Die video van die wêreld se oudste gimnas, oftewel die gimnastiek-ouma wat weer oral op sosiale media te sien is, het ons nuuskierig gemaak oor wie sy is. En die inspirerende dame het ons laat besef jy is nooit te oud om jou drome te bewaarheid nie! Deur Suzanne Kotzé
12/07/2022
Na ons onlangse artikel 9 Redes om meer te rek en strek het die video van die wêreld se oudste gimnas, Johanna Quaas ons geweldig beïndruk. Soos ons ouer word, neem ons soepelheid af, maar Johanna is die toonbeeld daarvan dat jou leefstyl ’n geweldige groot bydraende faktor is! In hierdie video is sy 91 jaar oud en sy het elke dag geoefen en twee keer per week die gimnasium besoek! Haar bynaam is nie verniet ‘Turn-Oma ( gimnastiek-ouma) nie.
“Ek is seker die lewe is makliker wanneer iemand fiks is.”
Johanna Quaas
Meer oor gimnastiek-ouma Johanna Quaas
Johanna Geißler is in 1925 in Duitsland gebore. Sy was van kleins af aktief en het op nege al begin met gimnastiek. Van hier af was dit egter nie altyd maklik om aan te gaan met gimnastiek nie. Toe sy elf jaar oud was moes sy volgens die toe Nazi Duitsland se beleid sosiale werk begin doen gedurende die Tweede Wêreldoorlog waartydens sy gehelp het met plaaswerk en om ’n ander familie se kinders op te pas.
Nadat sy later as gimnastiekafrigter opleiding gekry het, kon sy weer nie werk as afrigter nie, aangesien sy toe in Oos-Duitsland gebly het waar gimnastiek verbode was na die Tweede Wêreldoorlog. Sy het toe maar begin om handbal te speel todat die verbod gelig is. Sy was later selfs deel van die handbalspan wat die Oos-Duitse kampioenskap gewen het.
Nadat sy ook haar onderwyseksamen afgelê het, het sy begin om by die Institut für Körpererziehung (Instituut vir liggaamlike opvoeding) te begin werk waar sy sport- onderwysers opgelei het en gehelp om ’n gimnastiekhandboek te skryf.
Sy het het toe begin om meisies in gimnastiek af te rig, en haar spanne en gimnaste het verskeie pryse (onder andere ’n vierde plek in die Olimpiese Spele) ingepalm.
Terug na gimnastiekdeelname op 56!
Ten spyte daarvan dat sy op ’n ‘ou’ ouderdom weer begin deelneem het aan kompetisies, het dit haar nie gekeer om 30 kampioenskappe te wen nie. Onder andere was sy 11 keer agtermekaar Duitse senior gimnastiekkampioen!
In April 2012 het sy op die ouderdom van 86 ’n vloer en balk roetine gedoen en die prys vir die Guinness Book of World Records se oudste kompeterend gimnas gewen.
Kyk net na hierdie roetine wat sy dieselfde jaar by die Tournament of Masters in Cotbuss gedoen het.
Hierna het sy nog verskeie pryse gewen. Onder andere ook ’n prys in 2015 van die Internasional Gymnastics Hall of Fame.
Lugduik op 90
Tussendeur het sy nog tyd gemaak om op die ouderdom van 90 haar droom van lugduik (skydiving) ook te bewaarheid. Dit was glo ter ere van Koningin Elizabeth vir wie sy groot bewondering het, wat ook in dieselfde jaar 90 geword het.
Kyk hier: https://www.bbc.com/news/av/world-europe-36454702
Die ‘gimnastiek-ouma’ word vereer op TV
In 2017 (op 91 jarige ouderdom) het sy op Steve Harvey se TV program Little Big Shots: Forever Young verskyn waartydens sy ’n balkroetine gedoen het. Sonder dat sy geweet het, was die Olimpiese goue medalje wenner Simone Biles ook teenwoordig. Nadat sy die roetine klaar gedoen het, het Biles op die verhoog gekom om haar te eer. Biles het gesê: “Sy is ’n ware inspirasie. Ons, die Olimpiese Span, kyk na al haar videos.”
Sien dit hier:
Dieselfde jaar het sy ook ’n parallelle balk roetine gedoen by ’n internasionale forum in Singapoer. Sien dit hier: https://youtu.be/_8gabou7htY
Nadat sy in 2018 ’n bo-arm spier geskeur het, het sy opgehou deelneem.
Johanna Quaas se bed-gimnastiek
Die ma van drie, ouma van vier en oumagrootjie van twee kon egter op die ouderdom van 95 steeds op haar kop staan! Sy het ook ’n bedgimnastiek roetine gemaak wat beskikbaar is op YouTube vir ’n matras en bed maatskappy Wissner Bosserhof. “Noudat ek ouer is vind ek dit steeds belangrik om elke oggend gimnastiekoefeninge in die bed te doen. Ek beveel dit vir almal aan wat nie meer by die gimnasium kan uitkom nie.
Sien dit hier:
“My gesig is oud, maar my hart is jonk.”