essensiele olie diffuser
essensiele olie diffuser

Essensiële olie-verspreider (diffuser)

Met ’n essensiële olie-verspreider kan jy ’n rustige atmosfeer in jou slaapkamer skep deur die regte essensiële olie te gebruik en ’n lekkerruik, opgewekte gevoel in jou woonkamer of tuiskantoor. So gebruik ons dit. 

Suzanne se essensiële olie-verspreider: mooi en prakties

essensiele olie diffuser rook

Ek het hierdie essensiële-olie verspreider lank gelede by The Spa Warehouse gekoop. Die presiese een is nie nou beskikbaar nie. Soortgelyke verspreiders is beskikbaar by Takealot en Faithful to Nature

In my slaapkamer

Ek hou daarvan dat dit by my bed en bedkassie pas! Ek skakel dit so ’n half-uur voor slapenstyd aan en gooi ’n paar druppels laventel- en kamille-essensiële olie daarin. Binne-in is ’n houer vir water waarby jy die essensiële olie gooi. Die verspreider het liggies wat van kleur verander en ek kan my verkyk aan die stoom wat uitkom.

Om net na die stoom te staar laat my klaar heerlik ontspanne voel.

In my tuiskantoor

Ek sit dit ook nou en dan as dit leeg is (en dit gebeur nie sommer gou nie) in my tuiskantoor en gebruik dan peppermint-essensiële olie aangesien dit help met fokus, konsentrasie en meer energie.  

Justine se essensiële olie-verspreider: klein maar effektief

Hierdie klein Deer Diffuser van Curioh is omtrent dieselfde grootte as my hand, maar die grootte affekteer nie hoe goed hierdie verspreider werk nie. 

In ons leef-area

In die dag sit ek graag die verspreider aan in ons leef-area, ek wissel tussen suurlemoen- en sitroengras- (lemongrass) essensiële olies. Dit laat die hele huis vars en skoon ruik, en laat my sommer energiek voel na ’n laat nag se werk.

In my dogtertjies se kamer

Saans as dit badtyd is vir my dogtertjies sit ek solank die verspreider in hul kamer aan, (terwyl hulle nog bad) en die kamer vul met geure van laventel- en Romeinse-kamille (Roman Chamomile) essensiële olies.

Teen die tyd wat ons hul aantrek en gereed het vir slaaptyd ruik die hele kamer lieflik en die geure het spesifiek ’n kalmerende effek op die twee besige lyfies.

Ek hou veral van die liggie op die verspreider en gebruik dit sommer as ’n nagliggie vir die dogtertjies se kamer, dit is nie te helder nie maar maak tog genoeg lig om in die donker ’n fopspeen te vind.

Essensiële olie-verspreider wenke

  • Maak altyd seker daar is water in. Die water hou taamlik lank en soms vergeet ’n mens daarvan.
  • Wees versigtig om nie te veel essensiële olie in te gooi nie, begin eerder met te min as te veel. Ek het al gevoel of ek hartkloppings kry nadat ek te veel druppels bygegooi het. So ses tot 12 druppels per 200ml word aanbeveel deur Cara MacCallum van SOiL Organic Essential. Die grootte van die vertrek speel egter ook ‘n rol.
  • Maak die verspreider gereeld skoon. 
  • Vir slaaptyd is die beste olies om te kies Jasmyn- (strelend en kan ook verleidelik wees), laventel- (verminder angstigheid en verbeter slaap, maar te veel kan jou te energiek laat voel!), kamille- (chamomile) (maak jou lomerig en kalm) en roos- (laat jou rustig voel en romanties voel).  
  • Vir jou tuiskantoor is vars sitrusgeure (soos sitroengras) ’n goeie keuse. Peperment help met fokus, konsentrasie en meer energie.  
  • “Gebruik jou verspreider sleg so 30-60 minute op ‘n slag, langer as dit kan oorweldigend word,” sê Cara MacCallum van SOiL Organic Essential. 

Lees ook Kan essensiële olies help vir slaaploosheid en angs

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
Moedersdag geskenk-idees van Clarins
error: Content is protected !!