Ses redes waarom jy gesonder wíl eet – en nie een van hulle is gewigsverlies nie! Wat die skaal sê, is beslis nie die enigste maatstaf vir gesondheid nie. Deur Liezel Engelbrecht, geregistreerde dieetkundige
Gewigsverlies is dikwels ’n groot dryfveer vir mense om gesonder te begin eet. Daar is egter baie mense wat volgens hul liggaamsmassa-indeks (LMI) in die “gesonde gewig” kategorie kan val. Van hierdie mens egter dalk eetgewoontes wat steeds skadelik kan wees vir hulle gesondheid. So ook is daar baie mense wat dalk buite die “gesonde gewig” kategorie val, maar uitstekende bloedresultate en energievlakke het.
Wat die skaal sê is dus beslis nie die enigste maatstaf vir gesondheid nie. Gewig en LMI (wat die ideale speling vir ons gewig aandui op grond van ons lengte, vir mans en vroue onderskeidelik) is maar net twee van die talle aanwysers van gesondheid.
Dit neem egter nie faktore soos spiermassa, beendigtheid, bloeddruk, bloedglukose, cholesterol, geestesgesondheid, intellektuele skerpheid, of energievlakke in ag nie. ’n Gebalanseerde dieet wat al die nodige makro- en mikrovoedingstowwe bevat, kan voordele vir al dié aanwysers inhou.
Ses redes waarom jy gesonder wíl eet
Hier is nog ’n paar nie-gewigsverwante voordele daaraan om gesonder te begin eet (as jy dalk vermoed jou eetgewoontes benodig ’n aanpassing), maar sukkel om jouself te motiveer:
1. Voordele vir jou geestesgesondheid
’n Mediterreense-tipe dieet (een wat kenmerkend ryk is aan plantgebaseerde kos soos volgrane, peule, groente en vrugte; en rooivleis en verwerkte kos slegs in matigheid), kan ’n belangrike rol speel in jou geestesgesondheid. In ’n sistematiese oorsig en meta-analise van verskeie studies het ’n groep navorsers bevind dat ’n gesonde dieet (veral ‘n tradisioneel-Mediterreense dieet), of die vermyding van ‘n pro-inflammatoriese dieet (een wat tipies hoog in suiker en verwerkte kos is) waarskynlik ’n mate van beskerming kan bied teen depressie.
’n Gesonde dieet kan waarskynlik ’n mate van beskerming kan bied teen depressie.
Nóg ’n studie (genoem die SMILEs-studie) het ’n verbetering in simptome van depressie onder depressielyers gesien ná 12 weke op ’n aangepaste Mediterreense eetplan, gepaardgaande met voedingsopvoeding- en berading. Die deelnemers het ‘n gemiddelde ouderdom van 40 gehad, wat ’n lae kwalititeit dieet gevolg het met die aanvang van die studie. Hulle is vergelyk met ’n kontrolegroep wat in dieselfde tydperk slegs gereelde maatskaplike ondersteuning ontvang het. Hoewel die studie klein was (67 deelnemers) word dit as aansporing beskou om die potensiaal vir dieet-intervensies in die behandeling van depressie verder te ondersoek
2. Meer omgewingsvriendelik
Deur meer onverwerkte kos afkomstig van plante en minder vleis te eet, kan jy bydra to die planeet se volhoubaarheid. Die wetenskap-gebaseerde EAT Lancet-verslag wat in 2019 verskyn het, wys hoe ’n dieet waarin dierproteïen verminder en meer plantkosse (soos groente, peule, grane, neute en vrugte) ingesluit is, terselfdertyd goed is vir ons gesondheid asook die planeet kan help red.
3. Verminderde kosvermorsing:
In Suid-Afrika word ongeveer 30% van alle voedsel wat ons produseer, vermors!
Dié vermorsing kan onder meer toegeskryf word aan kos wat weggegooi word, verwerking, verspreiding en verpakking. Deur plaaslike kosprodusente te ondersteun en meer onverwerkte en onverpakte kos te koop kan jy help om kosvermorsing te verminder en tien-teen-een self ook gesonder begin eet. (Onthou net om altyd jou kos te was voordat jy dit eet!) Deur kos gaar te maak voordat dit bederf en te vries om later te eet, kan dit jou verder help deur gesonde, tuisgemaakte etes te verseker op daardie deurmekaar-dae!
4. Spaar geld
Probeer minstens drie dae per week maaltye tuis voorberei, en maak sommer genoeg sodat daar oorskiet is vir die volgende dag se middag- of aandete. Tuisgemaakte kos is dikwels minder verwerk, minder energie-dig, hoër in vesel en veel goedkoper as klaargemaakte-, of wegneemetes.
5. Spaar tyd
As jy maaltye en versnaperinge beplan vir die week wat voorlê, en daarvolgens ’n inkopielys maak, verminder jy die aantal kere wat jy winkels toe moet gaan. Dit is beslis veiliger tydens die pandemie waarin ons is. Jy spaar ook tyd, wat jy eerder kan gebruik vir selfversorging, oefening of tyd saam met die kinders deurbring. So verminder dit ook die geleenthede om produkte op die ingewing van die oomblik te koop wat nie inpas by jou lewenstyldoelwitte nie.
6. Verminder risikos van sekere siektes:
Soos vroeër genoem, kan ’n gebalanseerde dieet en eetpatroon verbind word aan voordele soos gesonde bloeddruk, verbeterde energie, goeie cholesterolvlakke en verbeterde bloedsuikerbestuur. Dit kan egter ook help om slaap te verbeter en hardlywigheid te voorkom. Dit word weer verbind aan ’n verminderde risko vir leefstylsiektes soos tipe 2 diabetes, hartsiektes en kanker.
Klink dit nie na veel beter motivering om gesond te eet as net om in ’n kleiner broekgrootte in te pas nie?
’n Gesonde liggaam en ’n gesonde gees kan lewenskwaliteit verbeter, en wat ons eet en drink kan beslis help om ons lyf en verstand tot hul volle potensiaal te laat funksioneer.
Onthou egter dat daar baie ander faktore is wat die aanvang van siektes en lewenskwaliteit beïnvloed, en waaroor ons nie beheer het nie. Moenie dat enige tipe kos (gesond of minder gesond), of die skaal, jou lewe so beïnvloed dat dit jou van lewenskwaliteit ontneem nie.
Vrywaring: Hierdie hulpbron is slegs vir opvoedkundige doeleindes en kan nie ’n individuele assessering of behandeling deur jou dokter of dieetkundige vervang nie.
ADSA is die Vereniging vir Dieetkundiges in Suid-Afrika. Besoek www.adsa.org.za om dieetkundiges in jou omgewing op te spoor.
Liezel Engelbrecht is ‘n geregistreerde dieetkundige van Kaapstad. Besoek www.liezelthedietitian.com of volg @LiezelTheDietitian op Facebook of Instagram vir meer inligting.
Lees ook: Gesonde eetgewoontes; ‘n dieetkundinge se top drie wenke