Het jy ook al vantevore gesukkel met ’n stywe nek en gewonder hoekom of wat die oorsaak dalk mag wees? Daaroom het ons ’n kundige biokinetikus en rehabilitasiespesialis Tirsa Pittaway gevra om moontlike oorsake van ’n stywe nek met jou, die Stylvol leser te deel. Deur Justine Kroes
25/05/2023
1. Jy beweeg nie genoeg nie
Daar word geglo dat die korrekte postuur sal lei tot minder nekpyn, maar maak nie saak hoe mooi regop jy sit nie, as jy vir agt ure aaneen kiertsregop agter jou rekenaar gaan sit, gaan jou nek begin styfraak ongeag van hoe goed of sleg jou postuur is. Die oorsaak van nekpyn hier, is dat jy nie gereeld genoeg deur jou werksdag beweeg nie. Ons sit almal met “text neck” (kop effens af en nek vooroor gebuig) vir lang periodes en werk, verduidelik Tirsa.
As jy geneig is om te sukkel met nekpyn, sal my raad wees, begin jou nek beweeg. Jou nek is gemaak om te beweeg, hy mag beweeg. Kant tot kant, vorentoe of agtertoe.
Beweeg jou nek so gereeld as wat jy kan. Daar word nie verniet gesê ‘your best posture is your next posture’ nie.
Tirsa Pittaway
Daar is selfs oulike apps wat jy kan gebruik om jou te herhinner om te beweeg, een vries jou rekenaar se skerm byvoorbeeld vir 30 sekondes om jou aan te moedig om te beweeg. Staan vinnig op, loop om jou tafel en doen dalk vinnige nek bewegings om daardie stywe nek te vermy is Tirsa se raad.
2. Jou werkspasie is verkeerd opgestel
Tirsa verduidelik “Hoe jou werkspasie opgestel is, is belangrik en daar is ’n paar klein veranderings wat jy kan maak om ’n stywe nek te verminder of vermy;
Skermhoogte
Kom ons sê jy werk op ’n skootrekenaar, jou ooglyn val outomaties afwaarts, jou ken is af en jou nek is vooroor gebuig, hierdie is nie ’n ergonomiese sitposisie nie. Stapel eerder jou skootrekenaar op ’n paar boeke en maak seker jou oë is in lyn met die boonste gedeelte van jou rekenaarskerm vir wanneer jy sit en werk.

As jy daagliks voor twee skerms werk, maak seker albei skerms is direk voor jou geposisioneer en dat jy nie roteer tussen die twee skerms nie en in ’n ongemaklike sitposisie eindig nie, die rotasiebewegings is te klein om te tel as goeie en voldoende bewegings.
Armhoogte
Wanneer jy voor jou rekenaar sit, maak seker jou elmboog is ontspanne, as jy met ’n elmboog sit wat effens gelig is stoot jou arm jou skouerspiere opwaarts wat moontlik spanning in die nek-area kan veroorsaak.
Jy steun nie jou rug nie
Jy sit nie reg op jou stoel nie en benodig dalk steun vir jou rug. Die beste manier om te sit, sê Tirsa, skuif jou boude al die pad terug in jou stoel totdat dit die agterkant van die stoel raak, rol dan ’n klein handoek of kombersie op, leun voorentoe en druk die opgerolde handoek agter tussen jou rug en die stoel in. Jy sal eintlik onmiddelike verligting voel in jou rug en nek-area van so sit.
‘n Staan werkspasie as opsie
As jy werklik sukkel om te beweeg is ‘n ratio van ‘n 50/50 sit en staan werkspasie dalk ‘n goeie oplossing om jou aan die beweeg te hou.

3. Spanning
Spanning speel ’n groot rol in die verskyning van nekpyn of ’n stywe nek. Jou psigologiese welstand of hoë stresvlakke veroorsaak spiere in jou skouers en nek om saam te trek, wat ’n stywe nek veroorsaak en moontlik ook spanningshoofpyne wat ’n verwysingspyn van ‘n stywe nek is.

Die oplossing hier is eerstens om oorsake van stres te herevalueer, en die nodige veranderinge te maak om stres te verminder. Hiermee saam is beweging van die nek steeds belangrik om verligting aan die stywe nek te bring.
4. Vrees
Deur jare se ervaring het ek al gesien dat vrees ’n groot bydrae maak tot die oorsaak van ’n stywe nek of dalk ’n reeds stywe nek net vererger. Mense mag dink daar is iets groots fout in hul nek, wat hierdie pyn veroorsaak, en dan wil hulle nie hul nek beweeg nie, en so vererger die toestand verder. Party het dalk voorheen hul nekke beweeg en ’n seer spasma ervaar, en daarom wil hul nie verder hul nekke strek of beweeg nie, uit vrees dat hul weer die pyn sal ervaar. Ander vrees weer dat ’n verkeerde beweging permanente skade kan veroorsaak. My raad is egter, moet nie bang wees om jou nek te beweeg nie, hy is gemaak om te beweeg in enige rigting.
Tirsa noem dit is wel belangrik om ’n mediese dokter vir advies te raadpleeg sou jy aanhoudende nekpyn ervaar, nie volle omvang beweging van jou nek het nie, krag in jou hande en arms verloor en gereeld “pins and needles” in jou arms voel.
Meer oor Tirsa

Tirsa besit haar eie biokinetika praktyk in Pretoria: Tirsa Pittaway Biokineticist. Tirsa is onder meer die rehabilitasiespesialis vir die Blou Bulle Rugbyspan waar sy spelers help om deur oefening hul beserings te rehabiliteer. Met ‘n passie vir oefening bied Tirsa ook oefenprogramme en Pilatesklasse aan. Kontak vir Tirsa hier en volg haar op sosiale media hier.