekaar te hou; ’n dun haarrekkie kan ook die truuk doen.
Gebruik nou ’n serum of haar-olie (minder as ’n druppel) om fyn haartjies wat regop staan te tem (TRESemmé Keratin Smooth Shine Oil . Gebruik haarsproei. (TRESemmé Extra Hold Hairspray om jou styl af te rond en in toom te hou.
Ons Toets
Ek het die gedraaide poniestert getoets en besef dit is makliker as ek my hare van mid-lengtes tot die punte effens nat maak. Ek het nie haarsproei byderhand gehad nie toe gebruik ek sommer my man se haarwaks. Ek het gevind hoe taaier die hare hoe beter, dit hou die gedraaide poniestert netjies op sy plek.
Dit het nie lank geneem nie en was maklik genoeg om self oor my skouer te doen. Ek sal graag hierdie styl dra net voor hare-was dag, met die klein bietjie waks by sal niemand vuil-hare vermoed nie!