Daartussen om werk te probeer klaarmaak, sosiale- en familieverpligtinge, loop meeste van ons se kapasiteitkoppies dalk oor en einde-van-die-jaar irritasie is beslis met ons. Deur Suzanne Kotzé
Jy ontvang ’n e-pos of ’n boodskap, en ’n paar maande gelede sou jou reaksie dalk ‘o, oukei’ gewees het, maar ewe skielik stoot die woedegloede op en jy moet jouself daarvan weerhou om nie met harde vingers, harde woorde terug te tik nie.
Hierdie tyd van die jaar is ons lonte mos kenmerklik kort. Die meeste van ons is moeg en oorweldig en laat val (gereeld) balle.
Eer jou kapasiteit
Lewensafrigter Cherona Dannhauser deel die volgende met ons.
“Wanneer iemand voor my sit en vertel dat hulle oorweldig voel, is ‘Hoe eer jy jou kapasiteit’ die eerste ding wat ek vir hulle vra.
Ek verduidelik dan (aangesien hulle waarskynlik nie weet wat ek bedoel nie): Om jou kapasiteit te eer het jy duidelikheid nodig. As ons duidelikheid het, het ons nodig dat sisteme en prosedures in plek is. As ons ons dan duidelikheid het, weet ons waarvoor om ja te sê en waarvoor om nee te sê. En dit is hoe jy jou kapasiteit eer.
As jy dink aan kapasiteit hê, jy het net soveel en die res loop oor.
Jou kapasiteitskoppie
Net soos ons nie meer koffie of tee in ’n koppie kan gooi voordat dit oorloop nie, so het elkeen van ons ook net ’n beperkte kapasiteit voordat ons oorloop.
Die kapasiteitskoppie-konsep is deur sielkundige Dr. Emma Hepburn, ook bekend as The Psychology Mum op sosiale media, ontwikkel. Sy het hierdie konsep ontwikkel terwyl sy ’n groep mense met breinbeserings help bestuur het. Die kapasiteitskoppie-konsep is deur haar ontwikkel as ’n manier om spanning en kapasiteit te help bestuur voordat dit oorloop. Vandag word hierdie konsep wyd gebruik.
“Net soos ons koppie, het ons almal beperkte kapasiteit en as ons te veel aanpak, loop ons oor wat daartoe lei dat ons oorwelding, gespanne, angstig en geïrriteerd voel.”
sielkundige Dr. Emma Hepburn
Met die koppie konsep kan jy visualiseer wat jy nog kan aandurf voordat jou koppie vol is.
Praktiese wenke om minder oorweldig te voel
1. Wees in beheer van jou kalender

Hierdie tyd van die jaar, en veral as mens oorwerk en moeg is, is ons meer geneig om te vergeet. Teken dus afsprake dadelik in jou kalender aan.
- Gedeelde elektroniese kalender met jou familie-lede
- Fisiese kalender, met verskillende kleure vir verskillende familielede. Sit hierdie iewers op waar almal in die familie dit kan sien. (Dit help ook baie dat kinders minder oorweldig voel as hulle weet wat die week inhou).
- Kyk na jou kalender, voordat jy net ‘ja’ sê vir uitnodigings
- Neem ook jou familielede se persoonlikheidstipes in ag as dit by die gesin se sosiale verpligtinge kom. Jou ekstroverte kind mag dalk uitstappie op uitstappie geniet, terwyl jou introverte kind eerder battery wil herlaai by die huis. Beplan hiervolgens.
- Maak tyd om deur die plan/aktiwiteite van die week te praat, het sy dit op ’n Sondagaand of oor die naweek is.
2. Probeer vooruit beplan
Jy sit die jaareindfunksie in jou kalender, maar jy los die planne vir wie na die kinders tyd tot die dag van te vore. Klink dit bekend? (Ons is self hieraan skuldig!). Sodra jy iets in jou kalender sit wat sulke planne verg, probeer om dit ook dadelik te reël.
3. Sê nee (en hou daarby)
As jy reeds te veel sosiale bedrywighede aan het, sê eerder nee. Wees eerlik, die meeste mense sal verstaan. Dit is veel beter as om ja te sê omdat jy te sleg voel om ‘nee’ te sê en dan net nie op te daag nie of op die nippertjie te kanselleer. Onthou ook jy het ‘nee’ gesê met ’n rede, so hou daarby.
4. Ruim tyd in vir jouself
Dit is baie keer die manier om jou koppie weer leër te kry. Oefening, meditasie, ’n koppie koffie op jou eie, stiltetyd.
5. Dink twee keer voor jy reageer
Tik gerus die kwaai e-pos, en vee dit dan weer uit. Gaan kry ’n koppie koffie en besin. Onthou gerus dat die persoon aan die ander kant van die skerm waarskynlik ook oorweldig en moeg voel.
6. Hê empatie met jouself (en ander)
Jy gaan waarskynlik steeds balle laat val, foute maak en goed vergeet. Werk sagkens met jouself en met ander. Assem uit en laat dit gaan.
7. Probeer boks-asemhaling
Hierdie tegniek is ’n ware staatmaker gedurende tye wanneer jy oorweldig of angstig voel. Leer dit gerus ook vir jou. kinders aan (dit is wonderlik vir eksamenspanning!).
Lees hier: Wat is boks-asemhaal, hoe doen jy dit en hoekom is dit so goed vir jou?
Doen hierdie in nou en begin 2025 beter.
Cherona D deel die volgende met ons wat jy sommer nou al kan doen sodat jy 2024 beter kan begin.
- Oorsien intekeninge; hetsy dit nuusbriewe of ‘apps’ is.
- Ruim jou ‘cloud storage’ op. Dit is te maklik om ou foto’s en dokumente net in die ‘cloud’ te los.
- Vee Canva templates en ou foto’s wat jy nie meer gebruik nie uit.
- Vee uit en teken uit op ‘spam’ e-posse
- Skeduleer jou ‘out of office’ e-pos
- As jy ’n webtuiste het, dateer jou ‘copyright’ datum op.
- Maak solank ’n ‘met vakansie’ WhatsApp statusboodskap
- Laai boeke af om die vakansie te lees.
- Skep ’n dankie en welwense e-pos vir jou kliënte en skeduleer dit om outomaties te stuur.
- Gaan deur jou skryfbehoefte laai, gooi uit, gee weg en vervang.
“Hierdie is ’n paar praktiese en maklike stappe wat ek jaarliks herhaal om die emosionele ‘wobbles’ teen die einde van die jaar te vermy.” Cherona Dannhauser