Lentegrimering rooi lippe
Lentegrimering rooi lippe

Hierdie Lentegrimering is in; van ‘blurred’ lippe tot ingeleefde waterkleure

Glansende vel, ‘blurred lippe’ en waterkleur wange is van ons gunsteling lentegrimering. As jy wonder watter grimering saam met die seisoen se modes gaan, lees gerus hier. Deur Suzanne Kotzé

‘Blurred’ (vervaagde) lippe

Hierdie MAC voorkoms demonstreer die ‘trend’, maar dit is dalk vir meeste van ons te donker. Jy kan altyd die voorkoms net meer subtiel doen deur effens minder kleur in die middel van jou lippe aan te tik.

Hierdie is seker een van die grootste grimeertrends. Hierdie moeitelose mooi ‘blurred’ voorkoms is op die oomblik ’n groot trend as dit by alle lipkleure kom. Dink aan lippe wat lekker lank gesoen is, of na jy rooi wyn gedrink het.

Lipstiffie moet lyk asof dit effens ingedra is en jy dit sommer maar so aangesmeer het, en nie ure spandeer het om die perfekte buitelyne te trek en in te kleur nie.

Lipvlek en lipolies is ideaal om die voorkoms te skep.

Die ‘nuwe’ rooi

Met tamatierooi wat ’n groot modekleur is, is dit geen wonder dat rooi lippe weereens ’n oomblik in die kollig geniet nie. Die koel manier om die klassieke staatmaker op die oomblik te dra is minder skerp en perfek en meer sag, effens glansend met kleur wat vervaag (blurred) is.

“Wend ’n bietjie lipbalsem aan jou lippe aan en wend rooi lipstiffie net aan die middel van jou lippe aan en gebruik dan jou vingers om dit liggies uitwaarts te smeer,” is grimeerkunstenaar Cheryl Parker se raad.

Onthou om altyd eers jou lippe af te skilfer voordat jy enige helder kleur dra. Grimeerkunstenaar Renée de Witt sê:  “Ek skilfer altyd eers die lippe af deur lipbalsem te gebruik en van daardie weggooibare maskaraborseltjies (waarmee jy ook jou wenkbroue kan opkam). Wend die lipbalsem aan en borsel saggies oor jou lippe met die borseltjie.”

PS Klassieke rooi lippe is soos altyd ook ‘in. Foto: Carolinna Herrera

Pienk, maar maak dit monochromaties

Van borrelgom tot meer perskekleurige pienk lippe, oë en wange! sê beslis lente. Jy kan dit of aantik aan jou lippe met jou vinger om ’n sagter, gevlekte en ‘blurred’ gevoel te kry, of die meer sappige, glansende pienk weergawes doen deur ’n lagies glans bo-oor jou lippe aan te wend. ’n Alles in een blosser wat jy ook aan jou lippe en ooglede kan tik is ideaal vir die monochromatiese voorkoms. 

Jy kan selfs heeltemal monochromatiese gaan en dit saam met die seisoen se stofpienk modes dra.

Waterkleur wange

Soos die ‘blurred’ lippe, lyk wangkleur vir die lente ook sagter. (Ligte) laag op laag is die antwoord hier. Begin met ’n ligte lagie room of jel blosser (wat lyk asof dit soos waterverf deurskyn) en tik ’n ligte bypassende poeierblosser bo-oor.

Glansende vel

Glansende vel is elke lente weer ‘in’ en hierdie seisoen is geen uitsondering nie. Dit is vir eers tyd om jou poeier en mat onderlaag te bêre vir die winter (tensy jy natuurlik ’n baie olierige vel het). Trek gerus jou glansende ‘primer’, onderlaag en verbronsingpoeier nader.

Mikro-oogomlyner

Hierdie is makliker om aan te wend as tradisionele vloeibare oogomlyner. Trek ’n fyn strepie so na as moontlik aan jou ooglid en wip dit uitwaarts. Lees gerus ons vloeibare oogomlynerwenke hier:

Wenk: As jy regtig sukkel, lig jou wimpers op en trek die strepie aan die binnekant van jou wimpers en wip dit net aan die buitehoek op.

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
hipersensitewe vel
Neem so beheer oor jou hipersensitiewe vel
error: Content is protected !!