Voel jou vel ekstra droog, styf of jeukerig gedurende die winter? Hialuroonsuur as ’n velsorgbestanddeel kan hiervoor help. Jy het waarskynlik al van die gewilde bestanddeel gehoor of gelees, maar weet jy hoe dit werk of wat dit vir jou vel doen? Deur Suzanne Kotzé
18/06/2022
1. Hialuroonsuur kom natuurlik in ons velle voor
Ons velle is saamgestel uit elastien, kollageen en hialuroonsuur.
Hialuroonsuur (of hyaluronic acid en uitgespreek hiya-loo-ron-nick in Engels) word deur ons fibroplaste gemaak. Dit kom tussen ons velselle (die ekstra-sellulêre matriks genoem) voor. Dit is ’n dik skuim rubberjel waarin kollageen (die boustruktuur van ons vel) en elastien (wat ons velle rekbaar maak) ook ingebed is.
2. Dit word al hoe minder soos ons ouer word
Saam met kollageen en elastien word dit egter al hoe minder soos ons ouer word. Omgewingsfaktore soos besoedeling en sonblootstelling dra natuurlik ook by tot die vermindering. Op 25 is hialuroonsuurvlakke gewoonlik nog 100%, op 45 sowat 45% en op 60 word slegs 25% vervaardig. Geen wonder ons velle word droeër en minder soepel soos ons verouder nie
3. Hialuroonsuur is soos ’n glas water vir jou vel

Dink aan hialuroonsuur as ’n glas water vir jou vel wanneer jy baie dors is. Een van die groot redes waarom dit so ’n gewilde bestanddeel is, is omdat dit ’n bevogtiger (humectant) is. Bevogtigers trek watermolekules aan en verbind daarmee. Juis hierom is hialuroonsuur dikwels ’n bestanddeel in watergebaseerde serums en rome. Dit is is egter nie sommer enige bevogtiger nie, maar een wat tot ’n duisend keer sy eie gewig in watermolekules kan hou. Geen wonder hierdie superbevogtiger word konstant deur velsorgterapeute gedurende die winter aanbeveel nie.
4. Dit plomp ook jou vel op
Hialuroonsuur plomp ook jou vel op. Dink gerus aan hoe ’n droë spons lyk, versus een wat vol water is. So ook lyk ’n goed gehidreerde vel plomper.
5. Kanse op irritasie is min
Omdat dit natuurlik in ons liggame (vel, oë en litte) voorkom is kanse op irritasie min.
6. Hialuroonsuur inspuitings
Estetiese dokters gebruik ook mikro-naaldering of inspuitings om hialuroonsuur dieper in jou vel te spuit. Die meeste vullers wat dokters inspuit is deesdae van hialuroonsuur gemaak aangesien dit help om volume te skep en die vel op te plomp.
7. Dit kan ook as ’n dieetaanvulling geneem word
Volgens studies kan aanvullings met hialuroonsuur ook help om jou vel van binne te bevogtig.
8. Die grootte maak saak
Hoe groter die molekule hoe kleiner die kans dat dit jou vel sal deurdring. Om ’n produk wat verskillende grootte molekules bevat wat op verskillende lae van die vel werk te gebruik is hierom meer voordelig.
9. Dit is ook goed vir mense met dermatitis

Mense met dermatitis (ekseem) se sperfunksie is beskadig, wat veroorsaak dat die vel se natuurlike vog ontsnap. Juis daarom is ekstra hidrasie nodig en hialuroonsuur is ’n goeie keuse omdat dit nie sensitiwiteit veroorsaak nie. ’n Wetenskaplike studie het juis gewys dat hialuroonsuur goed werk hiervoor. Maak net seker geen van die ander bestanddele in die produk is ander irritante soos alkohol of parfuum nie.
10. Jy mag dalk nie die naam op die bestanddelelysie sien nie.
Gewone hialuroonsuur is te groot om jou vel te penetreer en daarom sal jy dit nie op ’n bestanddelelysie sien nie. Die name om voor uit te kyk is:
Sodium hyaluronate (die sout van hialuroonsuur.) Dit is ’n kleiner molekule as hialuroonsuur wat die boonste lagie van die vel kan deurdring.)
Hydrolized Sodium Hyaluronate is nog kleiner as hyaluronate en kan die vel dieper binnedring.
11. Jy moet dit saam met ’n versagmiddel (emollient) gebruik
Hialuroonsuur werk goed saam met versagmiddels soos seramiedes of bestanddele soos niasinamied of peptiedes. As jy byvoorbeeld ’n hialuroonsuur serum gebruik wat geen versagmiddels by het nie, is bevogtiging na die tyd ’n moet om jou vel te seël.
12. Wend dit op ’n klam vel aan
Wend jou serum of bevogtiger op ’n effense klam vel aan. Dink aan reën wat op droë woestyngrond val (en afrol), versus reën wat op klam grond val.
Produkte wat hialuroonsuur bevat






Institut Esthederm Intensive Hyaluronic Serum. Lees meer hier