droë swem-hare
droë swem-hare

Droë swem-hare

Te veel tyd in die swembad kan droë swem-hare veroorsaak. Hier is raad om dit te voorkom en te behandel. En werk tamatiesous regtig teen groen hare?. Deur Suzanne Kotzé

Ek swem gedurig. Soms op my eie, maar meestal saam met my kinders en hond. Nes ek dink ek het klaar geswem vir die dag, roep iemand, “Mamma, sal jy saam met ons swem?”. Al die tyd in die water veroorsaak dat my hare droog word. Ek moet binnekort ligstrepies laat insit en ek weet bleikmiddel en droë, beskadigde hare is nie ’n goeie kombinasie nie. So ek is verplig om dringend aandag aan die probleem te gee en het dus ondersoek gaan instel en produkte getoets. 

Wat veroorsaak droë swem-hare?

Chloor hou ons swembaddens skoon deur onder andere vuiligheid, olie en bakterieë af te breek en te verwyder. Die chloor verwyder egter ook die olie op jou kopvel (wat ons hare teen natuurlike skade beskerm en bevogtig). Dit veroorsaak dat hare droog, meer porieus en breekbaar word. 

Hoe voorkom jy droë swem-hare en dat chloor jou hare beskadig?

Voordat jy swem

  • Maak jou hare met kraanwater nat voordat jy swem. Hierdie is een van die beste wenke wat ek lank gelede nog by Shelene Shaer van Tanaz Hair gekry het. Jou hare is soos ’n spons en as dit klaar vol kraanwater is, sal dit minder swembadwater kan absorbeer.
  • Wend ’n produk aan wat jou hare beskerm teen chloor en son. Hair Rituel by Sisley Protective Hair Fluid (R1500, beskikbaar by uitgesoekte Edgars en Woolworths winkels) vorm ’n beskermende lagie oor jou hare wat jou hare nie net teen chloorwater beskerm nie, maar ook teen UV-strale. Dit is veral goed vir die van ons met gebleikte hare. My hare voel beslis sagter vandat ek hierdie op my droë hare begin aanspuit het. Omdat ek daagliks swem, los ek dit op my spieëltafel en spuit dit sommer elke oggend aan. Vandat ek dit begin doen het, is my hare beslis sagter. En my botteljie hou al lank. Jy het nie te veel nodig nie. 
Hair Rituel by Sisley Protective Hair Fluid R1500
  • Ek wend soms opknapper aan my droë hare voordat ek swem. Dit help ook, maar ek weet nie hoe goed dit vir die swembad is nie, want soms verbeel ek my die swembad lyk effe melkerig en dof. (Ek maak maar of ek niks weet as my man kla oor die swembad wat alweer so lyk nie)
  • Gebruik ’n swemkep. ’n Silikoon swemkep werk glo die beste. Ek hou niks van swemkeppe nie, maar as jy dit kan verdra, gebruik een. 

Na die tyd

  • Spoel jou hare met kraanwater af sodra jy uit die swembad kom. Al is dit onder die buitekraan as jy eers buite wil droogword. 
  • Was jou hare met sjampoe nadat jy geswem het, dit help om van die chloor ontstlae te raak. 
  • Bevogtig jou hare nadat jy dit gewas het met ’n opknapper. 

Schwarzkopf Gliss Hair Repair Bio-Tech Restore Rich Shampoo en Conditioner (R76,99 vir 400ml elk) ruik heerlik (danksy rooswater) en is vir beskadigde hare wat vatbaar vir skade is. Dit laat jou hare heerlik sag voel. 

Schwarzkopf Gliss Hair Repair Bio-Tech Restore Rich Shampoo en Conditioner (R76,99 vir 400ml elk)

Wat kan jy doen aan droë, swem-hare?

Jou hare voel waarskynlik strooierig en lyk kroes (veral op die punte). My blonde hare is ook geneig om meer geel te lyk as ek te veel swem sonder om voorsorg te tref. 

Pers sjampoe vir geel hare

  • As jou hare geel- of oranjeblond geword het, help ’n pers sjampoe om die kleur te neutraliseer. Sommige pers sjampoes is egter nie bevogtigend nie, maak dus seker jy gebruik ’n bevogtigende opknapper na jou was. En los die pers sjampoe vir so twee minute aan jou hare. Skeer solank jou beenhare terwyl jy wag. 

Bevogtig, bevogtig, bevogtig

Gebruik maskers en behandelings wat bevogtig. Maak net seker jy spoel dit goed uit na die tyd. Van die beste raad wat ek al gekry het as dit by opknapper, maskers en behandelings kom is: “As jy dink jy het genoeg afgespoel, spoel weer.”

Schwarzkopf Professional Bonacure Hyaluronic Moisture Kick Treatment (R399) gee wonderlike bevogting; dit is amper soos ’n velsorg-masker vir jou hare.  My hare voel beslis blinker en sagter nadat ek dit gebruik het.  

Schwarzkopf Professional Bonacure Hyaluronic Moisture Kick Treatment (R399)

Inoar Lotus Flower Super Ampoule (R500 vir 45ml) ruik natuurlik hemels danksy die lotusblom. Die behandeling help om jou hare te bevogtig en minder droog te maak en verseël ook jou haarvliesies. Die behandeling het my hare baie sag en glad laat voel. Ek gebruik dit slegs wanneer ek ekstra sorg nodig het, want dit laat my hare (ek het glo baie, maar fyn hare) effens te reguit en swaar voel. Wanneer my hare egter droog voel en ekstra hidrasie benodig is dit wonderlik. Dit is ook die perfekte grootte vir reis.

Inoar Lotus Flower Super Ampoule (R500 vir 45ml)

Laat kroes- en droë hare beter lyk deur ’n olie aan te smeer voordat jy jou hare droogblaas of as ’n inbly bevogtiger. 

As jy nie van olie hou nie, sal jy soos ek gaande wees oor Authentic Beauty Concept Indulging Fluid Oil (R580 vir 100ml). Dit voel glad nie soos olie nie, daar is nie eens ’n olierige lagie op jou hande na die tyd nie. Dit ruik wonderlik en bevat geen parabene of silikoon wat jou hare kan laat paphang nie. 

Authentic Beauty Concept Indulging Fluid Oil (R580 vir 100ml)

Minder hitte-stilering

Gee jou hare ’n ruskans van droogblaas en hittestilering. Laat jou hare soveel moontlik natuurlik droog word. 

Vra jou stilis se raad

As jy sukkel met droë swem-hare en jou hare in ’n baie slegte toestand is, is dit beter om jou haarstilis te raadpleeg. Soms is knip die enigste uitweg. Veral as jy droë, gesplete punte het.


Wat van hare wat groen geword het?

Hierdie is nie chloor se skuld nie, maar koper wat in meeste water voorkom. My hare het al groen geword nadat ek in ’n rotspoel in die berg geswem het! Chloor en koper saam kan egter meer geneig wees om jou hare groen te maak.

Werk tamatiesous hiervoor? Ja dit werk. Jy ruik vir ’n ruk soos ’n boereworsrol, maar dit werk. Smeer tamatiesous aan jou hare (amper soos ’n masker) en draai jou hare met kleefplastiek toe en wag so ’n halfuur voordat jy dit afspoel. 

Lees ook: 20 Beste wenke vir fyn hare

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
Nat na droë reguit hare met die ghd Duet Style
error: Content is protected !!