Oefening en jou vel is nie noodwending beste maats nie, veral as jy geneig is om puisies te ontwikkel of met rooiheid te sukkel.
Hardloop is my terapie, en hoewel gereelde oefening goeie voordele inhou, is daar ook soms negatiewe effekte soos puisies of velsensitiwiteit waarmee ek sukkel. Ek deel die goed en die sleg van oefening en my vel en dermatoloog dr. Suretha Kannenberg deel haar wenke vir oefening en vel. Daarby ook die moet-hê produkte wat ek werklik gebruik. Deur Justine Kroes.
Oefening en jou vel: Hoekom is dit goed?
1. Verlaag spanning
Het jy geweet oefening help om spanning te verlaag en kan sodoende chroniese veltoestande soos psoriase verbeter.
Ek voel werklik meer gespanne en moeg op dae wat ek nie oefen nie!

2. Glansende vel
Oefening moedig bloedvloei aan wat help om jou vel te voed. Hierdie verhoogde sirkulasie kan help dat jou vel meer glansend lyk.
3. Detoksifikasie
Behalwe dat bloedvloei suurstof deurgee na jou velselle, help dit ook om gifstowwe en vrye radikale weg te voer. Oefening ontgif egter nie jou vel nie, want dit is jou lewer se taak. Vermeerderde bloedvloei help egter om sellulêre oorblyfsels uit jou sisteem te spoel. Dit is amper soos om jou vel van binne na buite te reinig.

Oefening en jou vel: Hoekom is dit sleg?
1. Verstopte porieë
Wanneer ek hardloop is dit gewoonlik vir langer as ’n uur, wat natuurlik oormatige sweet (veral op my gesig) beteken. “Oormatige sweet tydens oefening dra by tot verstopte porieë wat puisies kan veroorsaak” verduidelik dermatoloog Dr. Surethe Kannenberg.
As jy weet jy gaan oefen en baie sweet: “Gebruik ligte produkte soos serums of jelrome, dit mag dalk gemakliker aan wees as ’n room. Vermy swaar okklusiewe produkte en hou by sagte reinigers, nie-komedogeniese bevogtigers en produkte wat jou vel streel en rooiheid verminder na oefening.
2. Gedehidreerde vel
Oefening kan jou vel dehidreer; maak seker jy neem genoeg vog in. Gebruik ’n hidrerende serum die aand voor jy oefen (as jy soggens oefen) of die aand na oefening (as jy laatmiddag of saans oefen). Ek smeer soms serum of ’n ligte jelroom aan voor oefening, want dit hidreer steeds jou vel, sonder dat dit jou sweterig laat voel soos wanneer jy vogroom aansmeer voor oefening.
3. Kan ekseem vererger
Oefening met sweet en hitte vererger jeuk, wat tot meer inflammasie kan lei en sodoende jou ekseem vererger.
My gunsteling wenk: hou hidrerende watersproei in jou kar of gimsak en spuit jou gesig direk ná of tydens oefening hiermee om af te koel.

Justine se oefen velsorgroetine:
So lyk my velsorgroetiene om puisies te beheer en velveroudering aan te spreek terwyl ek steeds my gesig gehidreerd hou met produkte wat my vel streel.

Gesigsproei:
Ek gebruik dadelik na oefening Avène Thermal Spring Water (R120 vir 50ml Demastore) om rooiheid te verminder en my vel te streel. Die watersproei is al jare lank ’n gunsteling. Ek hou sommer een in my kar se deur, ’n kleintjie in my handsak en het nog ’n bottel byderhand wanneer ek grimering aanwend.
Die watersproei versag die vel, kalmeer irritasies en herstel die vel se beskermingslaag. Hierdie water is ’n veelsydige produk vir verskeie veltoestande en is boonop teenwoordig in al Avène se produkte.

Ek gebruik dit verder om rooiheid te verminder na oefening, inflammasie van puisies te streel, ook om my vel te hidreer.
Ek gebruik dit selfs as ’n voorbereidingsproei wat my gesigroom beter laat aanwend, en om my grimering te verfris deur die loop van die dag. Jy kan dit ook gebruik vir vel wat jeuk en is sag genoeg om op babas en kleuters te gebruik, pssst mamas hierdie watersproei streel brandboude soos jy nie kan glo nie!
Gesigwas:
Dr Kannenberg verduidelik, “dit is belangrik om direk na oefening jou gesig te was met ’n sagte gesigwas, en moet nie vergeet om direk daarna jou vel te hidreer nie asook jou sonskerm aan te wend nie”.

Ek gebruik graag die Avène Cleanance Cleansing Gel (R290 vir 200ml Dermastore)
Hierdie gesigwas bevat die gepatenteerde Comedoclastin™ kompleks, gemaak van mariadistel-ekstrak wat help om jou vel se olievlakke te beheer. Dit keer ook dat velselle ophoop en jou porieë verstop.
Hierdie gesigwas bevat boonop Avène se ikoniese bronwater, wat die vel kalmeer en streel. Dit is seepvry, maar bevat ’n ligte geur.
My vel voel nie styf en droog na was nie, maar eerder vars skoon, gehidreerd en soepel.
Sagte afskilferaar:
Indien jy puisies ontwikkel, kies produkte wat sagkens afskilfer. Gebruik ’n sagte afskilferingsproduk (verkieslik met fyn korreltjies of ensieme) een tot twee keer per week, is Dr Kannenberg se raad.

Die Avène Cleanance AHA Exfoliating Serum (R570 Dermastore) is my sagte afskilferaar van keuse. Hierdie serum bied ’n kragtige maar sagte oplossing vir sensitiewe velle wat met puisies en swartkoppies sukkel. Bestanddele melksuur (lactic acid) en suksiniesuur (succinic acid), skilfer sagkens die vel af om die tekstuur gladder te maak, donker merke aan te spreek en puisies te verminder. Glutamiensuur help om oortollige olie te beheer, wat die vel helderder en meer gebalanseerd laat lyk.

Dit verfyn die vel se tekstuur en verminder puisies en swartkoppies sonder om my vel te irriteer.
Gesigroom:
Ek verkies ’n ligte bevogtiger om mee te oefen nes Dr Kannenberg voorstel.

Eau Thèrmale Avéne Cleanance Comedomed Concentrate (R400 Dermastore) bevat ook die spesiale gepatenteerde bestanddeel (Comedoclastin ™) wat sigbare en onsigbare puisies teiken. Dit help om sebum te reguleer en beperk die verspreiding van selle.
Ek hou veral van die room se jelroom formule en dit voel glad nie olierig nie. Dit hidreer die vel en laat dit mat vertoon.
Moet-hê room vir puisies

Ek het die nuwe Eau Thèrmale Avéne Cleanance Comedomed Peeling Cream (R329,95 Clicks) gebruik toe my puisies effens buite beheer geraak het, danksy ’n onlangse halfmaraton en oormatige sweet. Binne drie dae is my puisies minder seer weens verminderde inflammasie en minder sigbaar en teen dag 5 was my puisies byna onopsigtelik.

Hierdie intensiewe “spot cream” is ontwerp vir aktiewe veltoestande met ’n maksimum behandelingsfase van 15 dae. Dit bevat wonderlike aktiewe bestanddele soos Retinol (’n vorm van retinoïed), glikoliese suur (’n AHA vir afskilfering wat help om dooie velselle te verwyder), en Comedoclastin™ (Avène se gepatenteerde formule wat verstopte porieë en sebumbeheer teiken).

Ek gebruik dit steeds om puisies onder beheer te hou, en wend dit dadelik aan daar waar ek ’n puisie sien of voel ontwikkel.
Dr. Kannenberg se praktyk is in Durbanville, Kaapstad, maar jy kan ook ’n aanlynkonsultasie met haar doen. Klik hier: dr.derma.co.za





