Justine het onlangs ’n eilandvakansie geniet en het dit goed gedink om te deel wat sy ingepak en saamgeneem het. Lees meer oor al die gunstelingskoonheidsprodukte en onlangse modekopies wat dit tot in Mauritius gemaak het. Deur Justine Kroes
20/10/23
In my skoonheidsmuktassie
Grimering
Toe Clarins onlangs vir ons die pragtige nuwe beperkte uitgawe Summer Collection reeks gestuur het, het ek dit mooi eenkant gespaar want ek het eenvoudig net geweet dit moet saam gaan met vakansie.
Die verbronser is amper te mooi om te gebruik en bevat 3 pragtige skakerings. Ek het saans voor aandetes die verbronser gebruik om my wangbene te beklemtoon, my gesig is heelwat ligter in kleur as die res van my lyf, wat gehelp het om kleur terug te besorg aan my gesig en natuurlik vir daardie ekstra tikkie songesoende glans. Ek hoop hierdie kompak hou vir ewig!
Hou grimering hou
Daardie tropiese humiditeit is omtrent iets om aan gewoond te raak, en hoe dankbaar was ek nie vir hierdie nuwe Clarins Fix’ Make-Up Summer Collection (R540) sproei nie! Ek het ’n aand vergeet om dit aan te spuit en kon duidelik sien watter verskil dit gemaak het aan my grimering se houkrag teen die einde van die aand. Die sproei het my grimering laat hou en hou en boonop het my gesig nie ekstra blink geword in die hoë humiditeit nie.
Die pragtige botteltjie is lekker klein en ek dra dit nou sommer in my handsak rond om my grimering deur die loop van die dag te verfris.
Songesoende lippe
Hierdie Clarins lip-olies is altyd ’n gunsteling en dit was perfek om in my strandsak te hou – die lip-olies het gesorg dat my lippe heeldag lank gehidreerd bly en dit gee die mooiste subtiele kleur aan my lippe. Ideaal vir daardie geen grimering (maar steeds grimering) voorkoms.
Die tekstuur is fantasties, amper iets wat jy nie verwag nie, gladnie taai nie en wend soos ’n droom aan!
Vakansiegeur
Wanneer ek met vakansie gaan, neem ek altyd ’n nuwe parfuum saam. Op hierdie manier assosieer ek dan daardie fyngeur met die vakansie, en elke keer wat ek dit daarna aanwend, is dit asof daar ’n klompie herinneringe van die vakansie by my opduik!
NUXE Huile Prodigieuse® Florale was my keuse. ’n Vrolike, vars blommegeur. Jy ruik vars sitrusgeure (pomelo, bergamot en suurlemoen), blomme (magnolia en lemoenbloeisels) en muskus. Die ideale eiland fyngeur!
NUXE Prodigieux Floral le parfum (R1 095 vir 50ml orleanscosmetics.co.za)
Sonbeskerming
Ek is maar partykeer lekker lui om sonroom EN grimering aan te wend, daarom is ’n getinte sonroom so handig, veral op ’n swem en see vakansie waar jy juis nie baie grimering wil dra nie.
Ek gebruik letterlik ’n druppel van hierdie getinte sonskerm (die tekstuur is lig en wend lieflik aan). Heliocare se 360 Color Gel Oil Free sonroom is al lank ’n gunsteling in my skoonheidskas en ek dra dit ook graag wanneer ek gaan hardloop.
Nadat Suzanne genoem het dat sy nie een keer gebrand het op haar seevakansie toe sy die Heliocare 360 kapsules (R665) gedrink het nie, het ek geweet ek moet dit eenvoudig probeer! Die kapsules bevat Fernblock, ’n bestanddeel wat jou vel natuurlik teen die son beskerm en is boonop propvol anti-oksidante.
Ek het daagliks een van die kapsules gesluk en kan beaam dat dit fantasties werk, ek was baie in en uit die water van swem tot snorkel en het nie een keer gebrand nie.
Vir die hele gesin
Met ’n gesin vol sensitiewe velletjies bly die Eau Thermale Avène Intense Protect 50+ (R395) ’n gunsteling om te gebruik. ’n Breëspektrum sonskerm wat jou vel beskerm en geskik is vir almal, van babas tot grootmense en selfs swanger vroue. Dit is die ideale familiesonskerm. Lees gerus meer oor familiesonskerm en sonskermwenke vir jou gesin hier.
Ek gaan feitlik nêrens sonder ’n botteltjie Eau Thermale Avène Thermal Water (R107 vir 50ml) nie, daar is een langs my bed, in my kar, in my reissak en natuurlik in my strandsak. Ek het gereeld na luilekker swemsessies my vel hiermee verfris of selfs net om af te koel terwyl ek langs die swembad lê.
Mode moet-hê’s
Swembroek
Ek het kort voor ons eilandbesoek hierdie pragtige swembroek by Poetry gekry. ’n Gemaklike swembroek waarin ek kon swem, snorkel (en selfs water aerobics in doen, mind you!).
’n Vleiende snit (en hy maak die boude ordentlik toe!) in een van my gunsteling groen skakerings.
Loer net hier na die ander swembroeke waarvoor ek nou wil teruggaan!
Sarong/ oorvou-romp
Ek was lank op die uitkyk vir ’n romp of sarong wat by al my swembroeke sal pas, iets neutraals wat maklik kan aan en af vir swem. Ek het amper moed opgegee totdat ek verby Exact geloop het en hierdie oorvou-romp in die venster sien hang het (die romp is ook in ‘n pienk weergawe beskikbaar).
Dit was nou ’n handige sakpaskopie, wat ek selfs nou met ’n T-hemp en tekkies kan dra terug op die vasteland.
Gemaklike skoene
My Havaianas bly my “strandsandaal” van keuse (kaalvoet loop was nog nooit my gunsteling aktiwiteit nie!), hierdie goue skakering het ek nou al vir ’n tweede keer aangeskaf, dit pas feitlik by als.
Netjiese aanglipsandale vir aandetes was ook ’n moet en die twee pare het saamgekom.
Helder somerrokke vir aandetes
Die manne se kleredragkode vir aandetes was kraaghemde en toe skoene. Ek het natuurlik hierdie geleentheid gebruik om al my dopamienmode en kleurvolle rokke wat ek nie naastenby genoeg dra nie in te pak (met een of twee nuwe kopies by!)