Grimeerkunstenaars se beste onderlaagwenke

Ons het vyf top grimeerkunstenaars se beste onderlaagwenke gevra, en deur die bank stem elkeen saam – jou onderlaag moet so natuurlik as moontlik lyk, niemand moet eintlik kan sien jy dra onderlaag nie. Hierdie vyf bekende grimeerkunstenaars deel topwenke, aanwendingstruuks asook hul gunsteling onderlaag, die wat hul die graagste gebruik. Selfs ons het ’n paar handige wenke hieruit geleer! Deur Justine Kroes

Natuurlike vel is ’n moet!

Al die grimeerkunstenaars is hier in akkoord, jou onderlaag moet byna onsigbaar wees

“Wanneer ek onderlaag doen, glo ek nog altyd dat jou vel steeds soos vel moet lyk, die onderlaag moet nie sigbaar wees nie. Die onderlaag en jou vel moet amper saamsmelt as een”

Marlinette Newman

Grimeerkunstenaar Algria Ferreira stem saam – “ek hou van onderlaag wat presies soos gesonde vel lyk en eintlik onopsigtelik moet wees”.

Vel-voorbereiding

  • “Vel-voorbereiding is die belangrikste stap. Ek hou daarvan om olies en hidrerende rome te gebruik om die vel voor te berei. Wag ook eers ’n paar minute sodat die velsorgprodukte goed absorbeer, of “marinate” soos ek dit graag noem, voordat jy jou onderlaag aanwend”. Is grimeerkunstenaar Raine Tauber se advies.
  • Grimeerkunstenaar Tash Pops sê “Die belangrikste deel van enige grimeerroetine is goeie velsorg. Skilfer af, wend jou serums aan en bevogtig jou vel goed, maar die belangrikste deel – moet nie jou huis verlaat sonder sonskerm nie. Belê in velsorg en die aanwending van jou grimering sal maklik en foutloos wees.”
  • “’n Vel wat goed voorberei is, beteken gereelde afskilfering, die gebruik van ’n goeie serum en vogroom, en sonskerm is natuurlik ’n moet. Al hierdie stappe moet gevolg word voordat die onderlaag aangewend word.” Algria Ferreira
  • Marlinette Newman stem hiermee saam “Maak seker jou vel is goed gehidreerd. Kies dalk ’n vogroom of serum wat hialuroonsuur bevat, met ’n hidrerende gesigsproei, voordat jy jou onderlaag aanwend. Dit sal help dat jou onderlaag langer hou, beter aanwend, asook verhoed dat jou onderlaag begin kraak iewers deur die loop van die dag.”

Aanwending

“Die metode van aanwending is belangrik: ek dink ’n kombinasie van die gebruik van jou vingers vir natuurlike voorkoms gepaard met ’n grimeerkwassie om die onderlaag mee te “buff” is die beste kombinasie vir aanwending.” Algria Ferrreira

“Wend heel eerste ’n baie dun lagie van jou onderlaag aan, jy moet nog jou vel deur die onderlaag kan sien, wend daarna jou verbloemer aan. Moet nooit eers jou verbloemer aanwend en daarna jou onderlaag nie. Moet ook nie jou onderlaag as verbloemer gebruik en te veel daarvan aanwend nie. Dun lagie eerste en daarna verbloemer op enige probleemareas soos merkies, puisies of donker kringe.“ Cheryl Parker

Tash Pops se raad; “Moenie jou onderlaag met ’n swaar hand aanwend nie. Begin eerder met minder en wend nog aan indien nodig. Hoewel dit dalk goed lyk op fotos (ons almal ken die Instagram kultuur) lyk dit nie noodwendig goed in persoon nie. Indien jy meer onderlaag benodig, doen dit geleidelik, sodat jou vel steeds natuurlik lyk.”

Moet nie jou onderlaag oordoen nie. Verskillende formules bied verskillende vlakke van dekking. Jy het nie nodig om helfte van ’n botteltjie onderlaag op ’n slag te gebruik nie, dan gebruik jy heel moontlik die verkeerde onderlaag. ’n Dun lagie is genoeg en gebruik ’n verbloemer op merkies.” Raine Tauber

Grimeerkwassies

“Om die regte grimeerkwas saam met jou onderlaag te gebruik is baie belangrik. Persoonlik verkies ek ’n “duo fibre” kwassie wat die onderlaag foutloos op die vel laat aanwend. Daarna gebruik ek ’n klam beauty blender wat enige strepe en oormatige onderlaag verwyder. Raine Tauber

“As jy steeds ’n plat onderlaagkwassie besit – gooi hom weg! Daardie tipe kwassie word gebruik om baie dik onderlaag aan te wend, en dit is glad nie meer in die mode nie. Die doel is eerder ’n velvoorkoms wat natuurlik, glansend en foutloos lyk. Kies eerder ’n onderlaagkwassie waarmee jy die onderlaag kan uitpoets (blend/buff), een met ’n groot ronde kop en digte haartjies. Ek hou veral van die Real Techniques Expert Face Brush . Doen dit so: wend jou onderlaag sommer met jou vingers aan en gebruik ’n digte grimeerkwas om te “blend is your friend” sodat daar geen sigbare strepe en lyne is nie.” Marlinette Newman

Tash Pops se raad; Gebruik ’n sintetiese grimeerkwas om jou grimering aan te wend – handig omdat dit nie te veel van jou onderlaag sal absorbeer nie en jou onderlaag sal langer hou. Die resultaat is keer op keer ’n pragtige onderlaag-voorkoms. Hierdie tipe grimeerkwas werk goed saam met room- én poeiergrimering.

Tash Pops Foundation Brush

Handige truuks en onderlaagwenke

  1. As jy ’n mat onderlaag gebruik, meng ’n klein bietjie verhelderaar room (soos MAC se Strobe Cream by jou onderlaag in. Dit verdun die onderlaag en gee jou vel ’n effense glans. is een van Cheryl Parker se top onderlaagwenke
  2. Vir gesonde, glansende vel, meng ’n druppel Elizabeth Arden 8 Hour Cream (R355) by jou onderlaag in. Beslis een van my gunsteling truuks om ’n “glow from within” voorkoms te verkry. Tash Pops
  3. Wanneer jy op soek is na die regte skakering onderlaag, toets dit altyd in natuurlike lig. Maak seker dit pas by jou velskakering, veral op jou kakebeen. Tash Pops
  4. Algria Ferreira stem hiermee saam; Jou onderlaag se kleur is ongelooflik belangrik – toets die kleur op die sleutelbeen en kaakebeen en kyk dat dit presies dieselfde skakering is. Die heel ergste is onderlaag wat te pienk, oranje of selfs grys lyk. Boonop hou dit by die kakebeen op en die nek is geheel en al ’n ander skakering.
  5. Onthou dat die ore en nekgedeelte ook onderlaag moet kry. Algria Ferreira
  6. Die meeste van die onderlaag wat ons gebruik sal oksideer (wat beteken hul verander van kleur) nadat dit aan jou vel aangewend word. Toets dus eers jou onderlaag vir ’n rukkie voordat jy koop. Tash Pops
  7. Cheryl Parker sê ’n gesigsproei wat jou grimering langer laat aanbly asook ’n glans toevoeg aan die vel is beslis ’n moet. Veral as jy in die spieël kyk en besef jou onderlaag is te mat.
  8. Marlinette Newman se raad: Moet nooit ’n onderlaag koop wat swaar dekking bied as jy net ’n paar merkies het om te verbloem nie. Hierdie tipe onderlaag is eintlik net vir mense wat sukkel met akneeletsels, erge pigmentasie en ’n bietjie meer nodig het om te verbloem.
  9. As jy ’n droë vel het, vermy ’n mat onderlaag en kies eerder ‘n ligte, hidrerende onderlaag, dit sal verhoed dat jou vel verder uitdroog. Koop eerder ’n hidrerende onderlaag (kyk uit vir woorde soos serum, glowing, hydrating foundation). Tash Pops

Gunsteling onderlaag:

Raine Tauber

Dior Airflash, ’n ekstra ligte onderlaag met ’n natuurlike, effense mat voorkoms – jy kan skaars voel dat jy onderlaag dra.

MAC Face and Body – sorg vir daardie “dewy” effek op die vel, dit is waterdig en bied tonne hidrasie. Hierdie onderlaag is heel moontlik die onderlaag wat die meeste gebruik word op tv en tydskrifstelle asook agter die verhoog by modeweek vertonings.

Diego Dalla Palma Hydra Boost Foundation. Is die onderlaag wat ek op die oomblik die meeste dra. Dit bevat ’n hele klompie velsorgbestanddele, dit is nie te glansend nie maar ook nie te mat nie – net reg. Ek hou ook van onderlaag in ’n buisie.

Filorga Flash Nude Fluid – is ontwikkel om jou vel foutloos te laat lyk, maar terselfdetyd te lyk asof jy amper nie grimering aan het nie. Natuurlike, ligte tekstuur en formule.

Chanel Les Beiges Healthy Glow foundation – bevat bestanddele wat beskadiging deur besoedeling verminder en teenwerk. Dit laat vel syglad en glansend en bly boonop lank aan. Ek gebruik dit graag vir bruide.

Cheryl Parker

Gunsteling onderlaag, MAC se Face and Body (R680), dit is hidrerend en amper deursigtig maar gee genoeg dekking om enige merkies op die vel te verbloem. Een van die grootste trends op die oomblik is “glansende vel” en die Mac Face & Body skep ’n glansende, gesonde gelaat, en die vel lyk steeds natuurlik.

My tweede gunsteling onderlaag is een wat die teenoorgestelde effek gee, Chanel Ultra Le Teint ) – ’n ongelooflike onderlaag wat die vel amper “photoshopped” laat voorkom. Verbloem enige merkies of pigmentasie, veral ’n gunsteling op troues se grimering – die bruid se vel lyk foutloos op fotos.

Clarins Firming Foundation is nog ’n gunsteling – hierdie onderlaag werk veral goed vir ouer vroue, verbloem fyn lyne en plooie. Dit gee ‘n effense satynagtige glans op jou vel

Tash Pops

Ek het soveel gunstelinge, maar ’n stapelitem in my grimeertas is MAC se Face and Body Foundation . Dit is lig en is ’n waterbasis-grimering. ’n Duurder alternatief is Dior se Face and Bodywat net so goed werk en boubare dekking bied.

Nog ’n gunsteling is Bobbi Brown Skin Longwear Foundation dit het ’n SPF 15 en hou tot en met 16 ure lank op die vel, hierdie is die grimering wat ek graag elke dag vir my eie vel gebruik.

Indien jy dalk ’n luukse onderlaag wil koop kan ek die Georgio Armani Luminous Silk Foundation sterk aanbeveel. Dit is ook boubaar wat beteken jy kan lagie op lagie aanwend vir meer dekking soos nodig. Dit verbloem enige merkies en het ’n sygladde afwerking op die vel.

Marlinette Newman

’n Onderlaag wat ek nie noodwending in my grimeertassie gebruik nie maar wat ek self graag gebruik is Sorbet se Cover and Go . Hierdie onderlaag het ’n verbloemer aan die bokant wat vir jou meer dekking sal gee. Ek gebruik graag ’n dun lagie van die onderlaag gedeelte en dit laat my vel foutloos lyk. Ek meng selfs ’n klein bietjie vogroom by die onderlaag in – siedaar jou eie getinte bevogtiger.

Algria Ferreira

Chanel Watertint – verlief hierop. Die formule bestaan uit meer as 70% water en vog en het ’n titseltjie kleur. Dit is geskik vir die wat op soek is na daardie “no foundation foundation”.

La Mer – omdat dit regtig soveel wonderlike eienskappe het en dan daarmee saam ligweg die mooiste natuurlikste voorkoms gee wat vir ure lank hou.

Lees ook: Pamperlangbad met van ons gunsteling nuwe badprodukte

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
Nael-inspirasie-idees vir die winter
error: Content is protected !!