Maak jy een van hierdie groot grimeerfoute? Met meer as 20 jaar ondervinding as grimeerkunstenaar en duisende foto-sessies en grimeerklasse agter die blad verklap bekende grimeerkunstenaar Reneé de Wit die gootste grimeerfoute wat sy raaksien. Deur Suzanne Kotzé
4 Grootste grimeerfoute
Hierdie is grimeerfoute wat soveel vroue maak, van modelle tot bekendes en van ons ‘gewone vroue’ ook.

1. Verkeerde skakerings onderlaag
“Daardie sigbare lyn waar jou onderlaag ophou en jou vel begin, is gewoonlik die grootste verklikker dat jy die die verkeerde skakering onderlaag dra,” sê Reneé.
“As jy onseker is oor die regte skakering onderlaag vir jou, toets eers die onderlaag vir ’n paar dae voordat jy dit koop. Onderlaag word dikwels donkerder oor tyd.”
Probeer om ’n toetsgrootte onderlaag te kry of neem jou eie klein houertjies saam en vra of jy ’n bietjie onderlaag in die houertjie kan kry om by die huis te toets. “Ek neem altyd my eie klein houertjies saam winkels toe as ek nie seker is oor die skakering nie,” verklap Reneé.
Wenk: Kies eerder onderlaag wat vol dekking (full coverage) gee en meng dagroom, sonroom of selfs serum daarby. So kan jy die tipe dekking wat jy kry self aanpas en dit ook aanpas na gelang van jou vel se behoeftes.
2. Te donker wenkbroue
Die kleur van jou wenbkroupotlood moet so na as moontlik aan jou natuurlike wenkbroukleur wees.
Soos ons ouer word, word veral die punte van ons wenkbroue ook ligter, so kies ‘n effens donkerder kleur op die punte van jou wenkbroue.
“Ek is ook mal oor wenkbroumaskara om wenkbroue meer van ’n drie-dimensionele voorkoms te gee. Net soos wanneer jy ligstrepies in jou hare sit en meer dimensie kry, so gee wenkbroumaskara ook meer dimensie aan jou wenkbroue.
3. Lipstiffie sonder lippotlood
’n Lippotlood maak dat jou lipstiffie soveel langer aanbly. Veral as jy eers jou lippe heeltemal inkleur met jou lippotlood en dan jou lipstiffie bo-oor aanwend. Jy kan ook lippotlood gebruik om jou lipvorm te balanseer en byvoorbeeld jou lippe groter te laat vertoon deur die lyntjie net buite jou natuurlike liplyne te trek. Dit gee ook mooi definisie aan jou lipvorm.



4. Dik verbloemer onder jou oë
Wees versigtig om nie te veel verbloemer onder jou oë aan te smeer nie. Moet ook nie te kwistig met jou poeierkwas wees nie. Poeier onder jou oë kan net in die plooitjies beland en donker kringe en plootjies selfs meer beklemtoon. Gebruik eerder ’n tweede lagie onderlaag onder jou oë om donker kringe te neutraliseer. As jy voel jy kan nie sonder jou verbloemer onder jou oë nie, maak seker jy gebruik min daarvan.
Wenk 1
Spuit ’n grimeersponsie met ‘make-up setting spray’ en wend jou tweede lagie onderlaag onder jou oë of verbloemer hiermee aan. Die sponsie skakeer dit goed in en die sproei help keer dat jou grimering afvee.

Wenk 2
As jy ’n droë vel het (veral onder jou oë) meng verbloemer met jou oogroom en wend dít in plaas van slegs verbloemer aan, want dis geneig om die area nog droër te laat lyk.
Besoek Reneè se webwerf www.reneedewit.co.za of volg haar op Instagram
Lees ook: Wimperwenke wat werk