Dit is weer inperkingstyd hierdie kant, en selfs by die huis loop ek nie graag aldag kaalvoet rond nie. Hier is ’n paar gunsteling gemaklike sandale wat ek op my “inperkingstyl-2021” lysie het en ja ek sal al die skoene in die openbaar ook dra! Deur Justine Kroes
Sportsandale
Lyk dalk soos “oumaskoene” ja, maar dié skoen is vanjaar die top-skoenkeuse onder modekenners. Hierdie styl lyk sommer lekker gemaklik en die skakerings en versierings steel dadelik my hart. Ek maak graag vanjaar plek in my skoenkas vir ’n paar moet-hê sportsandale.
Slider-sandale
Die 90’s word steeds duidelik herroep met die slider-trend. Ek dra my plastieksliders saam met my lospassende somerrokke en selfs by denims (ek het ’n wit paar wat ek heel Desember lank gedra het). Hierdie styl is volop en oral beskikbaar in verskeie helder skakerings. Ek weet sommer ’n helder pienk of geel skakering sal my inperkingsbui sommer dadelik laat opklaar.
Plakkies
In die somer verruil ek vinnig my pantoffels vir plakkies – dit is koeler en ook maklik om in die aand tydens pajamadril vinnig aan my voete te glip. Plakkies is gewoonlik ’n sakpas item – eksperimenteer gerus ’n slag met helder skakerings, patrone en versierings. Jou skoene hoef nie ’n somber-saak te wees nie. Kyk net hoe prettig is hierdie plakkies, ek weet sommer ek sal dit (eendag!) nog strand toe kan dra.
Donsige slider-sandale
Dit lyk dalk bietjie warm, maar hierdie UGG-geïnspireerde sandale bly steeds groot nuus. Of jy dit nou as pantoffels of as sandale by jou denims dra, ons dink dit lyk baie cool. Om so ’n paar donsige sliders heeldag by die huis te dra sal ons darem maar net bietjie meer luuks en minder verslons laat voel.
Inperkingswenk – moet liefs nie hierdie outjies dra wanneer jy beplan om vloere te mop nie!
Lees ook: Haarscrunchie; dra dit so