Grimeerkwassies – wat het jy regtig nodig? Plus, kenners se gunstelinge;

Die verskeidenheid grimeerkwassies daar buite kan vir baie vroue dalk uitdagend voel, nie almal weet waarvoor elke grimeerkwas in hul grimeerkwas-stelletjie gebruik behoort te word nie. Indien jy dalk onseker is, hier’s hulp!

Ons lys al die grimeekwassies wat jy werklik nodig het (mits jy al die stappe grimering dra) en hoe om dit reg te gebruik. Kenners deel hul gunstelinge plus ’n paar handige aanwendingswenke daarby. Deur Justine Kroes

04/04/2025

Jou volledige grimeerkwassie-gids:

Verskillende tipes grimeerkwassies en borseltjies en waarvoor elk gebruik word:

Poeierkwassie

W. Beauty Powder Brush (R199) 

Hierdie borsel is gewoonlik groot met wye haartjies wat maklik jou grimeerpoeier kan optel. Die poeierborsel word gebruik om jou grimering te set en om van daardie ongewenste blink gedeeltes op die vel ontslae te raak, veral op die blink T-sone!

Gebruik dit so: druk jou poeierkwassie in die poeier en tik enige oortollige poeier van die borseltjie af, vee nou liggies oor die gedeeltes op jou gesig wat jy wil ‘set’ of waar jy die voorkoms van ’n blink vel wil versag.

2. Blosserkwassie

Sisley Blush Brush (R1 150, Sisley)

Hier is waar baie vroue deurmekaar raak – ja die blosser, verbronser, poeier en kontoer kwassies is baie naby aan mekaar en jy sal heel moontlik met een so ’n kwassie al die ander se werk kan doen. Die probleem is, ons het nie altyd die tyd om al hierdie kwassies na elke gebruik te was en gereed te hê voor die volgende grimeerstap nie.

Jou blosserkwassie se haartjies moenie te dig wees nie – hoe digter en hoe nader die kwassie se haartjies aan mekaar, hoe meer blosser en pigment sal die kwassie optel.

Met blosser wil ons vir eers minder van die produk aanwend en daarop bou soos nodig. Kies eerder ’n blosserkwassie waarvan die haartjies losser en amper meer donsig is.

Gebruik dit so: wend die blosser met hierdie kwassie saggies op die appels van jou wange aan (nie langs jou mond nie) en opwaarts en uitwaarts na die buitekant van jou gesig toe.

Onderlaagkwassie

Chanel Foundation Brush N°100 (R860 Woolworths)

Baie vroue verkies om eenvoudig hul vingers te gebruik om onderlaag aan te wend. Ons doen dit ook, maar gebruik daarna ’n kwassie of sponsie om seker te maak dis oor al die lyntjies mooi eweredig gemeng.

Daar is baie verskillende tipes onderlaagkwassies beskikbaar – een van die bekendes is die plat onderlaagkwassie. Die plat onderlaagkwassie word meestal gebruik om ’n room-onderlaag aan te wend.

Ons verkies egter ’n digte onderlaagkwassie wat ’n ligter dekking bied, weens die “blend” effek van die groot ronde voorpunt. Gebruik dit so: vee en meng onderlaag vanaf die middel van jou gesig na die buitekante van jou gesig. Hierdie tegniek verhoed dat jy enige harde en onnatuurlike lyne rondom die rand van jou gesig sal hê.

Onderlaagkwas wenke

Justine sê “Ek het hierdie grimeerkwaswenk jare gelede by grimeerkunstenaar Marlinette Newman geleer: As jy steeds ’n plat onderlaagkwassie besit – gooi hom weg! Dit word gebruik om baie dik onderlaag aan te wend; die doel is eerder ’n velvoorkoms wat natuurlik, glansend en foutloos lyk.”

“Kies ’n onderlaagkwassie waarmee jy die onderlaag kan uitpoets (blend/buff), een met ’n groot ronde kop en digte haartjies. Wend jou onderlaag sommer met jou vingers aan en gebruik jou onderlaagkwas om te “blend is your friend” sodat daar geen sigbare strepe en lyne is nie.”

Real Techniques Expert Face Brush (R280)

Grimeerkunstenaar Madeleine (@madeleinehairandmakeup op Instagram) sê “ek dink jou onderlaagborsel is die belangrikste grimeerkwassie in jou grimeersakkie, die een wat jy elke dag gebruik. Ek hou veral van die Real Techniques Expert Face Brush, hiermee kan ek die hoeveelheid onderlaag op die vel goed beheer. Vir ’n ligte dekking gebruik eenvoudig net jou verbloemer op merkies en “buff” dit uit om daardie deeltjies wat jy graag wil wegsteek te verbloem. Jy kan ook altyd jou grimeerkwassie gebruik om ander roombasis grimeerprodukte (verbronser en blosser) aan te wend of uit te meng (blend).”

Verbloemerkwassie

Clinique Concealer Brush (R600)

Lyk amper soos ’n mini onderlaagkwassie, en is amper presies net mooi dit – klein genoeg om spesifieke probleem-areas op jou vel te bedek. Of daardie ongewenste puisies of donker merkies op jou vel te verbloem.

Gebruik dit so: druk hierdie kwassie direk in jou verbloemer en wend op die probleem- area aan, meng dan saggies oor die randjies na buitetoe om die verbloemer by die res van jou onderlaag in te meng.

Ons gebruik graag ’n verbloemerkwassie om skoon te maak onder ons oë waar ons dalk met oogskadu effens gemors het, of wanneer die kleur op ons lippe effens gebloei het om om rondom ons liplyn weer netjies te maak. Ons verkies egter ’n kwassie met digte haartjies wat die mengproses makliker maak.

Makeup Worx 205 Concealer Brush (R195)

Makeup Worx se 205 Concealer Brush (R195) is een van my heel gunstelinge, die hoekig vormige (angled) borseltjie is lekker donserig, en hierdie help om jou verbloemer goed te meng en sorg boonop vir ’n foutlose aanwending van jou verbloemer”.

Grimeerkunstenaar Raine Tauber

@rainetauber op Instagram

Kontoerkwassie

W Beauty Angled Beauty Brush (R199)

’n Veelsydige hoekige kwassie wat meestal gebruik word vir kontoer-grimering en vir die gebruik van verbronser-poeier. Die kwassie maak dit makliker om jou kontoer-grimering netjies te plaas voordat jy met die “blend” proses begin.

Gebruik dit so: nadat jy verbronser-poeier aan die kontoerkwassie aangewend het, kan jy dit op die kontoere van jou wangbene aanwend in stadige op- en afwaartse bewegings om jou natuurlike kontoere te beklemtoon. Ons swiep graag die omgekeerde 3 met verbronser aan beide kante van ons gesigte – begin bo op voorkop, rondom oë en slape, in by wangbene en dan weer uit na ore en onder op jou kakebeenlyn.

Grimeersponsie

Real Techniques Miracle Complexion Sponge (R265 vir 2 Clicks)

Die grimeersponsie is ’n gewilde keuse, veral ’n grimeersponsie wat effens soos ’n druppel lyk – dit kom feitlik by al die hoekies uit (dink byvoorbeeld aan die hoekies rondom jou oë en neus).

Gebruik dit so: maak die sponsie effens nat en druk saggies enige oortollige water uit hierdie truuk verhoed dat al jou onderlaag deur die sponsie geabsorbeer word en help  boonop dat jou onderlaag makliker aanwend.

‘n Handige truuk wat ons by bekende grimeerkunstenaar Renee de Wit geleer het: in plaas daarvan om jou sponsie sopnat te maak, spuit eenvoudig ’n klein bietjie watersproei op jou sponsie, so beheer jy die vogvlakke van jou sponsie en dit maak die aanwending van jou onderlaag veel beter.

Blend & Snap grimeersponsie

Blend and Snap OG (R135 takealot.com)

Suzanne vertel; “’n Vriendin het tydens ’n ‘girls weekend’ baie opgewonde haar Blend & Snap op ons almal gedemonstreer en ons was so beïndruk dat die meeste van ons vir ons ook bestel het na die naweek.”

“Ek gebruik dit veral wanneer ek kontoerprodukte en blosser soomloos wil laat lyk. Die geheim is egter om net liggies in ’n tipe golfbeweging te druk. Ek het aanvanlik gesukkel, want dit het gevoel asof ek my grimering afvee. Ek vind dit ook baie handig rondom die haarlyn, waar mens dikwels met ’n lyn sit.”

Lipkwassie

Dr Hauschka lipstick brush (R295)

Word gebruik om lipstiffie aan te wend. Beslis nie ’n moet-hê kwassie nie, veral vir die wat eerder lipglans en lipvlekke verkies, alhoewel hierdie kwassie tog handig is vir wanneer jy daardie donker of helderkleurige lipskakerings dra. ’n Lipkwassie verseker ’n netjiese en eweredige aanwending van jou lipstiffie, veral om eerste jou lippe te omlyn met jou lipstiffie sodat jou kleur nie “bloei” oor jou liplyn nie.

Plat oogskaduborseltjie

MAC Cosmetics 252s Large Shader Brush (R570)

Gee goeie beheer met presies waar jy die pigment van die oogskadu wil aanwend. Hierdie borsel skep ook die perfekte gladde opperlvak met jou ooggrimering. Omdat die borsel so plat is, tel dit ook heelwat pigment en oogskadu op wat aanwending makliker en meer effektief maak.

Oogskadu-mengkwassie

Woolworths W Beauty Eyeshadow Blending Brush (R189)

Hierdie tipe kwassie word gebruik om verskillende skakerings na aanwending te meng en ligter te maak en skakeer. Die kwassie word ook ’n ‘crease brush’ genoem omdat dit oogskadu in die vou van jou oog aanwend.

Hoe ronder en hoe groter die punt, hoe sagter is die voorkoms en aanwending van die oogskadu. Veral ’n maklik bruikbare kwassie vir oogskadu beginners.

MAC Cosmetics 286S Duo Fiber Tapered Brush (R630)

Grimeerkunstenaar Cheryl Parker (@makeupche op Instagram) se raad; “die MAC Cosmetics 286S Duo Fiber Tapered Brush (R630) werk goed om die effense donkerder oogskadu in die vou (crease) van jou oog te meng.

Jou “meng” (blend) aksie in die vou van jou ooglid behoort soortgelyk te wees aan ’n kar se ruitveër, heen en weer, heen en weer.”

Stippel-kwassie

MAC Cosmetics Duo Fibre Shade Brush 187s (R1 050 Edgars)

Word ook op ’n verskeidenheid maniere gebruik – om onderlaag aan te wend, verhelderaar of blosser te meng en versag. Die meeste van die stippel-kwassies is gemaak van haartjies van twee verskillende lengtes (korter en langer bymekaar) op die kwassie – die doel hiervan is om ’n sagter en foutlose voorkoms van die vel met die aanwending van onderlaag te skep.

Hoekige wenkbrouborseltjie en -kammetjie

NYX Professional Makeup Dual Brow Brush (R300,76 Care to beauty)

Die kammetjie gedeelte word gebruik om jou wenkbroue (of selfs wimpers) netjies te kam en die ander kant word gebruik om poeier of jel aan jou wenkbroue aan te wend of in te vul.

Jy kan ook hierdie borseltjie gebruik om jel-oogomlyner aan te wend (perfek vir daardie kat-oog streep).

Vir wenkbroue: gebruik ’n sagte stippelende aksie (kort opwaarste hale) om die produk aan te wend of te meng.

Verhelderaar-kwassie/ waaier-kwassie

MAC Cosmetics Duo Fibre Fan Brush 184 (R880)

Die delikate waaier-kwassie se haartjies is nie dig en bo-op mekaar soos ander kwassies nie, daarom sorg hierdie kwas vir ’n sagte en ligte aanwending van grimering. Dit word meestal gebruik om verhelderaar saggies bo jou wangbene, en bo jou neus aan te wend (daar waar die sonlig natuurlik val). Dit help om die aanwending hiervan foutloos en nie streperig te laat lyk nie.

Kabuki-kwas

W Beauty Face & Body Kabuki Brush (R279)

Die kabuki-kwas is ’n kort, vetter grimeerkwassie en kan ook vir ’n hele paar grimeerdoeleindes gebruik word. Gebruik dit vir onderlaag oor jou gesig of selfs lyf (die groter kwas maak dit makliker vir ’n groter oppervlak) wat ’n voller onderlaagdekking bied. Ander gebruik weer die kabuki-kwas as ’n mengkwassie om grimering te meng en meer natuurlik te laat lyk.

Oogomlynerkwassie

Sisley Eyeliner  Brush (R1 050)

Jy kan hierdie kwassie gebruik om jel-oogomlyner aan te wend of te gebruik om ’n sagter oogomlyner-voorkoms te skep met oogskadu eerder as met ’n oogomlynerpotlood. Die haartjies is styf teen teen mekaar gepak wat ’n effektiewe maar ook sagter oogomlynervoorkoms help skep. Gebruik dit so: wend oogskadu-poeier so naby as moontlik aan jou wimperlyn vir ’n sagter oogomlyner effek aan.

Wenk: jy kan die oogomlynerkwassie nat maak om ‘n netjiese, jel-effek lyn te skep.

Lees ook: Was jou grimeerkwassies so

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
Clarins
’n Room vir elke ouderdom
error: Content is protected !!