Was jou grimeerkwassies so
Was jou grimeerkwassies so

Was jou grimeerkwassies só

Om jou grimeerkwassies te was, is dalk nie hoog op jou prioriteitslys nie, maar vuil grimeerkwassies verkort nie net die lewe van jou kwassies nie, maar kan ook tot puisies, aknee en selfs infeksies lei. Deur Suzanne Kotzé

Grimeerkwassies is ’n belegging, so sorg mooi vir hulle!

Raine Tauber, grimeerkunstenaar en eienaar van dreamsqns.co.za

Vuil grimeerkwassies en jou vel

Volgens die Amerikaanse vereniging van dermatologie is vuil grimeerkwassies ’n broeiplek vir bakterieë. Behalwe dat dit aknee of uitslae kan veroorsaak, kan dit ook sleg wees vir jou gesondheid. Vuil grimeerkwassies kan glo infeksies, soos ’n swaminfeksie of stafilokokkus infeksie veroorsaak.

Hoe gereeld moet jy jou grimeerkwassies was?

Raine sê: “As ’n professionele grimeerkunstenaar is ek fanaties oor skoon kwassies, en was my kwaste voor elke werk/grimeersessie. Ek was my persoonlike grimeerkwassies minstens een keer per week. As ek ’n puisie het, was ek die kwassie wat op die puisie-area gebruik word, na elke gebruik. Ek was my Beauty Blender elke dag voordat ek dit gebruik. Jy maak dit tog in elkgeval nat om te gebruik en dit neem skaars ’n minuut om dit te was.”

Sommige mense gebruik dalk nie elke dag grimering nie, maar Raine beveel aan dat jy jou kwassies steeds minstens elke twee weke was.

Was jou grimeerkwassies só

1. Spoel af

Begin deur slegs die kwasgedeelte van jou kwassie onder louwarm water af te spoel om enige oortollige grimering te verwyder. (Probeer om so min as moontlik water op die metaalgedeelte van die handvatsel te kry, anders kan die gom losgaan)

2. Voeg wasmiddel by

Jy kan babasjampoe, ’n soliede of vloeibare kwasreiniger of ’n gliseriensepie gebruik om jou kwaste mee te was.

BABASJAMPOE Jy kan of babasjampoe in ’n bak met water gooi en jou kwassies daarin was, of jy kan bietjie babasjampoe op die agtekant van jou hand gooi en jou kwassie daarin druk (veral as jy slegs ’n paar klein kwassies was.)

SOLIEDE REINIGER Hierdie is ons gunsteling manier van was. Sit jou nat kwassies in die reiniger en draai dit so ’n paar keer in die rondte.

VlOEIBARE REINIGER : Gooi by water

GLISERIENSEPIE: Draai die kwassies op ’n klam gliseriensepie.

3. Gebruik verf en draai en swaaibewegings om van grimering ontslae te raak.

Hierdie stap kan jy of op die agterkant van jou hand of in jou handpalm doen, of op ’n spesiale silikoonmatjie. ’n Silikoonmatjie met riffels en patrone help dat grimering wat tussen die haartjies vassit ook loskom en werk verseker beter as die agterkant van jou hand.

4. Spoel af en herhaal

Spoel jou kwassie onder lopende water af en herhaal stap drie (indien nodig). Eindig met afspoel todat dit water skoon is.

5. Druk liggies droog

Druk jou kwas liggies droog met handdoekpapier

6. Vorm jou kwas

Jou kwas se vorm lyk dalk nie so mooi soos wat dit was nie (veral as jy hard gewas het). Gebruik jou vingerpunte om liggies jou kwas te vorm terwyl dit klam is.

7. Laat dit plat droogword

Dit is belangrik om nie jou kwaste regop te laat staan en droogword nie. Die oortollige water kan by die handvatsel afloop en die gom laat loskom en dit kan ook ou kwas se vorm verander. Sit ’n handdoek op ’n sonnige plek met ’n rand. Sit jou kwassies op die handdoek en laat hulle koppe oorhang om droog te word.

PS: Moenie in die versoeking gestel word om jou kwassies vinniger te laat droog word deur dit met jou haardroër te blaas nie. Die hitte van die haardroër kan die gom laat loskom en die sterk wind kan sleg wees vir die vorm van jou kwas.

8. Onthou van jou handvatsels

Gebruik ’n klam lappie of handontsmettingsmiddel om jou handvatsels liggies af te vee.

Probeer

Bailey G Solid Make-Up Brush Cleaner Magic Mint: (R340, baileyg.co.za)
Bailey G Solid Make-Up Brush Cleaner Magic Mint Happy Orangeof (R340 baileyg.co.za)
Solid brush and sponge cleaner (R360, Pink Cosmetics)

Blendercleanser® Liquid Lavender Scented Sponge & Brush Cleanser (R340, Arc Store)
Bailey G Palm Size Silicone Cleaning Pad (R40, baileyg.co.za)
2 In 1 Silicone Sponge Quick Color Off Makeup Brush Cleaner Sponge Remover (R119, takealot.com) Aan die agterkant van die matjie is ’n sponsie waarin jy oortollige water kan uitdruk.
Make-up Brush Cleaning Bowl & Hanging Brush Rack (R280, gogirlgo.co.za) Natascha Mostert van Orden het hierdie oulike produk voorgestel. “Jy kan jou skoon, nat borsels onderstebo hang om droog te word. Wanneer jou kwassies droog is, kan jy selfs die ander kant van dieselfde rakkie gebruik om skoon kwasse in te stoor.

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
volwasse aknee
Ag nee, aknee! 5 redes vir volwasse aknee en 5 moenies
error: Content is protected !!